Spaar op mediese koste deur slim beplanning, die regte dekking en gesonde gewoontes. WOUTER SNYMAN verduidelik hoe jy vandag geld kan spaar op mediese uitgawes.
Kies ’n mediese plan volgens jou behoeftes
Ek en jy het ’n goeie kans om baie oud te word, want talle mense leef vandag tot in hulle tagtigs. Begin sommer vandag om geld weg te sit vir mediese uitgawes vir eendag…
Dis doodgewoon waar dat die uitwerking van tegnologie beteken ons gaan baie langer leef, maar nie noodwendig gesonder nie. Wanneer jy met ouer mense praat, veral diegene in hulle sestigs en sewentigs, kom jy agter die grootste gedeelte van hulle geld word maandeliks aan mediese uitgawes bestee. Dis daarom belangrik om vroegtydig hiervoor voorsiening te begin maak.
Jou bydrae tot jou mediese skema kan elke maand ’n groot hap uit jou sak vat. As jy boonop bybetalings moet doen of as jou voordele halfpad deur die jaar opraak, voel jy seker ook lus om maar op moedverloor se vlakte te gaan sit.
’n Mens kan egter nie sonder goeie mediese sorg klaarkom nie, maar jy kan iets doen om die koste so laag moontlik te hou. Met al die verskillende mediese fondse wat daar beskikbaar is, is dit nogal moeilik om te besluit watter een die beste vir jou gaan werk.
Begin deur webtuistes te besoek wat mediese fondse se kwotasies met mekaar vergelyk. Jy moet presies weet wat jou gesin se behoeftes is, sodat jy die regte fonds kan gaan soek. Die verwarring begin gewoonlik by die keuse van opsies. Jy kan dalk uiteindelik betaal vir allerhande dekkings wat jy nie nodig het nie.
Vir party gesinne loon dit nie om buitehospitaaldekking deur ’n mediese fonds te kry nie, vir ander maak dit weer sin. Die sleutel is om te weet hoeveel geld jy aan gesondheid bestee. Verstaan dan watter uitgawes jou mediese fonds sal dek en watter nie. Daarna kan jy besluit.
Oorweeg goedkoper alternatiewe vir dié uitgawes
As jy die regte mediese dekking het, kan jy ook op ander maniere seker maak jy hou jou mediese uitgawes so laag moontlik. Vra jou dokter of apteker vir generiese medisyne. Dit bevat dieselfde aktiewe bestanddele as die oorspronklike middel, maar is soms aansienlik goedkoper. Moenie kanse waag met jou of jou gesin se gesondheid nie, maar vra jou af of ’n doktersbesoek regtig nodig is. Soms kan jou apteker net so goed help.
As jy ’n groot mediese uitgawe moet aangaan, onderhandel die tariewe vooraf eerder as om agterna met reuse rekeninge te sit. Dink betyds aan goedkoper alternatiewe.
Hou by die reëls van jou fonds anders moet jy dalk die rekening self betaal. Soek ’n goeie dokter wat ingekontrakteer is en dus mediesefondstariewe vra eerder as privaat tariewe sodat jy nie bybetalings het nie.
Voorkoming is beter as genesing
Pas jou gesondheid op, want dit is ’n kosbare geskenk. As jy nie gebalanseerd lewe nie, kan dit jou later duur te staan kom. Die koste van ’n operasie soos ’n hartomleiding vir ’n roker of iemand met hoë cholesterol kan baie hoog wees.
Een van die beste maniere om jou mediese uitgawes te verminder is om gesond te leef. Dit sluit in om nie oorgewig te wees nie. Om gereeld te oefen. Om ongesonde gewoontes soos rook te staak. Om die hoeveelheid suiker en sout in jou dieet te beperk.
Pas jou emosionele en geestelike welstand op. Maak elke dag tyd vir jouself. Gaan aan die begin van die jaar vir ’n volledige mediese ondersoek waar jy alle belangrike toetse en ondersoeke laat doen. Sodoende kan probleme vroeg geïdentifiseer word.
Bou ’n neseier op wat jy vir onvoorsiene mediese uitgawes kan gebruik as jou mediese fonds uitgeput is. Of vir groot bybetalings of medikasie wat nie deur die fonds gedek word nie.
As jy vroeg genoeg weet dat jou voordele uitgeput gaan wees, kan jy elke maand ’n bedrag geld vir hierdie uitgawes wegsit. Praat met jou finansiële adviseur of makelaar. Maak seker dat jy hierdie baie belangrike keuse reg bestuur. Doen dit vandag nog en spaar op mediese koste. Daar is niks wat jou finansies so ’n knou kan gee soos onverwagte mediese uitgawes nie.