Vleis vorm so ’n groot deel van ons dieet dat jy seker skaars aan peulgewasse dink. Voeg hierdie gesonde voedselsoort bietjie-bietjie in jou maaltye by, en sien en ervaar sommer gou die voordele hiervan.

Peulvrugte is die eetbare sade van plante van die peulgewas-familie.

Dit groei in peule en kom in verskillende vorms (gedroog, geblik, gekook en gevries), groottes en kleure voor.

Doen navorsing en pas jou eetgewoontes reg aan

Dit is baie gesond, bekostigbaar en maklik om deel van jou daaglikse dieet te maak. Die kweek van hierdie gewassoort bevorder volhoubare landbou, aangesien dit kweekhuisgasse verminder, die grondgesondheid verhoog en minder water as ander gewasse gebruik.

Studies het bewys mense moet verkieslik ’n halwe koppie peulvrugte per dag eet. Dit verhoog jou vesel-, proteïen-, kalsium-, kalium-, folaat-, sink-, yster- en magnesium-inname, en verlaag jou inname van versadigde vet (ongesonde vet).

Die kossoort verbeter cholesterolvlakke, verlaag die risiko vir hartsiektes, verbeter suikervlakke, en help met gewigsverlies.

Dit verminder jou kans om diabetes mellitus tipe 2 te ontwikkel en verlaag ook die risiko van sekere kankers.

Dit hou dus baie gesondheidsvoordele in.

Hoe maak jy hierdie kos deel van jou daaglikse dieet?

Begin jou dag met bone in tamatiesous op ’n snytjie volgraanbrood.

Voeg groentes soos tamatie, ui en groen soetrissie by om die veselinname nog verder te verhoog en swartpeper om die smaak te verryk.

Maak ’n lekker groenslaai met kekerertjies. Gebruik die geblikte soort of gedroogdes wat jy die aand voor die tyd in water geweek het.Voeg avokadopeer of olyfolie by die slaai.

Moenie vergeet om kruie soos koljander en pietersielie by te voeg vir smaak nie.

Gebruik nuwe resepte en verander jou smaak geleidelik

Nierboontjies kan saam met tamatie, blaarslaai, komkommer, uie, soetrissies en wortel fyn opgesny word. Bedien dit in ’n pitabroodjie of wrap.

Dié mengsel kan selfs saam met rys, gort of koeskoes geëet word.

Onthou die kruie en gesonde vette soos avokadopeer en olyfolie.

Bedien hummus saam met geroosterde groente. Jy kan ook botterbone, nierboontjies, lensies of kekerertjies by geroosterde groente of roerbraai-groente voeg en dit saam met rys bedien.

En moenie van lekker gesplete ertjiesop tydens die koue wintermaande vergeet nie.

Baie mense sukkel dalk om elke dag peulvrugte in die plek van vleis, hoender en vis te eet. Begin dierlike proteïene een tot twee keer ’n week vervang. Een koppie vervang 150g vleis.

Jy kan op ’n paar maniere steeds peulvrugte inneem sonder om dierlike proteïen heeltemal prys te gee.

Maak tuna-pasta slaai en voeg lensies by. Puree nierboontjies met melk of water en gebruik dit as sous vir oondgebakte hoender. Dit is ’n slim manier om dit vir kinders in te kry.

Meng die sous met maalvleis, en gebruik dit in pastageregte. Jy kan dit ook saam met rys voorsit.

Baie mense vermy ook kos met hierdie bestanddeel omdat dit hulle derms seermaak. Om die sous so te gebruik kan ’n moontlike oplossing wees.

Die gewassoort is laag in yster. Vitamien C verhoog ysterabsorpsie. Strooi suurlemoensap, wat ryk is aan vitamien C, oor die disse om die ysterabsorpsie te verhoog.

Wenke om toe te pas wanneer jy kos maak

Hoe kook ’n mens peulplante? Spoel dit in water af. Bedek dit met baie water en week dit oornag (ses tot agt ure). Gooi die water af en gebruik skoon water om dit te kook tot jy tevrede is met die tekstuur. Die gaar kos kan ook in porsies gevries word. So word baie tyd gespaar.

Indien jy nie tyd het vir die hele oornag week-proses nie, kan jy die volgende kortpadmetode gebruik. Voeg water in ’n groot kastrol en bring dit tot kookpunt, voeg die peulvrugte by en kook verder. Verwyder die kastrol van die hitte, bedek dit en laat dit vir ’n uur lank staan.

’n Drukpot is ook baie effektief vir die gaarmaak van sulke geregte.

As jy bekommerd is dat dit jou te opgeblaas gaan laat voel, gooi een of twee keer nuwe water by terwyl dit geweek word. Dreineer die geweekte peulvrugte en gebruik vars water om dit te kook. Spoel die geblikte soort af voor dit gekook word.

Dit is altyd lekker om iets nuuts te probeer. Die aanpassing van jou dieet voel dalk aanvanklik vreemd en té uitdagend, maar probeer om een of twee keer ’n week jou dierlike proteïene te verruil met peulvrugte. Jy sal gesonder wees en glad nie spyt nie.