Mense word aan soortgelyke stressors blootgestel, maar nie almal ervaar stres nie. Dit gaan oor hoe jy dit prosesseer, sê HENRY EAGLETON. 

Stres kom van buite af en kan beheer word 

Bloot sy manier van groet, was duidelik nie dié van die “lekker ou Jan” wat ek al ’n leeftyd ken nie.

Hierdie suksesvolle sakeman, gewaardeerde vriend, gerespekteerde gesinsman en bogemiddeld bekwame besturende direkteur, se hande was natgesweet. Die pupille in sy oë was erg vergroot en sy asemhaling ongemaklik vlak en gejaagd.

Blatant eerlik begin hy: “My gesin beweer daar het ’n vreemdeling in ons huis ingetrek. Ek kan hulle nie verkwalik nie, want ek sal ook baie graag wil kennis maak met hierdie ’op berge en in dale’- en ’groet die grotman as jy kan’-fenomeen wat spore maak net soos ’n mens.”

Ek gee graag die buitelyne en die essensie van ons pastorale beradingsessie weer. Dit is bloot die inleiding tot ’n gefokusde proses.

Stap 1 is om sy fisieke simptome van kop tot tone te bekyk.

Hy manifesteer 70% van die volgende simptome: Hoofpyn, droë mond, kners op sy tande, pyn oor nek en skouers, borspyn, vlak asemhaling, hartkloppings, abdominale ongerief, hardlywigheid, diarree, bewerige en/of sweterige hande, urienweg-infeksies, vertigo en duiseligheid.

Indien ’n mens drie of meer van hierdie simptome het, dui dit op akute angs wat redelik gemaklik met verskeie strategieë sonder medikasie hanteer kan word.

Drie of meer fisieke simptome saam met drie angsaanvalle oor drie weke is ’n aanduiding vir mediese ingryping. Ons kon gelukkig vir eers net op sy stres fokus.

Stres kom van buite af. Alle mense word aan dieselfde stressors (minibustaxi’s, werksdruk, gesondheid, verhoudingskrisisse, ens.) blootgestel, maar nie almal ervaar stres nie.

Dit gaan in stres dus nie oor wát met jou gebeur nie, maar oor hoe jy dit prosesseer. Angs kom van binne af en jy het gewoonlik nie beheer daaroor nie. Dis fisiologies van aard.

Waar stres vandaan kom en die hantering daarvan 

Gedagtes wat tot stres lei: 

  • Absolutistiese denke: “Ek moet dit regkry dit mag gewoon nie met my gebeur nie!” 
  • Swart/wit (Of/of) denke: “Dit is of my opinie of geen opinie!”              
  • Negatiewe selfgesprek: “Dit is alles my skuld!” 
  • Katastrofering: Wanneer ’n mens altyd die ergste verwag. 
  • Persoonlike denke: Neem alles persoonlik op. Sukkel om kritiek te aanvaar. 
  • Reëlveralgemening: Een persoon is krities teenoor my. Konklusie: Die hele wêreld is teen my. 

Pastorale beginsels (spirituele intelligensie): 

Jy haal 26 000 keer per dag asem, daar is 14 000 liter suurstof betrokke. Jy kry meer as 90% van jou energie uit jou asemhaling.  

Korrekte asemhaling is om uit jou maag en nie jou borskas nie, asem te haal. Maak jou longe vir ses tellings vol; hou binne vir vier tellings en blaas uit vir ses tellings. Vier tot ses van hierdie proses (6-4-6) per minuut is normaal.  

Ons gemiddeld is 18-20 keer per minuut. Dit grens aan hiperventileer. Die Hebreeuse en Griekse woorde vir asem (ruach; pneuma), is ook dieselfde woorde as die vir wind en Heilige Gees. Dink na oor die geestelike implikasie. 

Romeine 12:2-3 sê: Laat God toe om jou te verander deur jou denke te vernuwe. Die Grieks vir denke is nous: Dit wat my motiveer/dryf (Vergelyk 2 Kor. 5:14). Dit is meestal vrees of liefde. Daar is verskeie oefeninge beskikbaar vir ’n langtermyn proses.  

Die drie bewegings van verandering: 

  1. Die beweging na binne (die transformasie wat ek nodig het). 
  1. Die beweging na bo (die intimiteit wat ek benodig). 
  1. Die beweging na buite (die bediening wat ek nodig het).