Dit is die dag wat die Here gemaak het; laat ons daaroor juig en bly wees. Red tog, Here, gee tog voorspoed, Here! (Psalm 118:24-25)
Een van die groot voordele om ’n kind van God te wees, is dat die hoop ver verby Christus se graf strek tot in die glorie van elke nuwe môre. Die opstanding van Christus verander die middernag van teleurstelling na die sonsopkoms van vreugde, en die middernag van vrese na die sonsopkoms van vrede.
Maar tot ons ongeluk bevind ons ons in ’n teenoorgestelde samelewing, ’n onderstebo wêreld. Mense haat wanneer hulle eintlik moet liefhê, stry wanneer hulle vriendelik moet wees, baklei in plaas daarvan om vredemakers te wees, maak ander seer al besit hulle die hef in die hand om te kan genees, en doen verkeerd teenoor ander wanneer hulle eintlik moet regmaak.
Ons as kinders van God praat so baie oor die negatiewe kante van die lewe, dat ons herhaaldelik vergeet om die positiewe van ons daaglikse lewenspad saam met Christus te beklemtoon. Ons het almal die krag van eie keuse oor hoe ons gaan reageer en optree in enige situasie.
Emosies is nie boos of sondig op sigself nie, maar dit moet nooit die bepaler van geluk of goeie keuses word nie. Ons is nie ’n marionet wat deur gevoelens beheer word nie, maar moet gelei word deur sy Gees. Sommige mense wil net nie aanvaar dat hulle verantwoordelik is vir hul eie geluk nie, daarom word die blaam liewers geplaas op die samelewing, die verlede, en die omstandighede.
Moet nooit die krag van keuses minag nie. Ons is in besit van die titelakte van ons vreugde; eienaarskap van ons eie geluk! Laat dus toe dat hierdie gedagte in jou hart bly; omstandighede moenie jou geloof beïnvloed nie, maar jou geloof moet die omstandighede beïnvloed.