Om in ’n verhouding te wees, kan fantasties wees. Maar wanneer jy in ’n verhouding misbruik word, moet jy dapper wees, jouself eerste stel, en wegbreek en die verhouding verbreek, vertel MONIQUE STEYN.
Dit was wéér ’n laat aand, nadat ek van ’n konsert by die huis gekom het. Hoe sal hy vanaand wees?
Die een oomblik is hy kalm, toegewyd en selfs sjarmant. Die volgende heeltemal die teenoorgestelde. Sy drinkery was altyd in die geheim.
Dis weer só. Hy is kort van draad en gooi goed in die huis rond omdat hy nie sy sin kry nie. Beledigings is nou die norm. Ek is skynbaar onnosel, nutteloos en talentloos. Die sterk band met my ouers en sussie is óók ’n probleem. Hoekom is hy nie die belangrikste nie?
Alles is my skuld!
Hy het dit altyd ontken, want hy kon dit nie onthou nie. Sy naaste mense wou my nooit glo nie. Professionele hulp was buite die kwessie. Volgens hom was daar geen probleem nie.
As ek net vasbyt, vir hom liefde gee, geduld wys. Hy kan dit mos nie help nie? Môre is hy weer sy ou self, dan probeer ons van voor af.
Dit het erger geword. Breekpunt was naby.
’n Mens glo so lank dat jy ’n totale mislukking is omdat jy nie die situasie kon red nie. Selfs dat jy dit verdien. My ouers se stemme was hoorbare gedagtes. Hulle was die beste voorbeeld van ’n ideale verhouding met wedersydse respek.
Dit was tyd om my krag en waardigheid weer in die oë te kyk. Dit het durf gevat om te erken die verhouding was ’n doodloopstraat. Ek het voortdurend met skuldgevoelens geworstel, maar die verligting toe ek uitstap, was baie groter.
“Daar is niks fout daarmee om jouself eerste te stel nie.” sê Monique
Die Here het my eendag in die geestespieël laat kyk en my gewys wat Hy gesien het. Hy het my oortuig. Dis die regte ding om myself my prioriteit te maak.
As iemand vir jou wys wie hulle is, glo hulle. Wanneer jy in die spieël kyk, moet jy lief wees vir wie jy daar sien. Wees dapper, kyk mooi na die gawe wat jy is. Daar is net één van jou in hierdie wêreld. Doen wat jy moet, maar moet nie ’n oomblik langer bly nie.
Onvoorwaardelike ondersteuning het vandag nuwe betekenis gekry.
Ek is spyt oor niks. En hulle almal, selfs dié wat nie meer naby is nie, het my gedra en gemaak wie ek vandag is.
Opsoek na meer inhoud? Kliek hier:
Hoekom jou huwelik vou