As mamma en vrou hou ons die atmosfeer in die huis in ons hande en ons stemtoon vas. ’n Kalm ouer, het ’n groot uitwerking op die atmosfeer in die huis.
Kinders voel hulle ouers se kalmte aan
Hoekom moet ék altyd kalm wees? Ons almal het tog emosionele koppies waarin jou dag se dinge val. Jou motor vat vanoggend ’n bietjie lank om aan die gang te kom. Jy vergeet van die lasagne wat jy by die kerk moes aflaai. Jou kind bel oor skoolskoene wat weg is.
Die dag se dinge kan ’n mens se emosionele koppie sommer vinnig vol maak. En gewoonlik gebeur dit so teen vyfuur die middag wanneer huiswerk nog gedoen moet word en kos nog gemaak moet word.
Jou kind kyk jou met smekende ogies aan: Speel met my, Mamma. Dit is dan wanneer ons mammas hoor sê: My moeg is moeg. Hoe moet jy die atmosfeer in jou huis kalm hou en koester terwyl jou koppie self vol is?
Ons kan egter nie navorsing ignoreer wat bewys dat wanneer ons kalm is, kinders dit in die huis aanvoel nie. Hulle aanvaar minder druk. Hulle ervaar aanvaarding. Hulle leer om emosioneel te reageer soos hulle dit by ons sien. Dit is ’n enorme verantwoordelikheid!
So, hoe bly ons kalm? Navorsing wys verder dat ons emosionele welsyn in ons lyf gaan sit. Jy vind die antwoord in jou lyf.
Dit klink dalk vreemd, maar selfs ons breinsisteme, sosiologiese sisteem, alles is aan mekaar verbind. Wanneer ons gestres en gespanne is, en nie lekker voel nie, gaan sit al hierdie gevoelens in die agterste breinstam. Dit stuur dan seine deur jou lyf.
Jou lewer, jou harttempo, jou niere, jou maag … álles word deur die emosie wat jy in jou lyf vashou, beïnvloed. Hoofpyne, maagsere, lae immuniteitstelsels … dit kan alles die gevolg van stres en angs wees!
As ons dan weet waar ons emosies gaan lê, weet ons waar om te begin. By ons liggaam!
Vind praktiese maniere om jouself te kalmeer
Al is kalm bly dan ’n fisiologiese keuse, bly dit steeds baie moeilik. Ons moet daarom praktiese maniere kry om ons te help.
Een van hierdie maniere kan met klank gepaardgaan. Wanneer ons ’n bietjie stadiger praat, ons stem ’n bietjie laer en sagter maak, ietwat monotoon, het dit ’n invloed op die fisiologiese sisteem.
Ons kan klank ook gebruik om ’n kalm atmosfeer in die huis te skep. Dit kan iets wees soos sagte, ligte musiek.
Asemhalingstegnieke kan ook help. Haal lekker diep asem in deur die neus, hou dit ’n bietjie in, en blaas dit uit deur die mond. Wees bewus van wat jy doen. Dit het ’n groot invloed op jou emosies.
Probeer ook visualisering. Maak jou oë toe, dink aan jou gunstelingplek in die hele wêreld. Dit moet ’n plek wees waar jy net jouself kan wees. ’n Plek waar jy kan sit en rus vir jou siel kry.
Visualiseer daardie plek. Dink aan waar dit is en hoe dit lyk. Dalk is dit ’n vertrek in ’n ou huis waarin jy gewoon het. Dalk is dit by die see waar jy gereeld vakansie hou. Of dalk is dit in jou ouma se kombuis waar sy pannekoek bak.
Wanneer jy onrustig voel en jou oë net vir ’n paar sekondes toemaak om jou kalm-word-plek te visualiseer, het dit ’n invloed op die impulse wat ons brein na ons lyf toe stuur. Dit sê vir jou lyf, hier is ’n positiewe beeld. Ek voel lekker. Ek is kalm.
Rustige kinders het beter selfbeheersing en meer selfvertroue
Oefening help ons om van frustrasie en negatiewe energie ontslae te raak. Goeie chemikalieë word in die brein vrygestel wat ons help kalmte oor ’n lang tydperk te reguleer.
As ’n mens gereeld gaan oefen is jy oor die algemeen ’n rustiger mens. Nog beter, is as jou gesin dit sommer saam kan doen.
Die natuur het ook ’n manier om ’n mens kalm te laat voel. Gras onder jou voete, kaalvoet op die strand, die wind in jou hare of miskien ’n stappie teen die berg uit terwyl die sonnetjie op jou bak.
Die natuur spreek tot jou om jou kalm en rustig te maak. Daar is al vele boeke geskryf oor die effek wat natuurwandelings en -avonture op die mens se emosies het.
Dit is belangrik dat ons iets kry wat vir ons werk. Ons is rolmodelle vir ons kinders. Wanneer ons ons emosies goed reguleer, wys ons vir hulle hoe om dieselfde te doen.
As hulle ons kalmte aanvoel, raak hulle kalm. Dit help hulle om hulle identiteit te ontwikkel, gee hulle meer selfbeheersing en selfvertroue. Al daardie dinge wat ons ons kinders toewens.
Al is dit nie maklik nie, moet ons mammas daarom regtig probeer kalm wees, sodat jou huis kalm is.