Daar is ’n stemmestryd binne–in elkeen van ons. Ongelukkig is ons intuïsie baiekeer onherkenbaar, sê die transformasielewensafrigter CELESTE DU TOIT.
Daar is ’n ou Cherokee-volkslegende van twee wolwe wat in ’n struweling betrokke is. Een wolf is gevul met empatie, vrede, liefde en vertroue. Die ander is vol wantroue, kwaad, bitterheid en negatiwiteit.
Dis ’n metafoor vir die innerlike stryd wat ons voer. Die vraag is: Watter wolf kry die oorhand?
Baie mense erken hulle is uit voeling met hulle intuïsie, of bang om dit te vertrou.
Die meeste van ons hoor dit eenvoudig nie. Die ander “stem” – valse oortuigings, persepsies en negatiewe denke – oorheers en vertel ons gedurig ons is nie goed genoeg nie en dat ons drome nie waar sal word nie.
Dis ook die stem wat sê dat bevestiging en antwoorde buite onsself lê; wat vergelyk; wat ons wysheid afkraak; en behep is met dít wat ander dink.
Soms beteken dit ons moet jare se kondisionering afleer. Ons moet as’t ware afskakel, sodat ons ons intuïsie en innerlike wysheid kan hoor.
Daar is verskeie maniere waarop jy jouself weer vir jou binnestem kan oopstel.
Wanneer jou intuïsie nie vir jou sin maak nie, vra: Is daar ’n ander manier om na die situasie te kyk?
Jy kry ’n bevlieging om iets te doen, en twyfel dan as dit nie in die raamwerk van jou rasionele denke inpas nie. Óf jy dink dis te vergesog of te toevallig. Verwagtings kan jou beperk, en afsluit van intuïtiewe moontlikhede.
Deur hierdie vraag te vra, maak jy jou meer ontvanklik vir jou eie wysheid.
Leef meer bewustelik en fokus op wat jy kan hoor, sien, proe, ruik en voel.
Leer om weer jou aanvoeling te vertrou
Baie mense slaapwandel deur die lewe. Ons is glad nie bewus van wat om ons gebeur nie. Ons wil ’n sesde sintuig ontwikkel, maar gebruik nie eens die vyf wat ons het nie! Geen wonder ons hoor nie daardie stemmetjie nie.
Leer om stil te raak, beoefen meditasie. Waak teen die eksterne stem wat dadelik antwoord: “Ek kan nie mediteer nie!”
Begin om doelbewus subtiele tekens raak te sien, veral dié wat gereeld herhaal. Onthou, daardie stemmetjie van innerlike wysheid mag dalk verborge wees, maar hy is vasbeslote; hy hou gewoonlik aan tot hy aandag kry!
Leer om te oorweeg, sonder om dadelik te reageer. ’n Reaksie is gewoonlik ’n antwoord op ’n eksterne stimulus, soms nodig (soos in geval van oorlewing, “veg of vlug”), maar meestal onnodig.
Dit is hoekom die outydse “tel tot 10” soms werk. Dit gee die eksterne stimulus kans om sy oorhand te verloor.
Reaksie is ’n impuls (of bevlieging), intuïsie is iets dieper. Die stemmetjie van intuïsie sal ook gewoonlik aanhou neul, totdat jy luister.
Die hol kol op jou maag, die ongemaklikheid in jou keel, die fladdering in jou bors – dit is hoe jou innerlike stem en wysheid met jou praat. Leer om aandag daaraan te gee, voordat die wasmasjienbrein dinge begin ooranaliseer.
Gebruik wel jou brein, maar moenie dat hy jou gebruik nie.
Jy mag maar! Koester die konneksie met jouself. Baie van ons sukkel om ander te vertrou, gaan selfs vir terapie daarvoor, maar het verleer om onsself te vertrou.
Let op hoe gereeld jou aanvoeling reg is. Jy konsentreer te veel op hoeveel keer jy verkeerd mag wees, en raak later bang om jouself te vertrou.
O ja, watter wolf wen toe? Die een wat gevoer word.