CAROLINE–GRACE BRÜSSOW weet ware vrede en geluk lê daarin om te leef volgens wat God van haar dink.
Vind geluk deur ‘n positiewe impak te maak
Skool was ’n vormingsplek waar sommige onderwysers en kinders jou spot en kritiseer.
Maar ook ’n plek van ontferming, waar ’n handjievol leerkragte met sagte oë en deernis na my gekyk het. Mense wat die potensiaal in die dromer kon raaksien. Wat my kon help om my voete te vind en uiteindelik te blom in die rigtings waarvoor ek wél aangelê was. Nie wiskunde, skeinat of biologie nie, maar dans, sang, drama, kuns en kultuur.
Die invloed van ander mense op iemand se lewe is ongelooflik. Vandag is ek bly oor elkeen se rol, want dit was nodig vir my reis tot hier. Dit het my gevorm as mens: ’n persoon wat lojaal, liefdevol, positief en vol begrip is. Maar ook sterk en ’n vegter is. Iemand wat weet wie sy is en wat sy uit die lewe wil hê.
Van die waardevolste lesse het ek dus reeds vroeg in die lewe geleer. Soos om mense te aanvaar en te waardeer soos hulle is.
Baie sangers droom oor sukses en roem. Een van my drome is om op dieselfde standaard te wees as iemand soos Céline Dion, maar daar is selfs ’n groter droom waarna ek streef. Om met my talent ’n positiewe impak op mense se lewe te maak. Daardie gevoel wanneer jy op die verhoog staan, iemand in die oë kyk en weet dit maak saak.
Jou reis na ’n opwindende, vreugdevolle toekoms
Dít is vervullend. Om deur musiek ’n persoon se hart aan te raak, nuwe hoop te gee, geliefd te laat voel. Dis nie noodwendig dinge wat deur statistieke of musiekverkope weerspieël word nie, maar dis mooi en eg – en vir my deel van sukses.
En om natuurlik te geniet wat ek doen. As jou lewe of werk jou nie meer laat glimlag nie, is dit tyd om nuut te dink!
Moenie jou ore uitleen aan mense, selfs pelle, wat jou wil wysmaak wat goed gaan wees vir jou lewe en loopbaan, en wat nie. Hou by dit wat jy weet. Sukses lê daarin opgesluit.
Gelukkig het ek geleer: Kry jou vreugde terug deur dankbaar te wees. Oor die klein, daaglikse goedjies in die lewe. Nie deur te fokus op wat jy nié het of op wat nog nié gebeur het nie, maar op dit wat wel goed is – hier en nou.
My fokus het verander. Nie net na binne nie, maar ook na Bo.
Die Here sê ek is waardig om gehoor te word, liefgehê te word, aanvaar te word en myself uit te leef – ongeag wat ander dink of sê.
Dis die soort lewe wat ek nastreef. Om nie meer te twyfel oor die kronkels in my pad nie, maar om te weet elke tree is nodig vir die groter prentjie wat besig is om te ontvou. Om te leef volgens wat Hy van my dink, want daarin lê ware vrede en rus.
Ek is opgewonde om te kan sê my reis na ’n opwindende, vreugdevolle toekoms het opnuut momentum gekry.