’n Vrou se hare is soos haar kroon – iets waarmee sy wil spog. Dit is daarom belangrik dat ons hierdie kroon blink en sterk hou om nie letterlik met die hare in die hande sit nie.
Die meeste van ons smag na ’n gesonde bos hare wat blink en sterk is. Dit blyk egter ’n onbegonne taak te wees. Die goeie nuus is dat daar kosse is wat haargroei kan stimuleer, haarfollikels versterk en sommer die algehele gehalte en gesondheid van jou hare kan verbeter.
Hoekom val ’n mens se hare uit?
Is jy moeg daarvoor dat jou hare uitval en oral in die huis rondlê? Haarverlies is ongelukkig een van die vele simptome van ’n hormoonwanbalans.
Daar is egter nog ’n hele paar ander oorsake … soos medikasie. Skildkliermedikasie of antibiotika kan ook jou hare laat uitval. Haarverlies kan natuurlik ook ’n direkte gevolg van stresvlakke wees wat heeltemal te hoog is.
Jou dieet speel ook ’n baie belangrike rol om haarverlies te voorkom. ’n Dieet wat nie ryk is aan nutriënte nie, kan jou hare laat uitval. Haarverlies is ’n goeie waarskuwingsteken van voedingstekorte, soos ’n tekort aan yster.
’n Mens verloor ongelukkig ook kollageen soos jy ouer raak. Kollageen help om beskadigde haarfollikels te herstel en is ook goed vir jou vel, jou gewrigte en jou dermkanaal.
Waak ook daarteen om jou hare met vuurwarm water te was. Die dehidreer jou hare van natuurlike olies en kan dit beskadig en verdun.
Eet die regte kosse vir gesonde hare
Daar is gelukkig kosse wat ons kan eet om ons hare te versterk. Kossoorte wat ryk aan anti-oksidante is, is plantgebaseerde kosse. Dit beveg inflammasie, gee jou rooibloedselle ’n hupstoot en versterk ook haarfollikels.
Kosse soos bessies wat ryk is aan vitamien C moedig kollageen-absorpsie aan. Kosse wat kollageen bevat, is byvoorbeeld beenmurg, bessies, hoender en vryloop-eiers. Blaargroentes is baie ryk aan die belangrike vitamiene A, C en K, wat belangrik is vir haargroei.
Avokadopeer bevat lekker baie vitamien E. Dit verbeter die manier wat jou liggaam suurstof gebruik wat sirkulasie in die kopvel verhoog. Probeer sommer om twee tot vier avokadopere ’n week te eet. En vanselfsprekend is water altyd baie belangrik. Drink genoeg water!
Moenie bang wees vir gesonde vette nie. ’n Dieet ryk aan omega-3 sal jou hormone in die regte balans bring en sommer ook jou haardigtheid verbeter. Sulke kosse is vis, neute, sade, avokadopeer, vryloop-eiers en klapperolie.
Vermy kosse wat inflammasie veroorsaak
Klapperolie het ’n sonbeskermingsfaktor van 8. Vryf daarom sommer ’n halwe teelepel deur jou hare om dit te beskerm. Dit kan selfs help vir skilfers en as jou kinders haarluise kry.
Eet kosse met natuurlike silika-verbindings. Die meeste sjampoes het ’n silikoon-basis. Daar is kosse wat dieselfde funksie kan verrig, soos mango en volgraankosse soos hawermout, bruinrys en ook koring.
Vermy kosse wat inflammasie in die liggaam kan veroorsaak. Dit werk ook haargroei teen. As jy byvoorbeeld weerstandig is vir koring, maar jy hou aan om dit te eet, bou inflammasie in jou liggaam op.
Bly ook weg van transvette, geprosesseerde kosse en natuurlik suiker. Dit veroorsaak ’n wanbalans in ons hormone. Te veel alkohol en kafeïen kan ook veroorsaak dat jou hare nie groei nie.
Deur net ’n paar veranderinge aan jou dieet aan te bring, kan jou gesondheid én jou hare, van nou af net blom!