Baie van die Jode het verneem dat Jesus daar is en het daarheen gekom, nie net ter wille van Jesus nie maar ook om vir Lasarus te sien wat Hy uit die dood opgewek het. (Johannes 12:9)
Hierdie woorde van Johannes beskryf een klein toneel in die opbou van sekerlik die grootste drama ooit! Jesus verlaat die laaste keer sy geliefde platteland rondom Galilea op pad na Jerusalem, om as heilige en welgevallige offer vir die ganse mensdom te sterf. Nie te lank tevore nie het Hy Lasarus uit die dood opgewek. Sy keuse om by Lasarus tuis te gaan voor Paasfees is nie om ongemerk te probeer nader kom nie.
Almal onthou Lasarus. Almal onthou Jesus. Almal kom om hulle albei te aanskou. Net die volgende dag sou Jesus op die eselsvul onder groot toejuiging vir oulaas die Sionstad binnery.
Wat sê dit alles? Jesus het presies geweet wat op Hom wag. En tog, in sy hele optrede is daar geen sweem van huiwering nie. Hy is soos ’n koringkorrel gereed om te sterf sodat Hy baie vrug kan dra. Dit is tog waarvoor Hy na hierdie aardse lewe gekom het – om Homself as offer aan te bied vir die sonde van die wêreld.
’n Gedwonge offer is geen offer nie. Jesus se lewe is deur niemand genéém nie. Hy het bloed gesweet, maar nogtans Homself vrywillig en volkome gegéé! ’n Offer bring versoening en nuwe lewe. Dit is wat Jesus kom gee het: vir jou, vir ons elkeen!
Het jy al met jou lewe hierop geantwoord? Sê dit: “Ek ontváng u offer aan mý en ek is bereid om in ruil daarvoor my lewe vir U te gee.” Jesus! U het dit vir my gedoen! Help my om u offergawe ten volle te begryp, sodat ek in myself kan sterf om in U te leef – tot baie vrug.