“Soms ervaar ons dat ons God nie hoor nie,” sê LYNETTE BEER, aanbieder van die E–KURSUS God praat – hoor jy dit?

God werk in die stiltes van ons lewens

Ons moet tyd maak sodat God met ons hart kan praat. God werk in die stiltes van ons lewe.

Daarom is stilte nodig om God se antwoorde te kan hoor. Dis dié luister-gedeelte van gebed wat ons nie so lekker regkry nie. Die pratery, die lysies maak en om te vra, kom maklik vir ons.

Maar om te luister, beteken om stil te bly. Ons moet tjoepstil wees. Ons moet wag tot ons die antwoord in die stilte kan raak hoor.

Stilte is een van God se seëninge. Dit berei ons voor om God dieper te kan ken. Ons skakel in op wie Hy is en op Sy doel met ons lewe.

Ons wil graag God se antwoorde in die stiltes leer hoor. Dan moet ons by ons eie innerlike stilte uitkom. Dis makliker gesê as gedaan, want ons moet eers die gedruis in ons kop stilkry. Daarvoor moet ons ons malende gedagtes afskakel.

Mettertyd begin ons stilword verstaan. Dan kan God met ons hart praat. Só word ons innerlike lewe ’n avontuur. Dan maak ons tyd vir stilword. Ons leer om ons ore en gemoed te spits. Ons luister vir Sy fluistering in die windstilte.

Dis dan wanneer ons God werklik hoor. Skielik verstaan ons iets van die EK IS. Want dis waarmee God Hom bekendstel aan dié wat aan Hom behoort.

God se stiltes is dikwels Sy antwoord op ons krisis. Ons kan gewoonlik nie die groter prent raaksien nie en dink dat ons Vader ons nie hoor nie. Dat Hy ’n klip gee in plaas van ’n brood.

God se antwoorde verskyn soms in die stilte

’n Mens is dikwels so gefokus op jou probleem. Jy sien nie raak dat God besig is om die Brood van die ewige lewe vir jou aan te bied nie.

Wanneer God ons met stilte antwoord, kan dit beteken dat Hy ons na ’n volgende vlak van verstaan wil neem. God het stilte nodig om ons vir hierdie onthulling voor te berei.

Dis ’n soort woestynstilte. Hiermee kan God ons hart en verstand fokus op Sy openbaring vir ons.

Ons kyk soms in die oomblik van swaarkry of onsekerheid vas. Dan verstaan ons nie wat God se plan vir ons is nie. Eers met die terugkyk, kan ons duidelik sien God was by ons. Dit was Hy wat vir ons die krag en uithouvermoë gegee het. Hy het ons gelei om anderkant uit te kom.

Ons ken die verhaal van Elia – hoe God vuur uit die hemel gestuur het. Ná die triomf sak dieselfde dapper Elia se moed.

Hy vlug vir sy lewe en kruip onder ’n besembos in.

Elia moet op die berg gaan staan, want die Here wil verbykom. Só word Elia uitgedaag om sy ore te spits. Hy moet luister vir God se stem.

Daar het ’n magtige wind opgesteek. Maar God was nie in die wind nie; ook nie in die aardbewing of vuur wat daarna gevolg het nie.

Nee, God verskyn aan Elia in die fluistering in die windstilte wat op die groot lawaai gevolg het.

Hierdie verhaal is ’n treffende voorbeeld van God se antwoorde wat in stilte verskyn