Oefening is nie net daar om kilo’s te verloor nie. Dit verbeter jou gesondheid, verhoog jou energievlakke en versterk jou selfvertroue. Begin beweeg vir die regte redes – vir jouself.

Oefen jy net wanneer jy gewig wil verloor? Wanneer jou boude ’n bietjie kleiner moet wees vir daardie nuwe denim? Oefening hou egter soveel meer voordele in as om net vinnig ekstra gewig af te skud.

Oefening kan gesondheidsprobleme soos hoë bloeddruk en hoë cholesterol voorkom. Dit is siektes wat jy nie wil hê nie, want jy moet allerlei veranderinge aan jou leefstyl maak om daarby aan te pas en jouself te beskerm. As jy oefen het jy ’n goeie kans om dit te voorkom.

Dit is ook voordelig vir velgesondheid. Wanneer jy oefen word meer anti-oksidante geproduseer wat help met die beskerming teen vrye radikale. 

Begin met ’n verskeidenheid van dinge as jy nie weet waarin jy goed is nie.

Doen kardio-oefening, oefen met gewiggies of kry vir jou ’n spansport soos netbal. Bepaal waarvan jy hou en wat by jou roetine en skedule sal inpas.

Doen oefeninge of ’n sportsoort wat jy geniet. Moet byvoorbeeld nie netbal oorweeg as jy nie vinnig op jou voete is nie. Moet ook nie probeer swem as jy nie daarvan hou om in water te wees nie. Doen iets waarin jy goed is en waarna jy uitsien.

Moenie wegskram van oefen omdat jy voel jy is te onfiks, jy gaan nie inpas by ’n groep nie of dat jy dalk te oorgewig vir ’n sportsoort is nie. Begin vandag. Moenie wag vir Maandag nie. Maak dit ’n prioriteit. Maak jóú ’n prioriteit.