Dit was dalk in die verlede moontlik om by punt B uit te kom sonder om risiko’s te neem. Maar in die toekoms sal ons meer kanse moet begin vat, sê KOBUS NEETHLING.
Wees dapper genoeg om onsekerhede aan te durf
Baie van ons bekommernisse oor die toekoms kan verbind word met die verlede. Die dinge wat jy gedoen of gesê het, of nié gedoen of gesê het nie, kan jou ry.
Die spanning wat jy ervaar, het te doen met die gevolge hiervan op jou toekoms.
Jou bekommernisse word gewoonlik veroorsaak deur die onsekerheid oor wat voorlê. Hoe kan jy dapper genoeg wees om hierdie onsekerhede oor die toekoms aan te durf?
Vra jouself hoeveel van die bekommernisse wat jy gehad het oor vandag het toe waar geword. Plaas jou probleem of bekommernis altyd binne ’n groter konteks om te voorkom dat jy die belangrikheid daarvan oordryf.
Dink ’n bietjie hoe vergelyk jou stres met dié van ’n vlugteling in Bosnië of ’n ouer wat by die graf van ’n kind staan.
Onthou, hoe groter jy jou bekommernisse maak, hoe kleiner maak jy jouself en jou eie vaardighede – jy sal later dink jy is glad nie in staat om te cope nie!
Verander ’n slag jou houding teenoor jouself en jou houding teenoor die toekoms sal ook sommer verbeter.
As jy ’n lewe van passie en oorvloed wil hê, moet jou visie vir die toekoms ook vol passie en opgewondenheid wees, nie vol spanning en onsekerheid nie. Dink mooi hoeveel energie, tyd en fokus mors jy op bekommernis en stres.
Wat kan jy alles vermag as jy eerder jou energie kan kanaliseer om oplossings vir jou probleme te probeer vind? Suksesvolle mense het geleer om hulle energie so te gebruik.
Dalk moet jy anders dink: As jy bekommerd is oor die toekoms, is dit dalk bedoel om jou tot aksie oor te haal – jy was vir te lank passief!
Waag dit om oop te wees vir verandering
Daar was nog altyd verandering en daar sal ook altyd verandering wees. Niks bly ooit dieselfde nie. Mense verander ook die hele tyd. Dink maar hoe jou opinie en gevoelens oor mense die afgelope tyd verander het.
Jy kry ’n nuwe werk, ’n nuwe motor of julle trek in ’n ander huis in. Jy verander die kleurskema van jou badkamer. Jy kleur jou hare of laat dit in ’n nuwe styl knip. Daar is die hele tyd ’n innoverende proses aan die gang, al besef ons dit nie.
Jy het dalk nog altyd gedink jy is bang vir die verandering self. Maar eintlik is ’n mens baiekeer bang vir die gevolge daarvan.
Jy wil dalk ophou werk om meer tyd saam met jou kinders deur te bring. Maar jy is versigtig – nie om die stap te neem nie, maar vir die gevolge: Dalk gaan julle nie uitkom met net een salaris nie. Of sê nou jy is gefrustreerd om heeldag by die huis te sit en jy haal dit op die kinders uit?
Daar is net soveel opwindende, nuwe dinge rondom ons aan die gang – op elke terrein van die lewe. Jou keuses is onbeperk en die moontlikhede is eindeloos.
Dis regtig nie wys om voet by stuk te hou en botweg verandering teen te staan nie. Iewers gaan jy agterbly en jy gaan spyt wees. Jy het nou ’n nuwe soort moed nodig om op ’n heel nuwe speelveld deel te neem.
Al lyk die wêreld anders, het jy nog steeds dieselfde eienskappe wat nodig is om jouself in ’n nuwe rigting te stuur. Elke mens het ’n ingeboude behoefte om soms te verander. Jy het nie meer ’n keuse nie – jy moet deelneem as jy in die resies wil bly!