Om te peusel of nie te peusel nie … Peuselhappies hou verskeie voordele en nadele in. Die belangrikste is egter om vas te stel wat jou rede vir peusel is. 

Peuselhappies werk nie ewe goed vir almal nie 

Bio-individualiteit beteken dat ons almal verskillende is ten opsigte van ons voedingsbehoeftes om op ons gesondste te wees. Ons kan daarom nie net blindelings ’n leefstyl of dieet navolg nie. Peuselhappies is egter iets wat vir baie mense kan werk omdat ’n mens dit bloot by jou behoeftes kan aanpas.

Ons is almal verskillend geskape. Ons almal se behoeftes verskil. Dit beteken dat wat vir my werk, nie noodwendig vir jou gaan werk nie.

Om te peusel kan ’n mens gewig laat optel en nog probleme veroorsaak. Óf dit kan jou gewig laat verloor en sodoende fantasties laat voel. Dit hang net alles af van wat jy kies, wanneer jy dit kies en of jy regtig daardie peuselhappie nodig het.

Om te peusel hou ’n hele klompie voordele in. Dit verskaf ’n hupstoot aan jou energievlakke tussen maaltye en hou jou bloedsuikervlakke konstant.

Peuselhappies keer verder dat jy jou nie ooreet tydens die volgende maaltyd nie. En dit verskaf ekstra voedingstowwe wanneer jy sekere kosse soos vars vrugte en neute kies. Só help dit jou dan om voldoende voedingstowwe in te kry as jy sukkel om goeie maaltye bedags te eet.

Om te peusel hou egter ook ’n klompie nadele in … Wanneer jou peuselhappies se porsies te groot, te veel en te gereeld is, gaan jy waarskynlik gewig optel.

Te veel peuselhappies kan verder ook veroorsaak dat jy ’n maaltyd oorslaan. En dit kan dan weer lei tot ’n hele dag se gepeusel of bloedsuikervlakke wat wipplank ry.

Maak seker wat die rede vir jou gepeusel is 

Geprosesseerde peuselhappies bevat baie suiker, natrium en kalorieë wat jou palet kan verander. Dit kan jou dan belangrike voedingstowwe laat misloop wat noodsaaklik is vir energie en toesien dat jy nie nutriënttekorte kry nie.

Wanneer dit by peusel kom, is dit belangrik om vir jouself te vra: Wat kies ek? Hoekom kies ek dit? Hoe gereeld peusel ek? Eet ek gebalanseerde maaltye bedags?

Wanneer jy jou peuselhappies beplan, maak seker dat dit gebalanseerd is en regte egte kos is. Dit laat ons floreer.

Gebalanseerde peuselhappies bevat vesel, gesonde vet en ’n bietjie proteïne. Dit gaan beslis beplanning verg, maar kan ’n vrug, neute of neutbotter met ’n bietjie biltong in ’n kosblik of bordjie beteken. Skil en eet dit doelbewus.

So ’n peuselhappies sal help om jou vol te hou tot jou volgende maaltyd omdat dit gebalanseerd en ’n goeie porsie is.

Peuselhappies hou ’n mens se bloedsuikervlakke konstant. Ná ’n goeie peuselhappie kan jy sommer voel of jy floreer! Maak net seker hoekom jy wil peusel. Is dit omdat jy werklik nou honger is, of is daar eintlik iets anders wat onderliggend pla?

Is dit bloot net ’n slegte gewoonte, of het my bloedsuikervlakke geval en het ek ’n hupstoot nodig? Dalk is jy net verveeld? Let ook op hoe gereeld jy peusel.

Beplan gebalanseerde peuselhappies vir jou dag 

Tienuur/elfuur en drieuur/vieruur is goeie tye vir ’n peuselhappie. Dit is die tye wat die meeste mense sê dat hulle daai dip vang.

Peuselhappies op hierdie tye help dat jy jou nie ooreet met middagete nie. Maar ook, dat jy nie die hele yskas wil leeg eet kort voor aandete nie. Bepaal egter wanneer jy dit die nodigste het, en bêre dit dan tot daardie tyd.

Gebalanseerde maaltye is ongelooflik belangrik. Wanneer ons maaltye nie gebalanseerd is nie, nie genoeg komplekse koolhidrate, gesonde vette en gehalte-proteïene bevat nie, is dit die meeste van die tyd die rede waarom ons die hele dag wil peusel.

Beplan altyd jou peuselhappies. Pak vir jou iets eenvoudig, maar iets lekker in. Dit kan byvoorbeeld ’n saadkoekie met avokadopeer, humus en fyn biltong wees. ’n Goeie peuselhappie is ook tuna of eier en ’n appel met neutbotter, wat ’n gesonde vet en ’n proteïene is. ’n Pakkie met vrugte en neute en free-range biltong, Griekse jogurt met bessies en granola, ’n tuisgemaakte kolwyntjie van hawermout en klapper-olie. Dit is alles goeie peuselhappie-idees.

Onthou net, as jy voel jy het nie die peuselhappie nodig nie, hoef jy dit nie te eet nie! Doen wat vir jou liggaam en jou lewenstyl werk.