Jou en jou kind se persoonlikhede verskil heeltemal. Onthou om die kind groot te maak wat jy het, nie die kind wat jy wou wees nie. 

Elke kind het ’n unieke identiteit 

Jou mooi ekstrovert-kindjie wat baie van lag hou, luidrugtig gesels en kuier, wil die heeltyd net êrens heengaan. Dit terwyl jy, introvert-mamma, eintlik net rustig by die huis wil bly ná ’n lang besige week.

Hoe jy op situasies in die huis reageer, is baiekeer ook hoe jou ouers sou reageer. Dr. Shefali Tsabary praat in haar boek, Conscious Parenting / Bewuste Ouerskap, oor hierdie inner child wat ons almal eintlik nog binne ons ronddra.

Terwyl jy jou kinders grootmaak, het jy amper nou weer hierdie inner child binne jou wat jy in die proses van ouerskap weer van vooraf moet grootmaak.

Ons almal het ons eie identiteit. Ons almal is verskillend. Ons persoonlikhede verskil en dit beteken ook jou kind s’n.

Ja, ons dra ’n bietjie van ons manier van doen aan hulle oor, maar hulle het steeds hulle eie unieke en spontane menswees binne hulleself.

En dit is juis hier waar die moeilikheid intree … wanneer hulle unieke self nie ooreenstem met ons verwagtinge en ons unieke self nie.

Sodra jy ’n ouer word, verander jou identiteit ook. Dr. Becky Bailey skryf dat terwyl ons as kinders grootword, ons hierdie outomatiese reaksie op situasies ontwikkel.

’n Hond wat blaf, laat jou byvoorbeeld skrik en weghardloop. Vir iemand anders sit dit dadelik weer in fight mode.

Ons almal het reaksies wat gebore is uit situasies waarin ons was. Ons kan dit ons autopilot noem.

Lewenservaringe vorm jou outomatiese denkrigtings wat heeltyd wil inskop 

Tydens lewensgebeurtenisse waarin die druk nogal groot is, soos skool, sport en maats maak, word daar sekere paadjies in ons brein gevorm. Dit word ons autopilot.

Dan word jy skielik ’n ouer en jou identiteit verander. Jy moet nou hierdie grootmens op dieselfde pad begelei as die een waarop jy jou kind ’n grootmens moet maak.

Jy word voortdurend gekonfronteer deur die kind binne jou wat hierdie outomatiese denkrigting het. Daardie autopilot wat die heeltyd wil inskop.

Jou kind kom byvoorbeeld by die huis en vertel vir jou van ’n maatjie wat lelik was met haar. Jou reaksie is dadelik of vlug, of veg. Dit maak dalk iets uit jou kinderjare binne jou wakker.

Dink aan konfliksituasies soos wanneer jou kind nie haar kosblik uitgepak het nie. Wat dalk na niks vir ander lyk, is vir jou ’n groot kwessie. Maar hoekom? Dit herinner jou dalk aan ’n kosblik-ervaring uit jou kinderjare.

Geen ouer gaan van die uitgangspunt om hulle kinders onder druk te plaas nie. Jy wil tog nie jou kind op dieselfde manier grootmaak nie. Ons wil nie ons kinders in ’n boksie plaas nie.

Dit bly egter moeilik, maar as ouers wil ons net die beste vir ons kinders hê.

Raak bewus van mekaar se manier van doen 

As ouers wil ons, ons kind se identiteit ontwikkel. Ons wil hulle laat blom en hulle koester. Ons wil hulle só grootmaak dat hulle regtig net hulleself kan wees. Maar dit is nie altyd so eenvoudig nie.

Die eerste pad na versoening en om nie daardie veeleisende ouer te wees wat jou stempel so swaar afdruk dat jou kind sy identiteit verloor nie, is eintlik net bewuswording.

Raak bewus van mekaar se prosesse. Word bewus van die dinge wat jou kind doen wat emosies in jou aanwakker. Dinge wat jy dalk nog nie opgelos het nie. Word bewus van die mooi oomblikke, maar ook die oomblikke wat konflik veroorsaak.

Die belangrikste stap om jou kind groot te maak met sy of haar eie identiteit, is bewuswording van wie hulle is en hoe hulle is. En nog belangriker, raak bewus van hoe dit van jou verskil.

Vier mekaar se oomblikke van andersheid! Jou kind is ’n spontane ekstrovertjie wat baie hou van lag, luidrugtig gesels en kuier. Jy is introvert-mamma wat verkies om rustig by die huis met jou familie te verkeer.

Wanneer daai twee persoonlikhede bymekaar kom, gaan daar tog verskille wees … en dis oukei. Net solank julle mekaar in die proses vind en almal se identiteit veilig voel. Dit is die grondslag vir ’n goeie ouer-kind-verhouding.