As julle getroud is, saam bly, saam kinders grootmaak, saam bestaan, is dit so maklik om by mekaar verby te leef. Dis een van die gevaarlikste dinge wat kan gebeur: as julle mekaar nie meer waardeer nie.
Jy moet die heeltyd aandag aan jou verhouding gee, soos wat jy ’n pragtige tuin sal versorg.
Aanvanklik is hierdie tuin soos die mense daarin – liefde en water is genoeg! Op ’n dag kyk jy by die venster uit en jou tuin lyk soos ’n oerwoud. Ongelukkig is die ruigte merendeels onkruid. Die mooi plantjies is klein en verdor. Die gras is te lank en die bome is vol dooie takke. Jy skrik jou bleek. Hoe het dit gebeur?
Fokus op die positiewe goed in julle verhouding
Jy het gedink jou man sal vir altyd blom, sonder enige aandag. Dat jy elke oggend koffie in die bed sal kry, al sê jy nie dankie nie.
Dat hy altyd vrolik sal wees, al gee jy hom nie rede om te lag nie. Dat hy altyd bly sal wees om jou te sien, al gee jy hom niks om na uit te sien nie.
Jou woorde is die saad wat jy saai. Elke keer as jy iets beledigend of afbrekend sê, strooi jy onkruid.
Jy kan dit dalk later uittrek, maar die gevaar bestaan altyd dat dit die gesonde plante kan verdring of die wortels kan beskadig.
As jy stilbly en nooit iets sê nie, gaan niks in jou tuin groei nie. Spits jou daarop toe om elke dag een ding vir jou maat te sê wat jy van hom waardeer.
Een van die grootste frustrasies in ’n verhouding is dat julle nie mekaar se gedagtes kan lees nie.
Jy vóél dalk dankbaar en bly oor dinge wat jou maat doen, maar hy gaan dit nooit weet as jy dit nie vir hom sê nie.
Wees bereid om vir mekaar tyd te maak
Julle ís mos al twee die heeltyd daar – maar is julle by mekaar? Of is julle net huismaats, twee mense, in plaas van omdat julle kies om saam te wees?
Julle behoort egter nie gebind te wees met ’n dokument wat sê julle is man en vrou nie, maar met ’n emosionele band.
Dit is onmoontlik om emosioneel by mekaar betrokke te wees as julle nie tyd maak vir mekaar nie. Jy het dit seker al ’n honderd keer gehoor, hoekom doen julle dit dan nie?
Weer is dit belangrik om realistiese doelwitte te stel en daarby te hou. Besluit om ’n paar minute vroeër bed toe te gaan of vroeër wakker te word. Gebruik dan daardie kosbare tyd om met mekaar te gesels.
Of kuier Sondagmiddae – of wanneer dit julle ook al die beste pas. Maar hierdie is nie “bakleityd” of “probleem-oplos-tyd” nie. Dit is omgee-en-liefhê-tyd.
Kan jy nog onthou hoe geil julle liefde aan die begin van die verhouding geblom het toe julle ander dinge afgestel het om by mekaar te wees? Dit is die kunsmis wat ’n verhouding laat groei – moet nooit ophou om dit te doen nie.
Vernietig die klein jakkalsies in julle verhouding
Is dit regtig vir jou nodig om daardie ding te doen wat jou maat so eindeloos grief? Hou jy van dooie takke in jou tuin? Dit ontsier tog net die hele prentjie.
Net omdat julle belowe het om vir altyd saam te wees, beteken nie dat jy nou onbedagsaam mag wees nie. Al wat jy daardeur bereik, is om vir jou maat te wys dat jy hom nie regtig waardeer nie.
Hou jouself in stand en tree ordentlik op.
Net soos jy weet wat jou maat irriteer, weet jy ook waarvan hy hou. Maak vir hom koffie, kyk sy gunstelingfliek saam met hom … vir die tiende keer. Daardeur wys jy dat jy sy belange op die hart dra, dat dit vir jou belangrik is om hom goed te laat voel. Dan sal hy dieselfde vir jou doen.
Die name van die bome in jou man se tuin is respek, waardering en bewondering. Dis waaronder hy kom skuil as die woesteny van sy eie wêreld vir hom te veel word.
Pas jou tuin op en julle sal daarin kan wandel tot die dag dat een van julle by die lang boompies aan die einde van die laan aankom …