Aangesien julle dan Christus Jesus as Here aangeneem het, moet julle in verbondenheid met Hom lewe, in Hom gewortel en op Hom gebou, vas in die geloof soos julle geleer is, en met dankbaarheid vervul.

(Kolossense 2:6-7)

Ons geduld, wysheid en geloof word elke dag getoets.

Ons bereik soms ’n punt in ons dag waar ons net ’n oomblik moet afknyp en voorraad opneem van alles wat ons het en al bereik het – nie net in dié dag, maand of jaar nie, maar in ons hele lewe.

Watse situasies het ons al oorkom, waar ons waarlik gedink het daar gaan geen lig aan die einde van die tonnel wees nie?

Wanneer het ons sy Woord getuig, in ’n situasie waar ons getwyfel het in onsself? En tog, sy getuienis het ons sommer net oorval en dit het by ons uitgeborrel.

Ons loof Hom, soggens, as dit sy wil is dat ons wakker word en saans wanneer ons gaan slaap en weet Hy is aan ons sy en dat ons weer ’n asem sal uitblaas die volgende dag.

Is daar blydskap in ons harte? Het ons dankie gesê vir al ons aardse en geestelike besittings, ons familie en vriende wat God, met ’n onbekende doel, op ons pad plaas?

Dink aan daardie oomblikke en sê dankie, ook toe ons besluit het hier, nou, vandag neem ek en my gesin die Here aan as ons Vader, Verlosser en Saligmaker, en as Hoof van ons huis.

In daardie oomblik, vra jouself die vraag: Het ons vanaf daardie oomblik in sy wil gewandel? Leef ons elke dag volgens sy riglyne?

Wees gewortel in jou God as deel van sy liggaam. Bou jouself en jou gesin vandag op in Hom.

Wees dankbaar vir elke oomblik in jou lewe, maak nie saak hoe sleg of goed dit dalk was of steeds is nie. God is daar. Hy sal jou vertroos tot in lengte van dae.