Almal is dit eens dat water belangrik is. Presies hoeveel water ons moet inneem, verskil van mens tot mens. Let daarom op jou liggaam se tekens.

Sommige mense sê agt glase, Harvard sê vier tot ses glase water en ander sê weer tot 2,7 liter water ’n dag vir vroue – insluitend jou kos.

Ons neem ongeveer 20% van ons water in deur die kos wat ons eet. Dit is nou as ons dieet vrugte en groente insluit. Maar hoeveel water moet ons drink?

Die antwoord begin by bio-individualiteit. Almal is anders, almal se omstandighede is anders. Daarom het elke persoon nie dieselfde hoeveelheid water nodig nie. Net soos wat elke liewe persoon nie dieselfde dieet of oefenprogram kan volg nie.

Elke dag is ook anders. Dit is hoekom dit belangrik is dat ons na ons liggame luister. Ons moet daarop let wanneer ons dors is.

As jy weer gereeld in die nag moet opstaan om badkamer toe te gaan, drink jy dalk te veel water laatmiddag of vroegaand.

Waar jy bly, is ook bepalend vir jou waterbehoeftes. As jy in ’n warm, vogtige gebied bly, byvoorbeeld tussen die berge, gaan jy meer water nodig hê.

Bepaal wat jou unieke waterbehoeftes is

Daar is verskillende faktore wat bepaal hoeveel water jy nodig het, soos byvoorbeeld ook jou dieet. As jy ’n dieet volg wat ryk is aan vrugte en groente, het jy minder water nodig.

Maar as jy ’n dieet volg wat baie geprosesseerde kosse insluit, gaan jy meer water moet drink. Hierdie kosse is ryk aan natrium en suiker en kan dehidrasie veroorsaak. Daarom het jy meer water nodig.

Die seisoen het ook ’n groot invloed op jou waterbehoeftes. In die warmer maande het jy meer water nodig as in die winter.

Ook hoe aktief jy is, bepaal jou waterbehoeftes. Indien jy baie stap of buite is, het jy meer water nodig.

Sekere medikasie veroorsaak dat ’n mens baie water verloor. Vind daarom uit of jy weens jou medikasie ekstra water nodig het. Ook swangerskap en veral borsvoeding vereis ’n hoër waterinname.

Water gee jou energie en help jou konsentreer. Dit verwyder al die gifstowwe uit jou liggaam, voorkom hardlywigheid en kan jou help om gewig te verloor. Dit vervoer voedingstowwe en suurstof na jou selle en beskerm jou organe. Die lys hou net aan en aan.

As jy sukkel om water te drink, begin deur ’n waterbottel by jou te hou. Soms vergeet ’n mens om water te drink omdat jy besig is.

Skep gewoontes soos om ’n glas water te drink net nadat jy opgestaan het, of ’n glas water te drink terwyl jy kosmaak.

Sny stukkies vars vrugte in jou water, en eet meer vrugte en groente. Waatlemoen bevat 92% water, aarbeie 91% en spanspek 90%. Dis ’n lekker manier om water in te kry.

Maar hoe weet jy of jy genoeg water drink? Die kleur van jou urine moet deurskynend of liggeel wees en jy moet meer as vier keer ’n dag urineer.

Vir meer inhoud van ons Voelgoed Mentor, Minette Visser, kliek hier:
Artikels, Oudio en Video
VoelgoedTV