“Hoekom alewig skuldig voel as jy nie genoeg speeltyd met jou kind inruim nie? Gebruik diedag-tot-dag-oomblikke met jou kind meer doelgerig om konneksie met jou kind te versterk,” sê Lizanne du Plessis, aanbieder van die AANLYN KURSUS Maak jou kind speel–speel slim.

Daar is een ding wat jy het wat jou kinders nog nie het nie, en dit is perspektief. Dit kom net deur jare se ondervinding.

Jy is dit aan hulle verskuldig om rigting te gee in ’n verwarrende wêreld.

Soos met tennis, vind ’n ritme vir julle moeilike gesprekke. Kry die bal oor die net, al is dit soms net-net.

Daar bestaan nie ’n ‘een grootte pas almal’-benadering nie

Wanneer ons verstaan hoe ons kinders bedraad is, kan ons begrip toon vir wie hulle werklik is, en hoekom hulle doen wat hulle doen.

Só vorm ons sterk konneksies en verhoudings met ons kinders.

Leer jou kind dat jou verskil in optrede nie onregverdig is nie. Dit is eerder die manier hoe jy as ouer in hulle verskillende behoeftes voorsien.

As julle gereeld daaroor praat dat elkeen tog sy plekkie in die son het, word die vertrouensverhouding tussen jou en jou kind al sterker.

Beklemtoon hulle goeie eienskappe, en help stres verlig

Fisieke aanraking soos drukkies of stoei stel voelgoedhormone vry in jou kind se brein, wat angs en stres verminder.

Druk jou kind teen jou vas, sit teen mekaar en vertel sy gunstelingstorie of sing ’n liedjie.

Oorlaai jou kind met gerusstellende woorde en liefdevolle glimlaggies.

Fokus op die positiewe. Sê byvoorbeeld gereeld: “Sjoe, maar jy teken baie mooi,” of “Ek is trots op jou as jy jou speelgoed deel”.

As jy wil seker maak jou kind se brein ontwikkel gesond, skep ’n koesterende omgewing waarbinne jou kind nie te veel stres ervaar nie en aanvaar voel.

Verander jou manier van praat vir dissipline toepas

Omdat kinders veilig voel binneduidelik perke wat op ’n liefdevollemanier gestel word, moet ouers saamstem oor dissipline. Wanneer een iets verbied en die ander een dit toelaat, sal uitdagende gedrag die gevolg wees.

Laat die woord “jy” weg as jy jou kind se gedrag korrigeer. In plaas van: “Kyk wat het jy nou weer gedoen!” sê eerder: “Ag nee, die bord is gebreek!”

Of in stede van “Sien jy enige ander kind wat huil soos jy? Hou nou dadelik op!” kan jy sê: “Ek sien jy is ontsteld. Kom ons kyk wat ons kan doen om jou beter te laat voel.”

Dissipline is nie net óf jy perke stel nie, maar ook hóé die perke gestel word.

Gesinne wat dankbaar is, is ook meer gelukkig

Kinders wat die gewoonte van dankbaarheid aangeleer het, voel beter en gesonder as ander kinders.

Hulle slaap beter en het ’n sterker immuunstelsel. Hulle is minder angstig, minder depressief en het ’n positiewe uitkyk.

Natuurlik verg dit oefening om te leer om die dinge raak te sien wat jy het om voor dankie te sê. Vra mekaar daagliks: “Wat was die lekkerste ding wat jy vandag gedoen het?”

Maak dit julle gewoonte om hierdie gesprekke neer te skryf en lees dit per geleentheid saam deur.