Ja, jy kan...Positief bly ongeag uitdagings

Ja, jy kan… Positief bly ongeag uitdagings

Gaan nuwe situasies met vertroue tegemoet deur jou vreesgedagtes, woorde en aksies te vervang met liefde en positiwiteit, sê motiveringspreker MADELAINE SNOER.

Jy kan kies tussen positiwiteit en vrees

Dit was ’n koue wintersoggend toe ek voor die “skattejagter” staan met my spreekwoordelike twee vissies, vyf brode en duisend vrae in my hart.

In ’n poging om sin te maak van my hopeloosheid en die depressie wat my wou oorweldig, het ek besluit om na die behoeftige op die sypaadjie uit te reik.

Ek ...

Gaan nuwe situasies met vertroue tegemoet deur jou vreesgedagtes, woorde en aksies te vervang met liefde en positiwiteit, sê motiveringspreker MADELAINE SNOER.

Jy kan kies tussen positiwiteit en vrees

Dit was ’n koue wintersoggend toe ek voor die “skattejagter” staan met my spreekwoordelike twee vissies, vyf brode en duisend vrae in my hart.

In ’n poging om sin te maak van my hopeloosheid en die depressie wat my wou oorweldig, het ek besluit om na die behoeftige op die sypaadjie uit te reik.

Ek het die geykte “be the change you want to see” en “charity starts at home” beliggaam en met Emmanuel begin gesels.

Hierdie “skattejagter”, my naam vir mense wat deur swart sakke en rommel grawe, val douvoordag in die pad – sonskyn, wind of reën. Hy loop meer as 40 kilometer met sy swaar trollie en kan tot R80 verdien op ’n goeie dag.

Sy droom is om te kan gaan leer, want sy ouers kon hom nie help om skool klaar te maak nie. Hy het behoeftes en drome en wense en glo dat die hoop nie beskaam nie.

Die realiteit was dat ek daardie oggend net so desperaat soos die skattejagter gevoel het. Ek het nie na kos of herwinbare artikels gesoek nie, maar na ’n bewys dat God weet, dat Hy sien en dat Hy omgee.

Ek weet nie of sy gebed was om die honger van sy maag of die honger van sy hart te stil nie. Ek weet wel dat die liefde en die meegevoel wat in en deur my gevloei het, my honger gestil het.

Ek besef weer dat in elke oomblik van elke dag bevind ons ons in een van twee toestande, liefde of vrees. Dit rig ons gedagtes, vorm ons woorde en motiveer ons aksies. Wanneer ons bewus word daarvan, kan ons dienooreenkomstig besluite neem.

Ons kan veranderings maak en ons is nie slagoffers van mense, situasies en uitdagings nie.

Maak ’n positiewe impak op die wêreld om jou

Ons kan ’n doelgerigte lewe van oorwinning leef en ’n positiewe impak maak waar ons ook al gaan.

Vrees is soos ’n honger wat nooit weggaan nie. Het ek genoeg? Wat gaan mense van my dink? Gaan ek dit maak? Is ek goed genoeg, maer genoeg, slim genoeg, mooi genoeg, opgewasse genoeg vir die uitdagings?

Vrees val aan sonder sin en sonder rede, enige tyd, enige plek. Is my kinders oukei? Wat van die misdaad in ons land? Is daar ’n toekoms? Wat van kanker, siektes, werksekuriteit?

Die Bybel leer ons: God is liefde. Hy sal ons nooit begewe en ons nooit verlaat nie. Hy wys ons wat ware en onvoorwaardelike liefde is en ander sien Sy liefde in en deur ons.

Ware liefde is ’n teenvoeter vir elke uitdaging en situasie waarvoor ons te staan kom, hetsy emosioneel, finansieel, fisiek of spiritueel. Liefde oordeel nie ander nie, maar stel gesonde grense, dit is sagmoedig en vol meegevoel wat oorgaan in aksie.

Liefde bou en rig op, en dit breek die mag van die leuen wat ons so maklik minderwaardig, verwerp, skaam en waardeloos laat voel.

Net so in ’n oomblik toe ek in Emmanuel se oë kyk en ons hande en harte connect, toe kom liefde soos ’n warm kombers, en dit snoer ons saam, verdryf die koue en die vrees en laat hoop weer opvlam.

Wie is ons en wat het ons as ons nie die liefde het nie? En kan ons werklik gee as ons nie liefde leef nie?

Wanneer jy in jou oorspronklike ontwerp van liefde dink en handel, kan jy leef soos meer as ’n oorwinnaar, jy kan nuwe situasies met vertroue tegemoet gaan, jy kan met ’n nuwe perspektief sien en vreesloos lewe.

Deel die artikel

Méér artikels

Om meer kreatief te kan wees, moet jy jou gedagtes ontvanklik hou vir nuwe en onbekende dinge, sê die kreatiwiteitskenner KOBUS NEETHLING. Dit verg durf ...

Om te wag vir die omstandighede om reg te wees, kan dalk net veroorsaak dat jy nooit eers die geleentheid kry nie, sê MANDI DU ...

Scroll to Top