Is koffie goed of sleg vir jou? Daar is soveel teenstrydige inligting oor koffie en jou gesondheid. Vind uit hoe jy jou boeretroos skuldvry kan geniet! 

Elke mens reageer anders op kafeïne. Hoe beïnvloed dit jou?

Jou beker koffie is soms meer as net koffie. Dit is jou alleentyd … jou wegbreek van jou lessenaar af … daardie tydjie wat jy net weer kan asemskep. Hoekom is dit dan wys om soms so ’n bietjie op te hou koffie drink, of af te skaal van kafeïne? 

Jy is oormoeg en al wat jou deur die dag dra, is jou koppie koffie. Een van die redes hoekom koffie ons ’n hupstoot gee, is die kafeïne. Dit is ’n ligte stimulant vir die sentrale senuweestelsel wat ons waaksaamheid en energievlakke vinnig verhoog.  

Kafeïne word hoofsaaklik in die lewer afgebreek en kan tussen een en ’n half uur tot nege en ’n half uur lank in die bloed bly.  

Maar ons is almal verskillend. Hoe jy op koffie reageer word dikwels deur jou genetika bepaal, wat jou kafeïne-metabolisme beïnvloed.  

’n Koppie koffie kan een mens van die mure laat afbons, terwyl ’n ander persoon ’n sterk espresso saam met aandete kan drink en daarna steeds maklik aan die slaap raak. 

As jy egter sukkel met hoofpyne, moegheid en om te slaap, is dit nie nodig om heeltemal op te hou koffie drink nie. Drink dit dan net eerder net ná ontbyt en nie ná tweeuur in die middag nie.  

Elke mens reageer verskillend. Jy kan dalk mal wees oor die reuk en smaak van goeie gehalte-koffie, maar jou hande begin bewe. Dit voel of alles rondom jou begin draai.  

Dit krap selfs party mense se maag ’n bietjie om. Dan geniet jy eerder ’n koppie groen tee, ’n macha of ’n decaf daagliks. 

Hoe die matige gebruik van koffie voordelig kan wees vir jou 

Probeer ’n bietjie verskillende soorte tee drink. Drink ook meer water en eet maaltye en peuselhappies wat ryk is aan nutriënte vir meer energie.  

Dit sal jou waarskynlik met hope energie, en amper geen hoofpyne laat nie. En dít terwyl jy nog steeds ’n koppie koffie saam met jou vriendinne per geleentheid kan geniet.  

Koffie het nie net ’n nadelige uitwerking op ons nie. Dit het beslis sy voordele! ’n Goeie gehalte-koffie waar bone die enigste bestanddeel is, kan ’n hele klompie voordele vir jou gesondheid inhou. Dit is nou natuurlik sonder hope suiker, versoeters en room. 

Koffie is propvol antioksidante. Dit verminder jou risiko vir graad-twee-diabetes en verlaag jou kanker-risiko. Dit verbeter jou bui en jou geheue. Koffie kan selfs moontlik ook jou metabolisme en sportprestasie bevorder. 

Koffie hou dus wel gesondheidsvoordele in, mits matigheid voor oë gehou word. Dit het ongelukkig ook sy nadele …  

Koffie kan veroorsaak dat jou liggaam sekere medikasie te vinnig afbreek en dit dan sy doeltreffendheid verloor. Dit kan angs vererger en slaaploosheid veroorsaak, veral as dit ná twee in die middag gedrink word.  

Dan is daar nog spysverteringsprobleme, moegheid, hoofpyne of hartkloppings, om nie eens daarvan te praat dat kafeïne verslawend is nie. 

Volg hierdie riglyne om jou koffie skuldvry te kan geniet 

Wanneer moet ’n mens dan eerder ’n bietjie minder koffie drink. Beslis wanneer jy konstant hoofpyne het en nie genoeg water drink nie. Vir elke koppie koffie wat ’n mens drink, moet jy ook ’n glas water drink.  

As jy heeldag moeg voel, kan te veel koffie die oorsaak wees. Jy mag nooit koffie as ’n maaltydvervanger gebruik nie, want dit kan lei tot voedingstekorte. 

Moenie te veel koffie drink as jy baie angstig is nie. Dit moenie vir jou voel dat jy nie deur die dag kan kom sonder koffie nie. ’n Omgekrapte maag kan ook ’n teken wees van te veel koffie. 

Hoeveel kafeïne mag jy dan daagliks inkry? Kenners meen dat 400 mg kafeïne veilig is vir ’n gesonde volwassene. Dit is nou natuurlik as jy nie swanger is of borsvoed nie, dan is dit min of meer 200 mg.  

Beteken dit dan dat ons elkeen vier koppies koffie ’n dag kan drink? Nie noodwendig nie. Koffie is nie die enigste kafeïne-bevattende drankie nie. Daar is ook kafeïne in sekere gaskoeldranke, energiedrankies, alkoholiese drankies, tee en sjokolade. 

Dit gaan alles oor wat vir jóú werk omdat elkeen se lyf anders reageer. Matigheid voor oë bly maar altyd die riglyn. Dit is wel ’n goeie idee om eerste ’n glas water te drink en ontbyt te eet voor jy jou koppie koffie ten volle geniet.