Die lewe moes eers ’n paar draaie met radio en TV–aanbieder ZOË BROWN loop voordat sy haar skugterheid kon afskud en haar ware, onafhanklike self kon ontdek.
Regte na-aper. Geen individualiteit nie. Dit is hoe ek tussen my vriende grootgeword het. As almal se hare in poniesterte vasgemaak was, moes myne ook só lyk. As hulle blou gedra het, moes ek ook.
En toe kom die keerpunt.
Iewers in die laaste jare van laerskool moet Pa vir werk Durban toe gaan, en so gebeur dit dat ons hele gesin regmaak om te verhuis.
Dit het ’n groot aanpassing geverg, want die nuwe skool was uitsluitlik Engels.
Krisis! Want hier waar ek grootgeword het – al was dit ’n dubbelmediumskool – was my onderrig in Afrikaans. Én my maats was ook Afrikaans. Pa en Ma besluit toe dit sal goeie voorbereiding wees om solank na die Engelse klasse oor te skuif.
Vir my, ’n gebore introvert, was die aanpassing oorweldigend …
Skielik was ek nog skamer as gewoonlik, in so ’n mate dat ek heeltemal stom in die klas geraak het. Te bang om ’n Engelse woord te uiter, want sê nou die klas lag vir die aksent of ’n verkeerde woord.
Selfs die onderwysers het bekommerd geraak “oor Zoë wat heeltemal terugtrek en stil raak”.
Net pouses was ek weer my ou self. Daar tussen die ou maats wat ek so graag nageaap het. Daar waar alles veilig en bekend gevoel het.
Hoe sou ek ooit hierdie groot skuif kon hanteer?
En toe gebeur iets wonderliks, net soos die lewe is.
Verrassende kronkels en draaie wanneer ’n mens dit die minste verwag …
In die nuwe omgewing heers daar, heel onverwags, ’n fantastiese kultuur.
Dit het beteken dat almal by die nuwe Engelse skool in rep en roer was oor die “nuwe meisie” van ’n ander provinsie af.
Die skugterheid het soos skubbe afgeval. Daar is links en regs vriende gemaak, en niemand het gelag oor ’n snaakse aksent of ’n verkeerde Engelse woord nie.
Waar ek in die verlede slegs die C-netbalspan kon haal, was ek nou skielik in die A-span, en selfs kaptein! Ook swemkaptein, koorkaptein, interhuiskaptein en akademiese uitblinker.
Binne maande het my baadjie gekreun onder prestasiebalkies – die meeste van almal in die skool. In terme van persoonlikheidsontwikkeling, was hierdie ’n reuse-keerpuntoomblik.
Skielik die besef dat ek dinge vir myself kon laat gebeur …
Dat daar nie meer nageaap hoef te word nie. Dat ek my unieke self kon wees, en daarin uitblink.
Wie, wat en waar sou ek vandag gewees het as dit nie vir hierdie groot skuif was nie? Sou ek steeds ander mense nagevolg het? Gaan studeer het en ’n werk gekies het, volgens my vriende se keuses?
Waarskynlik, ja.
As ek terugdink aan hierdie tye, is dit ’n konstante herinnering dat daar vir ons almal keerpuntoomblikke gebeur.