Hanteer ‘n kind met ‘n sterk wil so

134

Sal jou kind eerder honger gaan slaap as om kos te eet waarvan hy nie hou nie? Gelukkig is daar hoop vir sulke eiesinnigheid.

Kinders met sterk wille is gewoonlik selfgeldend, energiek, gedetermineerd en passievol. Maar om die eiewillige een se ouer te wees is nie maklik nie. Hoe koester ’n mens hierdie eienskappe en ontwikkel dit positief sonder om hom êrens langs die pad te verloor?

Weet wat die rede agter die hardkoppige gedrag is

Onthou, die gedrag wat jy sien, is gewoonlik net die punt van die ysberg. Daar is altyd ’n onderliggende rede. Dit kan wees dat sy die wêreld om haar meer voorspelbaar probeer maak sodat sy weet wat om te verwag. Sy wil kies wat sy aantrek, wat sy eet en hoe en wat sy speel.

Nuwe en onbekende take kan moeilik wees vir haar om uit te voer omdat sy eintlik sukkel met beplanning. Almal dink sy is net hardekwas, maar dis makliker om vas te skop as Ma opdragte gee oor iets wat gedoen moet word.

Roetine en opsies help hulle om dinge te hanteer

Gee jou kind keuses, want dan voel hy jy respekteer sy opinie en daarom sal hy makliker saamwerk. Dit verminder die stryd om die oorhand te kry. “Dit is badtyd. Wil jy die kraan gaan oopdraai of moet ek dit doen?”

Vir jou tiener kan jy sê: “Ek kom haal jou tienuur. Wil jy hê ek moet inkom, of gaan jy by die deur wag?”

’n Streng roetine verminder ook die magstryd. “Dit is nou tyd om op te pak en huiswerk te doen,” klink vir hom meer aanvaarbaar as: “Ek dink ons moet nou oppak sodat jy kan huiswerk doen.” Volgens die roetine is dit nou huiswerktyd. Jou kind gaan met ander woorde die roetine blameer en nie vir jou nie.

Eiewillige kinders wil goed self doen. Skep geleenthede vir haar om onafhanklik te wees. Dit moet natuurlik ouderdomsverwant wees. Jy gaan nie ’n driejarige toelaat om self kos te maak nie, maar hy kan dalk sy eie broodjie smeer en in sy kosblik pak.

Prys jou kind vir sy toewyding en dat hy die taak self gedoen en klaargemaak het. Moenie te veel aandag aan die eindproduk gee nie.

Grense en konsekwentheid tem die koppigheid

Maak dit saak of jou kind met haar feetjie-uitrusting skool toe gaan? Nie regtig nie. Sien maar die klein dingetjies oor sodat wanneer dit by die groot kwessies kom, jy krag en energie het om daaroor te onderhandel en redeneer.

Daar gaan egter reëls in jou huis wees wat nie onderhandelbaar is. Dit is dan dat jou kind moet weet dat dit ’n grens is wat nie oorgesteek kan word en waaroor daar nie onderhandel gaan word nie. Sy wil nie hoor: “Doen dit, want ek sê so nie.” Probeer eerder: “Ek staan vas en gaan nie hierdie reël verander nie.”

Daar is geen keuse wanneer dit kom by ’n sitplekgordel dra in die kar nie. Natuurlik moet sy. Die inkomtyd in die aand is byvoorbeeld elfuur. Almal weet dit en hou daarby. Leuens vertel? Nooit nie.

Om eiewillig te wees is nie ’n slegte eienskap nie. Met die regte leiding (en baie gebed) kan daardie selfgeldende, energieke, gedetermineerde en passievolle kind van jou groot hoogtes bereik.

Lizanne du Plessis, Ouerleiding, kinderontwikkeling en -terapie

Kliek hier vir meer videos en artikels deur Lizanne.

Gebruik die afslagkode LIZANNE om die ouerskappakket SO-O-O OULIK EN SLIM te koop op voelgoedboeke.co.za. 

R209 R299

Kliek hier