Om meer kreatief te kan wees, moet jy jou gedagtes ontvanklik hou vir nuwe en onbekende dinge, sê die kreatiwiteitskenner KOBUS NEETHLING.
Dit verg durf en waagmoed om vars te dink
Het jou manier van dink so voorspelbaar geword dat wanneer jy ’n probleem teëkom, jy altyd deur dieselfde denktregter gaan?
Ons kan net kreatiewe vernuf aanleer as ons verskillende alternatiewe oorweeg, ontvanklik is vir verrassings en geleenthede in plaas van probleme sien.
Kyk ’n slag verby die gewone en sien die ongewone dinge raak. Vergeet daarvan om in te pas en moenie bang wees om uit te staan nie. Moenie terugdeins vir “wilde” idees nie. Jy kan dit altyd later weer “tem”.
Wees egter gewaarsku: Dit verg durf en waagmoed om vars te dink. Mense sal jou soms openlik kritiseer en teenstaan. Jou idees kan selfs gesaboteer word!
’n Oop gemoed behels dat jy nie net begin met dit wat jy weet nie, maar met wat jy graag wil leer. Moenie krities wees nie. Sien die moontlikhede in elke terugslag. Wees gewillig om risiko’s te loop en om verras te word.
’n Baie bekende Amerikaanse koffiegroep het begin as ’n koffiehuis in Seattle. Hulle het besef dat as Seattle koffiemal kon raak, dan kon dit in ander lande ook gebeur. Hulle spog nou met meer as 16 000 koffiewinkels in 48 lande.
’n Mens sou selfoonbankdienste nie normaalweg met die baie arm gemeenskappe in ons land vereenselwig nie. Maar dit is presies die leemte wat ’n sekere bank en kruidenierswinkel raakgesien het.
Waarom nie die selfoon vir banksake gebruik en bankrekeninge heeltemal uitskakel nie?
’n Finansiële instelling het die goeie idee vir ’n persoon-tot-persoon-geldstelsel gekry. Dit stel kliënte in staat om geld deur ’n spesifieke kruideniersgroep se netwerk van 850 verskaffers te stuur en te ontvang. Dit kan met die eenvoudigste selfoon gedoen word.
So, die broodwinners wat in stede werk, kan nou geld op ’n veilige manier vir hulle families by die huis stuur.
Kreatiewe oplossings kom met tyd en harde werk
Dis nie altyd maklik om te verstaan wat die “regte probleem” is en om deur te dring tot die kern van ’n uitdaging nie. Jy moet die vaardigheid bemeester om in te zoem op die hart daarvan.
Ons moet eers die regte, indringende vrae vra, dan deur die beskikbare inligting sif – en die irrelevante dinge ignoreer.
Daar is natuurlik ander maniere ook om jou kreatiewe vermoëns te ontwikkel. Hier is ’n paar: verbeelding, nuuskierigheid, spontaneïteit, uithouvermoë en humor.
Probeer om foute te sien as leergeleenthede. Soos Thomas Edison gesê het: “Baie van die lewe se mislukkings is mense wat nie besef het hoe naby hulle aan sukses was toe hulle opgegee het nie.”
Die meeste van ons het al daardie eureka!-oomblik beleef. Maar dit het nog nie baie gebeur nie, reg? Om die waarheid te sê, die meeste kreatiewe oplossings kom eers nadat jy tyd bestee het om aan jou uitdaging te werk.
Dis hoekom daar heeltemal te min mense is wat kreatiewe uitkomste het. Almal soek ’n kitsoplossing.
Dink aan al die groot uitvindsels van die laaste paar dekades: selfone, die internet, GPS of YouTube. Om ’n sukses te maak van hierdie idees wat die wêreld verander het, het werk gekos.
Dit klink dalk nou vir jou na baie moeite. Maar hierdie stap – om jou goeie idee uit te bou – kan ook die verrykendste deel van die hele proses wees. Dit kan ongelooflike vrugte afwerp.