Ek is presies wie ek moet wees

Ek is presies wie ek moet wees

Daar was lank gelede ’n tyd toe LEE-ANN VAN ROOI geglo het die wêreld sou ’n beter plek wees as sy anders kon wees. Anders kon lyk. En toe die ontdekking: Vrede kom wanneer jy eerlik leef teenoor jouself.

Aanmoediging kom soms vanuit verrassende oorde

Hei, Antie! Lat ek kom help,” groet die vullisman joviaal, terwyl hy met groot treë oor die pad aangehardloop kom.

Dis asblik-leegmaak-dag en ek het so ’n bietjie vergeet om die sakke betyds uit te sit. ’n Mens oordeel so maklik. Dink ...

Daar was lank gelede ’n tyd toe LEE-ANN VAN ROOI geglo het die wêreld sou ’n beter plek wees as sy anders kon wees. Anders kon lyk. En toe die ontdekking: Vrede kom wanneer jy eerlik leef teenoor jouself.

Aanmoediging kom soms vanuit verrassende oorde

Hei, Antie! Lat ek kom help,” groet die vullisman joviaal, terwyl hy met groot treë oor die pad aangehardloop kom.

Dis asblik-leegmaak-dag en ek het so ’n bietjie vergeet om die sakke betyds uit te sit. ’n Mens oordeel so maklik. Dink sommer met die eerste oogopslag hierdie ou is net ’n skoonmaker.

Maar eintlik was hy ’n engel.

Wanneer ’n mens vir die Here iets vra, kom die antwoord somtyds van die most unlikely person wat óók na die Here luister. Iemand wat my op dié dag weer herinner: “Mense is lief vir jou. Jy maak ’n verskil.”

Die man kom sit fluks hand by en verras my met die woorde: “Antie moet net aanhou doen wat Antie doen. Daar op die tee-vee …”

’n Paar dae later gebeur iets soortgelyks op die lughawe. ’n Vrou staan en staar eers lank vir my. Toe stap sy nader en sê: “Ek laaik jou … jy is amazing. En ek bid vir jou. Hou net aan met wat jy doen.”

“Ag, dankie, Antie,” is dit dié keer my beurt. Dankbaar om die publiek se liefde te kan hóór. Nederig om te weet: Ek het reeds ’n impak gemaak.

Daar is dae wat ’n mens voel jy is nou klaar met acting, maar dan gee oomblikke soos hierdie my weer rede om aan te gaan. Gee die Here my nóg ’n storie om te vertel. Nóg ’n tikkie waardering wat hierdie tenkie volhou.

Volgemaak en opgewonde om te kan doen waarvoor ek in die wieg gelê is.

In dié bedryf, dink ek, kies ’n mens óf om ’n celebrity te wees óf ’n kunstenaar.

Ek sal maar swak vaar in ’n realiteitsprogram, want my persoonlike lewe is presies dit: myne en persoonlik.

Daarom het ek lank terug al laasgenoemde opsie gekies: om ’n kunstenaar te wees. Aktrise, regisseur, skrywer, vervaardiger, poppemeester, drama-onderwyser, en nog vele meer.

Alles vertakkings onder die uitvoerende kunste-vaandel – maar altyd vanuit ’n plek waar ek kreatief buite die boks kan dink, doen en leef sonder om my te veel te steur aan die moets en moenies van die kollig.

’n Plek waar jy weet die beste manier van wees, is om getrou aan jouself te wees.

Maar dit vat tyd, diep krap, baie trane en wysheid om by dié plek uit te kom.

Dit het my al die pad oorsee gekos om hierdie bestemming van innerlike vrede en aanvaarding te vind.

Pak jou emosionele bagasie-sak uit en hou dit skoon

My een vriendin vra altyd: “Liekels, vertel weer daai storie.”

Dit was op ’n tydstip toe die bedryf in Suid-Afrika dood was. Ek het as’t ware landuit gevlug, op soek na myself en my eiewaarde.

’n Vriendin het gevra of ek met haar kleuterskoolklassie in Thailand kon uithelp.

Natuurlik sou ek, want reis is een van my groot liefdes.

Ek is mal oor die gevoel van oopte en vryheid om te kan beweeg en haat dit om vasgekeer te voel.

Wanneer ’n mens reis word jy ook gekonfronteer met al die dinge in jouself wat jy nie raaksien nie. En skielik word hierdie dinge vanuit ’n heel ander hoek en perspektief beleef.

Dit sou net vir ’n paar maande gewees het, maar toe bly ek vir ’n paar jaar. As ’n jackof-all-trades. Onder andere as kleuterskooljuffrou, persoonlike assistent en later gaste-verhoudingsbestuurder.

