’n Kredietkaart is baie gerieflik: Jy gebruik hom nou en betaal die rekening later. Maar as jy net links en regs koop, gaan jy uiteindelik hope skuld oorhou.
Met jou debietkaart kan jy enigiets koop – jy kan selfs aanlyn inkopies doen.
Dié kaart is regstreeks aan jou bankrekening (tjek of spaar) gekoppel, wat beteken jy moet geld in die bank hê voordat jy die kaart kan gebruik om te koop. Die meeste instansies wat kredietkaarte aanvaar, aanvaar ook debietkaarte.
Die voordeel van ’n debietkaart is juis dat jy reeds die geld het om iets mee te koop. Jy hoef dus nie skuldig te voel as jy dit gebruik nie. Maak egter net seker dat jy elke maand heel eerste jou spaargeld opsy sit voor jy begin spandeer!
Kies doelbewus teen te veel geld uitgee
Sê NEE vir oorbesteding en aanbiedings wat te goed klink om waar te wees. Dink ook mooi oor impulsiewe kopies.
Sê JA vir minder spandeer as wat jy verdien en dink voor jy koop. Dit beteken jy is dankbaar vir alles wat jy het en jy besef dat jy eintlik niks kortkom nie.
Voor jy enigiets koop – ’n huis, ’n motor, ’n horlosie, klere – stel eers vas wat jou motivering is.
Daar sal altyd ’n rede wees hoekom jy ’n spesifieke artikel wil hê. Jy sal agterkom dat jy baiekeer emosionele besluite neem en dan probeer om dit te regverdig. Jy sal byvoorbeeld ’n duur motor koop wat jy nie eintlik nodig het nie en dan sê dit is baie lig op brandstof.
Dink mooi. Het jy regtig daardie artikel nodig of wil jy daarmee spog? Net jy kan besluit.
Ondervinding het my geleer dat die kans goed is dat sodra jy genoeg kontant bymekaar gemaak het om ’n motor te koop, jy waarskynlik eerder ’n kleiner, goedkoper een sal koop.
Moet nooit geld leen om iets te koop nie. Dis nie lekker om iets af te betaal wat jy al ’n jaar gelede gekoop het nie.
Ek het gesien dat die gemiddelde Suid-Afrikaner maandeliks minstens 30% van hulle salaris op nie-noodsaaklike uitgawes spandeer. As jy R50 000 verdien, kan dit tot soveel as R15 000 wees!
As jy eerder daardie R15 000 goed belê, kan dit met 8% saamgestelde rente groei.
Ja, jy mag self besluit hoe jy wil leef en waarop jy jou geld wil uitgee.
Onthou net, as jy oud is en nie baie geld het nie, gaan iemand anders besluit waar jy gaan bly en wie vir jou gaan sorg.
Moenie dat oorbesteding jou toekoms belemmer nie
Dis jou keuse en jy moet self vir jou leefstyl betaal – niemand skuld jou iets nie. Gelukkig is daar baie wat jy kan doen om dit vir jou makliker te maak. Jy het net verbeelding, vasberadenheid en wilskrag nodig.
Ek het onlangs gehoor van ’n Amerikaanse bofbalspeler wat gemiddeld $2 000 000 per seisoen verdien het, maar verkies het om in ’n motorwoonwa te bly! Dis dalk ’n bietjie ekstreem, maar dit kan gedoen word.
Ryk mense gebruik skuld baie oordeelkundig. Hulle het beslis beheer oor hulle kredietkaart, wat een van die grootste euwels van ons tyd is, want dit plaas die konteks van impulsiewe aankope letterlik reg in ons hande. Dit kan baie gevaarlik wees, veral as jy nie selfbeheersing kan uitoefen nie.
Gebruik eerder ’n debietkaart, want dan gebruik jy nie die bank se geld nie, jy gebruik jou eie. As daar nie geld is nie, kan jy nie nou geld uitgee wat jy eers in die toekoms gaan verdien nie.
Bou ook ’n noodfonds op sodat jy dit vir onvoorsiene uitgawes kan gebruik, soos wanneer jou motor onklaar raak of die wasmasjien breek, en jy nie jou kredietkaart daarvoor hoef te gebruik nie.
As ’n reël moet jou noodfonds groot genoeg wees om al jou uitgawes vir drie tot ses maande te dek sonder dat jy ’n enkele sent verdien. Dit sal natuurlik van jou leefstyl afhang. As jy die hoofbroodwinner in ’n gesin is, sal die bedrag baie groter wees as wanneer jy enkellopend is. Gebruik jou tyd en begin spaar sodat dit ’n gewoonte kan word.