Daar is so baie mense wat hulle hele lewe lank aan die slaap is en blind deur die lewe loop. Lewensafrigter TILESIA COLYN glo jy moet nie net met oop oë lewe nie, maar jy moet floreer in alles wat jy aanpak. As jy bereik waarna jy smag, sal dit jou gelukkig maak.
Ek sit in my ouerhuis, gekruisde bene en kyk TV. Dis ’n fliek wat speel met Tom Hanks en Meg Ryan.
Daar is ’n gedeelte in die fliek waar Meg Ryan iets wonderliks sê nadat Tom Hanks vir haar sê: Jy weet, jou lewe lyk so wonderlik; dit lyk so amazing.
Sy antwoord: “My father said that almost the whole world is asleep. Everybody you know, everybody you see, everybody you talk to, there’s only a few people and they are awake, and they live in a state of constant, total amazement.”
Leef met oop oë, gereed vir elke geleentheid
Ek sit daar as ’n 16-jarige en dink: “Ek wil dit hê. Wat is dit? Waar kry ’n mens dit? Waar koop jy dit? Ek soek dit.”
Dis asof daar iets gebeur het daardie dag. Daar moet iets meer wees. Hierdie kan nie al wees nie.
Ek het regtig gehoop vanaf daardie oomblik sou ek bewus en wakker deur die lewe gaan, maar dit het ongelukkig nie gebeur nie. Ek was vir ’n paar dekades lank aan die slaap. Ek was vir ’n paar dekades lank blind.
Ek het gedink ek doen goed. Ek het my graad gekry as ’n prokureur en was ’n advokaat. Ek was in lekker verhoudings, duur sjampanje gedrink en sommer net ’n kalmeerpil afgesluk, want ek kon. Ek het ’n grappie gehad: “Ek het baie probleme, maar geld is nie een daarvan nie.” Ai tog, hoe blind was ek …
Moenie jou blindstaar teen die lewe se baie probleme nie
Ek het baie probleme gehad. Ek was uitgebrand. Ek was uitgeput. Ek was moeg vir die mens wat ek was. Die keuses wat ek gemaak het, was beswaarlik goed vir my.
Ek was uit voeling met my toekomstige self. Ek het gedink wat ek doen, is belangrik. Om die een of ander “hotshot” advokaat te wees en die wêreld aan my voete te hê, is belangrik.
Dit was glad nie die waarheid nie. Ek was regtig blind. En dit het ’n groot opskudding in my lewe geneem om tot die besef te kom dat daar meer in die lewe is.
Daai tyd het ek keuses gemaak wat totaal gebrekkig aan eerbaarheid of respek vir my toekomstige self was. My houding het gestink.
Besluit om nie net te lewe nie, maar om te floreer!
Maar toe gebeur daar iets interessant – ek skei. En dit het my gebring tot op ’n plek waar ek besef het ek het een van twee keuses, net soos ons almal elke oggend ’n keuse het. Die keuse tussen lewe en dood. En ek het besluit ek gaan nie net leef nie. Ek gaan floreer!
Leef jy of floreer jy? Wat beteken dit om te floreer? Floreer ’n mens van binne of floreer ’n mens na buite toe?
Jy het seker al daai grappie gehoor (ek weet nie of dit so snaaks is nie): “Ek huil eerder in ’n BMW of ’n luukse Duitse motor as wat ek onder ’n boom sit op ’n fiets.”
Ek weet nie wie dit gesê het nie, maar hy of sy moet dit gaan herevalueer. Ek het al in ’n Cruiser gesit en huil agter ’n Dolce & Gabbana-bril en Mademoiselle-parfuum wat om my hang, maar ek het gehuil, naarstiglik gesnik in my trane. Hoekom?
’n Mens moet van binne af floreer
Aan die buitekant lyk dit asof jy floreer, maar binne is daar niks. Jy is hartseer. Jou verhoudings val uitmekaar. Jy kan jou nie indink daar is iets groter, beter, hoop en ’n toekoms vir jou nie. Ongelukkig is jy so vasgevang in die nou dat jy dit nie kan sien nie.
Ek onthou ’n tyd toe ek op my fiets deur die “rice paddies” in Taiwan gery het. Alleen en besig om my studieskuld af te betaal. Ek was ’n gelukkige mens. Ek het daar gery en gesing: “I wanna be where the people are” uit The Little Mermaid.
As iemand my vra wat die lekkerste dag van my lewe tot dusver was, was dit daardie dag. Ek was net so “happy”, want ek het van binne af floreer.
Neem Tilesia se oudio kursus:
Oorleef jy – Of FLOREER jy?