Die land is wonderlik en interessant. Dis ’n plek waar jy leer om mense ten diepste te respekteer. Om nie op ander te trap nie. Om nie bang te wees nie.

Maar, vir my was dit ook ’n plek waar ek die allenigheid gevoel het.

Die kultuur was vreemd. Die kos, taal, mense, en hulle manier van dink en doen, ook.

Op ’n plek waar alles vreemd en anders is, is ’n mens geneig om te dink jý moet ook verander. Maar daar is ’n ander manier …

In Thailand het ek geleer dat ware “tuiswees” niks te doen het met jou omgewing nie. Wanneer jy die dag vrede in jouself vind is dit ’n tuiskoms.

Dis dan wanneer jy ontdek dat enige plek in die wêreld huis kan wees, omdat jy tuis voel in jou eie vel.   

Ek het dit een laatmiddag ná werk ontdek. Daar waar die branders breek, met my tone in die sand.

Dit was ’n asemrowende mooi prentjie. ’n Tropiese paradys. Uitgestrekte strand, see en palmbome wat baai in die warm gloed van ’n oranjerooi sonsondergang.

My “uitsig” is belemmer deur die swaar emosionele bagasie wat ek oral saam met my rondgesleep het.

Ek het gedink ek is oukei, maar toe begin die trane spontaan oor my wange rol.

Alles wat hierbinne gekrap het, het skielik na vore gekom.

My swaar emosionele las het soos ’n groot sak vol opgestapelde geraamtes langs my gelê.

Dit was lewensveranderend – die keuse om daardie laatmiddag die sak uit te pak. Die besluit te neem om elke stukkie hartseer, vrees, teleurstelling en mislukking wat oor die jare versamel het, te voel, te acknowledge, en te laat gaan.

Ek het vir lank só bly sit. Die proses oor en oor herhaal. Elke ding wat pla uitgehaal, gedissekteer, en daarvoor koebaai gesê. Totdat die sak dolleeg was.

En ek, skoongewas. Lig en vry, vir die eerste keer in jare.

Soos my ma altyd sê: “As die Here skoonmaak, maak hy deeglik skoon.”

Moenie perfek probeer wees nie – wees net jouself

’n Werkskollega het haar eie struweling gehad. Daardie gevoel van vassit in ’n groef. Die hunkering na iets anders, iets méér … wat ’n mens uiteindelik net gaan vind die slag wanneer jy na binne kyk.

“Kan jy my leer hoe om ’n Boeddhis te word?” het sy vir een van die Thaise gidse gevra.

Hy was verbaas oor hierdie vreemde versoek, want in Thailand vra mense eerder: “Leer my die taal.” Of: “Leer my die Thaise kookkuns aan.”

Met ’n kopskud en ’n glimlag het hy ’n teenvraag gehad. “Wat is jou geloof en wie aanbid jy?”

Sy het verduidelik dat sy ’n Christen is, maar moeg was daarvoor.

“Nou gaan maak eers vrede met jou God. Want as jy nie jou God kan aanvaar nie, hoe gaan jy ooit myne aanvaar?”

Ons almal voel soms só: vasgedruk in ’n hoek. Veral vroue, want die wêreld verwag mos van ons om “perfek” te wees.

Dis net anti-verouderingsprodukte, ontrimpelingsrome, sellulietrome … elke moontlik pil, room of raad word aangebied om ons te help om tog net nie te wees en te lyk soos wat ons normaalweg sal lyk nie – want dis blykbaar nie goed genoeg nie.

Hierdie strewe na perfeksie word nie van mans verwag nie, maar as vroue is ons gekondisioneer om te glo dat dit die enigste ideaal is.

Dit laat my dink aan ’n onlangse ervaring op ’n vliegtuig.

Die passasiers was besig om in die gang af te stap op pad na hulle sitplekke toe. Die bagasie is in die oorhang-bagasiebak gedruk.

’n Klein en fyn student het voor my sitplek kom staan en self geswoeg en gesweet om haar tas in te prop.

“Kan ek jou help?” wou ek weet.

“Nee, dankie,” het sy met beslistheid gesê. “Ek is ’n onafhanklike, sterk, trotse vrou. Ek het nie hulp nodig nie.”

Die woorde was uit voordat ek dit kon keer. “You know … asking for help is also a sign of strength.”Want dit is.

Al skree die wêreld iets anders, hoef ons nie perfek te wees nie. Jy kan maar, en moet tog, net jouself wees.

Deel die artikel

Méér artikels

Ervaring het MICHAEL MOL, hoof van die Christelike TV–kanaal TruthTV, man, pa en dokter geleer dit help nie om net die regte dinge te sê ...

SORINA ERASMUS glo die Flooze bring meer hoop vir mense as wat sy ooit in haar alledaagse lewe as ma en eggenoot kan regkry. Die ...

Scroll to Top