Wolkskool is ’n aanlyn leerplatform, ontwikkel deur Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS), wat leer maklik maak. Hier leer kinders nie net feite nie, maar ook geloof, waardes en identiteit. Dis waar drome begin, geanker in moedertaal en Christelike grondbeginsels.
Twee mylpale bevestig die toekoms van Afrikaanse Christelike onderwys
Die eerste mylpaal wat ons vanjaar vier, is die 100-jarige herdenking van Afrikaans se amptelike erkenning in 1925 – ’n sleutelgebeurtenis vir Afrikaanse onderwys.
Dit het ouers bemagtig om hulle kinders in hulle moedertaal en volgens hulle waardes en tradisies groot te maak.
Die tweede mylpaal is die tienjarige bestaan van die SOS, wat glo dat onderwys ’n gemeenskapsroeping is.
In ’n tyd van waardeverlies staan die SOS sterk in hulle roeping om Christelike Afrikaanse onderwys te beskerm en uit te bou.
Vandag ondersteun hulle honderde skole, onderwysers, leerders en ouers.
Hulle fokus sluit gestruktureerde opleiding, praktiese hulpmiddels, navorsing, leierskapontwikkeling en Wolkskool in – ’n digitale brug tussen huis en skool.
Sluit aan by SOS en Wolkskool.
Gee vir ’n kind gehalte-onderwys in Afrikaans, gegrond in geloof en waardes – met ondersteuning vir ouers, onderwysers én skole.

Afrikaanse leerplatform maak dit maklik om aanlyn te leer
Wolkskool is ’n Afrikaanse aanlyn leerplatform met meer as 16 000 lesse, werkkaarte en assesserings vir graad 1 tot 12.
Dit is ’n volledige leerbestuurstelsel wat ouers, leerders, onderwysers en skole ondersteun. Vir ouers bring dit gemoedsrus en betrokke leer in Afrikaans.
Vir kinders skep dit vertroue en ’n veilige leeromgewing in hulle moedertaal. Vir onderwysers is dit ’n gestruktureerde hulpmiddel wat tyd bespaar en onderrig verryk. Vir skole is dit deel van ’n volhoubare visie vir selfstandige Afrikaanse onderwys.
Wolkskool maak gehalte-onderwys toeganklik, ongeag ligging of omstandighede. Meer as net ’n hulpmiddel, is dit ’n werkwoord: ’n brug tussen huis en skool, ouer en kind, leerder en inhoud – ’n daadwerklike belegging in die toekoms.
Staan op vir taal, geloof, onderwys en ons kinders se toekoms
Die SOS se jaartema vir 2025 is: “Staan op”. Dis meer as net ’n slagspreuk – dis ’n oproep tot aksie.
Dit roep elke ouer, onderwyser en gemeenskapslid om nie te wag dat iemand anders iets doen nie, maar self op te staan en aktief ’n verskil te maak.
Staan op vir moedertaalonderrig wat kinders in staat stel om in hulle eie taal te dink, verstaan en hulle wêreld te ontdek.
Staan op vir Christelike waardes wat karakter vorm, en vir groter selfstandigheid in onderwys.
As ouer hoef jy nie alles te weet nie – jy moet net bereid wees om betrokke te wees, om saam te leer en saam te bou.
Wanneer ons aktief kies om deel te neem, skep ons ’n veilige, betekenisvolle leeromgewing waarin kinders kan floreer.