Nicholis Louw maak al meer as twee dekades musiek, maar agter die verhoog is hy ook ’n toegewyde man, pa en gelowige wat geleer het wat regtig saak maak.

Van ‘Ek en Jy’ tot ‘Feit soos ’n Koei’ – wat inspireer jou steeds om nuwe musiek te maak?

Dit is waarvoor ek gemaak is om te doen, en dit is hoekom ek steeds musiek maak. Dit is die talent wat die Here vir my gegee het om vir my gesin te sorg, en daarom doen ek dit.

Daar is nog baie liedjies in my. Trouens, ek het deesdae baie meer inspirasie, omdat ek by ’n nuwe musiekfamilie is. Vonk Musiek, ’n nuwe platemaatskappy, bied vir my wonderlike geleenthede. Dit inspireer ’n ou ook nogal baie.

En dan natuurlik die liedjies wat kom – die liedjies wat vir jou gegee word.

Hoe het jy geleer om jou identiteit van jou loopbaan te onderskei?

Dit is moeilik om die twee te skei, want dit is tog deel van my identiteit, maar dit is my werk. ’n Deel van wat ek is, kom in my musiek voor.

Dis twee kante van dieselfde muntstuk. Ek is ’n baie rustige, teruggetrokke ou as ek nie op die verhoog is nie.

Wanneer mense my ontmoet en sien dat ek ’n ander persoonlikheid het, sê hulle graag: “Jis, maar jy is so anders.”

Ek doen dit al 23 jaar professioneel, en voor dit het ek tien jaar in kroeë en restaurante opgetree.

Ek doen dit al so lank dat dit definitief deel van my is, maar ’n ou kan ook nie alles huis toe vat nie.

Hoe het jy geleer om gemaklik te raak met wie jy is, sonder om almal te probeer tevrede stel?

Dit bly moeilik en soms seer. Dit raak makliker soos wat ’n mens met tyd aangaan.

Vir my het daar ’n stadium gekom waar ek besluit het: Dit maak nie saak wat mense van jou dink nie; dit maak saak wat Jesus, jou Vader en die Heilige Gees, die Drie-enige God, van jou dink. Dit maak dit makliker.

Soms is daar kommentaar wat jou onkant vang. Op daardie oomblik reageer jou liggaam soos wat dit normaalweg sou doen, en jou gees reageer ook.

So ’n ou raak aan die een kant gewoond daaraan, maar aan die ander kant ook nie gewoond daaraan nie. Van tyd tot tyd vang dit jou onkant.

Die oomblik as jy besef daardie mense is net so min uitgesorteer soos jy, help dit ook. Mense gee voor dat hulle uitgesorteer is, né?

En dan kom jy agter hulle het maar ook hul eie probleme en onsekerhede wat hulle wegsteek. Ons is almal net mense.

Hierdie wasempie op aarde, vergeleke met die hiernamaals, maak regtig nie saak nie. Ek het ’n vriend gehad wat altyd gesê het: “When the big wave comes, does it really make a difference?” As die groot golf kom, maak al hierdie gevoelens en al daardie soort goed regtig ’n verskil? Nee.

Waarvoor is jy vandag die dankbaarste dat God nié geantwoord het soos jy destyds gehoop het nie?

Daar is dinge waarvoor ’n mens gehoop het wat uiteindelik soveel beter uitgewerk het, want God weet beter.

Ek het deesdae ’n nuwe ding wat ek doen. Ek vra vir die Here: “Laat U wil geskied.” U ken my hart. U weet wat my hartsbegeertes is. Maar soos Jesus gevra het: “Laat U wil geskied, en nie my wil nie.”

Dit is net soveel veiliger en soveel beter, want die Here weet beter en die dinge werk altyd beter uit.

’n Mens moet jou vertroue in God sit. Dit is die boodskap wat ek wil oorbring: Go with the flow. Dit is ’n feit dat die Here die beste vir ons wil hê.

Ons moet nooit bang wees om vir die Here se wil te vra nie, want die Here wil die beste vir jou hê.

Wat het jou en Denise se huwelik jou geleer oor liefde wat juis in die klein, alledaagse oomblikke groei?

My huwelik het my baie geleer. Ek het laat in my lewe getrou, wat beteken ek was redelik set in my ways.

Ek was selfsugtig omdat ek ingestel was op my roetine. Maar ons het ’n wonderlike huwelik. Ek is verskriklik lief vir my vrou, en vir my kinders ook.

Die meeste van die liedjies word oor haar geskryf en vir haar geskryf.

“Radio” se koor is wat sy vir ons kindertjies in die bad gesing het toe hulle babatjies was.

Wat ’n wonderlike liedjie is dit nie, né?

Wat het jou kinders jou oor jouself geleer?

Dit was baie moeilik vir my om geduld aan te leer.

Hulle leer jou ook ‘n hele nuwe planeet van liefde. Dit is die absolute liefde en vergifnis wat ’n kind jou leer, en hoe vinnig hulle jou weer aanvaar as daar onenigheid was.

Jou kinders leer jou ’n hele nuwe stel reëls. Maar dit is ’n groot voorreg.

Wat is iets doodgewoon wat jou vandag opreg gelukkig maak?

Ek het al baie van die wêreld gesien en baie dinge ervaar. Ek sê partykeer vir mense: Ek het al twee leeftye geleef in die laaste 24 jaar wat ek professioneel optree.

Ek het nog altyd daarvan gehou om in die kar te klim en rustig net te gaan ry. Snaaks genoeg, iets wat ek baie geniet, is om in die aand as almal slaap die waardering te voel wat ek vir hulle het wanneer dit stil raak.

Jy kan eintlik net dink en lief wees en besef wat ’n wonderwerk hierdie gesin van jou is. Dis iets wat vir my baie wonderlik is.

As ’n jong kunstenaar vra hoe hy ’n lang loopbaan kan bou sonder om homself langs die pad te verloor, wat sou jy vir hom sê?

Ek dink nie dit maak saak wat jy vir enige kunstenaar sê nie. Daar sal steeds dinge wees wat hy nie ag op slaan nie. Wat fine is, jy weet, só leer ons ons lesse.

Maar die eerste ding wat ek sou sê is – die mees belangrike ding – is: die waardes, die goeie waardes wat jou ouers vir jou geleer het, moet dit nie weggooi nie. Hou daarby, bly op jou knieë voor God.

As jy jou waardes kan behou, is jy ’n champ. Die tweede ding: werk mooi met jou geld. Dit is ’n baie onstabiele inkomste. Dis ’n baie onstabiele loopbaan. Maak nie saak waar jy jou in die bedryf bevind nie – of jy nou 1 is of jy nou 10 is – die wiel draai. Enige kunstenaar het ’n raklewe.