Assosieer jy die woord “vis” met iets onwelriekend en vaal? Dink weer! Dit bevat van die belangrikste voedingstowwe wat jou liggaam optimaal laat funksioneer, en moet voorkeur geniet in jou eetplan.
Die meeste mense hoor “vette” en dink dadelik dit is sleg en dat ’n gesonde dieet dit sal uitsny. Dit is tot ’n mate waar omdat dit baie energie dra en tot gewigstoename sal lei as groot hoeveelhede daarvan ingeneem word.
Vette is nie altyd nét sleg vir jou nie
Maar ons moet die voordeel ook besef. Vette is baie belangrik in jou liggaam en kan nie heeltemal weggelaat word nie. Die regte soort vorm deel van ’n gesonde en gebalanseerde dieet.
Vetsure is noodsaaklik vir energie en ’n belangrike komponent van ons selmembrane. Dit speel ook ’n noodsaaklike rol in inflammasie, selverdeling, hormone en metabolisme. Neem altyd die kwaliteit daarvan in ag wanneer jy jou vette kies.
Talle Suid-Afrikaners volg hoofsaaklik ’n Westerse dieet wat hoog is in versadigde vette wat voorkom in kossoorte soos botter en dierevet. Hierdie tipe vet verhoog jou risiko vir hoë cholesterol en hartsiektes.
Plantolies bevat onversadigde vette wat omega-3 en omega-6 insluit.
Omega-6-vetsure is pro-inflammatories, wat goed is tydens die bevegting van infeksie. Chroniese inflammasie kan lei tot siektes soos allergieë, artritis, asma, Alzheimer se siekte, oogprobleme, maagprobleme,gewrigspyn, en nog vele meer.
Omega-3-vetsure is anti-inflammatories en sal dus inflammasie in jou liggaam verminder. Dit hou baie voordele vir jou lyf en brein in.
Jy moet dus daarop fokus om meer omega-3-vetsure as omega-6-vetsure te eet sodat jou liggaam meer anti-inflammatories funksioneer. Dit sal jou beskerm teen ongewenste siektes.
Komplekse kwale soos metaboliese sindroom, immuniteitsverwante siektes soos artritis, allergieë en chroniese obstruktiewe longsiektes word deur omega-3 beïnvloed.
Dit kan bydra tot gesonde breinweefsel, en verlaag jou risiko vir demensie en Alzheimer se siekte aansienlik.
Omegas verbeter jou gemoed en hartgesondheid
Boonop het studies bewys dat mense wat dit gereeld inneem ’n laer risiko het om aan depressie en angs te ly. Hulle simptome verbeter ook beduidend as hulle meer daarvan deur hulle dieet inkry.
Verder verminder hierdie soort vetsuur ook jou kanse op hartaanvalle en beroertes, een van die hoofoorsake van sterftes. Navorsers het ’n geruime tyd terug reeds opgelet dat bevolkingsgroepe wat baie vis eet, baie min hartsiektes gehad het.
Hierdie verskynsel is in later jare met omega-3-inname geassosieer. Daar is toe verskeie voordele vir jou liggaam aan hierdie voedingstof verbind.
Omega-3’s kan:
• jou trigliseriede met 15-30% verlaag
• voorkom dat bloedplaatjies stol, wat bloedklonte kan voorkom
• bloeddruk verlaag in mense met hoë bloeddruk
• jou “goeie” cholesterol (HDL) verhoog
• die produksie van pro-inflammatoriese stowwe in jou liggaam verlaag.
Daar is drie hooftipes omega-3-vetsure: ALA, DHA en EPA. Plantbronne soos neute, bone en groente bevat ALA, EPA en DHA kan in olierige vis gevind word.
Die huidige aanbevelings is dat ons ten minste 500mg EPA en DHA per dag eet om ons risiko vir hartsiektes te verlaag. Hiervan moet 300mg verkieslik DHA wees. Vir swanger vroue word daar aanbeveel om ten minste 700mg EPA en DHA per dag te eet.
Jy kan alle nodige voedingstowwe deur kos inkry
Om hierdie hoeveelhede te bereik, moet jy ten minste twee tot driekeer ’n week vis eet. Studies toon dat as jy selfs net een keer ’n week vis eet, jou risiko vir hartsiektes en demensie verlaag. Een porsie vis is 150g.
Die beraamde hoeveelhede omega-3-vetsure (EPA en DHA) per 150g vis vir die volgende vissoorte is:
• Geblikte sardiens: 1500mg
• Salm: >500mg
• Geblikte tuna: 300-500mg
• Kabeljou: 300-400mg
• Stokvis: 200-300mg
Dit is belangrik om ’n verskeidenheid omega-3 bronne te eet. So kan jy seker maak dat jy al die tipes vetsure inneem, asook die ander vitamiene en minerale wat in verskillende kosse voorkom. Pas jou maaltye aan hierby.
Ander bronne van omega-3-vetsure is chiasade, kanola-olie, avokadopere, spruitkool, okkerneute, broccoli, spinasie en nierboontjies.
Berei, indien moontlik, altyd jou maaltye met kanola-olie voor. Wees ook op die uitkyk vir mayonnaise wat kanola-olie bevat.
Moet nie visolie-aanvullings gebruik tensy dit deur jou dieetkundige of dokter aanbeveel word nie. Dit is moontlik om te veel omega-3 in te neem. Die limiet is 3000mg per dag.
En probeer tog daardie aanvullende tablette vermy deur genoeg van hierdie nutriënt deur die kos wat jy eet, in te kry.