Lei jy ‘n betekenisvolle lewe? Onthou dat dit nooit te laat is om dit te word waarna jy altyd gestrewe het nie, sê motiveringspreker HENNING GERICKE.
Sukses het vir my beteken om ’n sekere tyd te bereik in my item in atletiek, om Springbokkleure te verwerf; om ’n sukses in my studies en beroep te behaal en om finansieel vooruitgang te maak. Ek is geseën deur baie van my persoonlike doelwitte te kon bereik.
In my latere lewe is ek gekonfronteer met my eie definisie van sukses. Ek het tot die besef gekom dit skiet ver te kort, indien ek strewe om ’n betekenisvolle lewe te kan lei.
Met dié gesindheid laat jy elke sekonde van die dag ’n impak of merk op mense met wie jy in kontak kom. Óf dit ’n blywende of positiewe of negatiewe invloed gaan wees, gaan van jouself afhang.
Ware kampioene in die lewe strewe na die uitlewing van ’n lewensfilosofie om te glo in iets baie groters as om hulle eie egobehoeftes te kan vervul.
Dit is die eerste stap om ’n betekenisvolle lewe te kan lei. Die pad van ’n betekenisvolle lewe is om waardes soos dankbaarheid; onbaatsugtigheid en nederigheid te beoefen.
Moeder Teresa van Kolkata het byvoorbeeld op ’n eenvoudige wyse ’n wonderbaarlike verskil in ander se lewe gemaak. Sy het eerstens op ander se behoeftes en nood gefokus alvorens sy na haar eie belange omgesien het.
Op die muur van die Moeder Teresa Huis staan die kragtige woorde: “Let every action of mine be something beautiful for God.”
Winston Churchill het gesê: “You make a living by what you get, but you make a life of what you give.”
Om ’n betekenisvolle lewe te lei en ’n verskil te maak, hoef nie noodwendig die wêreld te verander deur ongekende prestasies te lewer nie.
Om die lewe voluit te leef en om jou beste self te wees, is om ’n betekenisvolle lewe te lei.
Maak ‘n betekenisvolle verskil deur ander te inspireer
Ek glo dat die twee belangrikste dae in enigiemand se lewe is die dag van hulle geboorte en die dag wanneer hulle hulle WHY (hoekom) in die lewe ontdek. Jou WHY-motivering gaan alles oor jou passie in die lewe; wat jou inspireer en wat jou hart laat sing.
Ek wil jou opnuut uitdaag om …
- te ondek wat jou inspireer in die lewe;
- daardie spesiale talente wat jy ontvang het voluit uit te leef;
- jóú droom voluit te leef;
- opnuut deur jou drome geïnspireer te word; en
- jou volle potensiaal te ontwikkel.
In die lewe is daar baie dinge en mense wat jou wil “weghou” van dít wat jou uniek en spesiaal maak. Ek noem sulke mense die “Dreamkillers”. Ek daag jou uit om jouself te omring met die “Dreamkeepers”, hulle wat jou nader bring om jou volle potensiaal te bereik.
Vier jou unieke individualiteit en onthou jou skepping is die grootste wonderwerk in die wêreld. Albert Schweitzer het gesê: “The tragedy of life is not that we die, but what dies inside a man while he lives.”
Hier is ook drie vrae aan jou …
- Wat is jou definisie van sukses en lewe jy om ’n verskil in ander mense se lewe te maak?
- As ander van jou praat, met watter waardes sal hulle jou beskryf?
- Wat inspireer jou in die lewe en is jy besig om jou drome en ware doel van die lewe voluit uit te leef?
Ek daag jou uit om dit prakties in jou lewe vorentoe te implementeer. Ek glo en weet jou storie sal ander inspireer om ook ’n betekenisvolle verskil te maak.