Vernuwe jou denke en leef met nuwe doelgerigtheid. LAETITIA DEE wys hoe bewuste denke jou lewe kan transformeer en jou help om jou volle potensiaal te bereik.
Hoe jy dink is die produk van jou ervarings
’n Nuwe lewe is moontlik deur die vernuwing van jou gedagtes. Om hierdie verandering te ervaar, moet jy egter doelbewus wees in jou denkwyse.
Elke mens het al ’n oomblik gehad waar jy wonder hoekom jy optree soos jy optree. Hoekom jy redeneer soos jy redeneer. Jy wonder soms waar jou persepsies vandaan kom. Waarom jy sulke sterk opinies het oor sekere situasies of gebeure in jou lewe.
Jou huidige denke en uitkyk op die lewe is die produk van al die geluk en teleurstelling wat jy al in jou lewe ervaar het.
Uiteindelik sien jy die lewe deur die lens van jou suksesse, teleurstellings en pyn. Én is jy geneig om nie die lewe of die mense in jou lewe te sien vir wie en wat hulle is nie.
As jy in jou kinderjare verwerping ervaar het, is jy geneig om later na elke situasie te kyk deur ’n lens van verwerping. Jy besluit vooraf dat jy teleurgestel gaan word. Uiteindelik gee jy sommer op, nog voordat jy eers probeer het.
Jy besluit dat dit beter is om “koud” te wees teenoor mense, want om “warm” te wees en om vir mense te begin omgee, lei net na teleurstelling en verwerping.
Elke teleurstelling dra ’n sekere boodskap oor. Boodskappe soos: “Jy is nie goed genoeg nie” of “Jy verwag te veel”. Óf: “Niemand sal jou ooit kan liefhê nie.”
Hierdie boodskappe wat elke dag in jou gedagtes maal, word later ’n meulsteen om jou nek wat jy elke dag saam met jou dra.
Jou daaglike gewoontes word later jou karakter
Dit maak nie saak of die boodskappe wat die lewe in ons oor kom fluister die waarheid is nie. As dit jóú waarheid geword het, sal jy dit aanhou glo en aanhou om dit oor jou lewe te spreek. Jy moet ten alle tye bewus wees van die krag van jou denke.
Jou denke word jou woorde. Jou woorde word jou dade. Jou dade word jou gewoontes en jou daaglikse gewoontes word later jou karakter.
Uiteindelik bepaal jou denke jou hele lewe.
Om jouself te vernuwe, moet jy bereid wees om jou denkwyse te hersien en te herskryf.
Soms is dit nodig om ’n bietjie introspeksie te doen en alles wat jy geleer het te bevraagteken.
Jy wil nie graag aan ander erken dat jy miskien die verkeerde denkwyse het nie. Dit beteken dan dat jou ouers jou verkeerd geleer het of dat jou ouers jou in jou opvoeding gefaal het? Definitief nie.
Jou ouers is uiteindelik ook net mense. Hulle is ook slegs die produk van wat hulle in hulle lewe ervaar het en geleer het.
Dit is elkeen se plig om ten alle tye verantwoordelikheid te neem vir sy persoonlike groei en uitkyk op die lewe.
Verandering in jou denke bring verandering in jou lewe
Om bewus te word van jou huidige denkwyse en persepsies is die eerste tree in die rigting van ’n nuwe lewe. Jy kan slegs die dinge verander waarvan jy bewus is.
Verandering kan slegs plaasvind wanneer jy …
• bewus is van jou huidige denkwyse;
• bewus is van wat dit gaan verg vir verandering om plaas te vind; en
• weet dat jou denkpatrone en persepsies nie in een dag gevorm is nie en daarom ook nie binne ’n dag verander kan word nie.
Persepsies kan wel verander word en jou denke kan wel vernuwe word. Dit vereis net dat jy elke dag jou denke moet ondersoek.