Soos ons ouer word, word ons lyf swakker. Daarom is dit belangrik om met gewigte te oefen om jouself sterk te hou.

Daar bestaan hierdie wanpersepsie dat vroue butch of bulky gaan lyk as hulle met gewigte oefen. Vir dit om waar te wees, moet jy ’n oorvloed testosteroon in jou liggaam hê of verskriklik baie eet.

Om met gewigte te oefen, hou soveel voordele vir ’n mens in. Die eerste en die belangrikste is dat die herstelproses nadat jy met gewigte geoefen het, soveel langer is as met aërobiese oefeninge.

Hoe meer herstelwerk jou lyf het om te doen, hoe meer kalorieë gaan jy verbrand, wat beteken jy gaan meer vet verbrand.

As jy met gewigte oefen, gaan jou spiere en beenstruktuur versterk. Jy gaan ’n beter postuur hê as jy met gewigte oefen. Jy gaan beter lyk, want jou spiere is sterker en meer ferm.

Jou energievlakke gaan ook verbeter. Jy gaan beter slaap in die nag en meer energie deur die dag hê.

Dit is belangrik om te onthou, spiere weeg meer as vet. Meer spiere in jou lyf gaan jou ’n bietjie meer laat weeg op die skaal, maar jou sentimeters gaan beslis minder word.

Moenie vaskyk in die skaal nie. Kyk na hoe jy lyk en hoe jou klere aan jou sit … hoe jy daarin voel.