Wanneer ons in diepte gaan kyk na die gesondheid van die brein, sal ons ontdek dat ons ’n holistiese benadering moet neem.
Eet die regte kosse vir beter breinkrag
Dit is belangrik om te onthou dat ons verskillende nutriënte vir verskillende fases in ons lewe nodig het. Soos ’n mens ouer raak, verander jou behoeftes.
Hoe ouer ons raak, hoe meer kollageen verloor ons byvoorbeeld. Maar gelukkig is daar kosse wat ons kan eet om ons brein vlymskerp te hou.
’n Mediterreense dieet fokus op plantgebaseerde kosse soos vis, volgraankosse en gesonde vette soos olyfolie en avokadopeer. Dit bevat bykans geen geprosesseerde kosse nie.
Studies toon dat mense wat die riglyne van dié dieet volg, se kanse skraler is om Alzheimer se siekte te ontwikkel. Dit het baie te doen met daai lekker omega-3-vette wat ons selle help om reg te funksioneer.
Dit help ons om beter te konsentreer, en vertraag ook kognitiewe agteruitgang. Gesonde vette sluit kokosneut, olywe, salm, eiers, olyfolie, avokadopeer, neute en sade in.
Maak seker jy eet kosse van ’n hoë gehalte wat ryk is aan belangrike nutriënte. Eet eerder een eier, met meer groente en vrugte. Die nutriënte daarin is net soveel hoër.
Indien jy jou kalorieë wil dophou, eet eerder 400 kalorieë se groente en vrugte in plaas van een muffin.
Slaap en die regte voedsel hou jou verstand skerp
Verskillende kleure beteken verskillende vitamiene, minerale en anti-oksidante. Daai anti-oksidante sal jou brein voed en skerp hou.
Ons is geneig om dieselfde kosse oor en oor te eet. Dít terwyl variasie so belangrik is. Fokus op bessies, druiwe, soetpatat, vye … daai donker kleure.
Vermy kosse wat vir jou probleme veroorsaak! Geprosesseerde kosse wat vol suiker en preserveermiddels is, kan baie inflammasie veroorsaak. Dit het ook ’n uitwerking op jou ingewande en die gesondheid van jou brein. Party mense kan ook sensitief vir gluten of suiwel wees, wat dieselfde reaksie in die lyf kan veroorsaak.
Maak ’n punt daarvan om jou brein te oefen net soos wat jy ’n spier sou oefen. Lees, speel kaart, leer iets nuut … elke liewe dag.
Wees sosiaal. Dit kan help om depressie en stres af te weer, wat tot geheueverlies kan bydra. En beweeg! Tydens oefening is daar ekstra bloedvloei na die brein.
Genoeg slaap is noodsaaklik vir jou brein. Om ten minste sewe uur te slaap, is seker een van die noodsaaklikste dinge om te doen om jou brein skerp te hou.
Gehalte-slaap is ongelooflik belangrik vir kognitiewe funksie. Navorsing toon dat dit voordelig is om op jou sy te slaap, omdat die brein beter van die gifstowwe wat daar in jou brein mag wees, ontslae raak.
Dit is die eenvoudige dinge in die lewe soos slaap, eet, beweeg, sosialiseer, pret en iets nuut leer elke dag wat belangrik is.
Daar lê soveel krag in die woorde wat ons spreek. Sê daarom eerder: Oud, maar nog nie koud.