Tyd vir gesels met jou kind

246
Lizanne du Plessis
Lizanne du Plessis

Diepgaande geselsies is leer- en groeitye vir almal in die huis. Hierdeur word ouers dinge wys oor wat in hulle kroos se koppe en harte aangaan.

Gesprekvoering is soos ’n tennisspel. Die bal word oor die net geslaan, van die een speler na die ander met ’n spesifieke ritme. Daardie ritme is iets wat aangeleer kan word.

Praat met mekaar al is die omstandighede ongunstig

Om te gesels kan moeilik wees as die tydsberekening swak is. Op daardie oomblik wat jy ’n duisend dinge het om te doen of moeg is na ’n lang dag, wil jou kind dalk ’n hart-tot hartgesprek hê. Dalk vra hy moeilike vrae en is jy nie seker hoe om dit te antwoord nie.

Kinders se brein, emosies, opinies en uitkyk op die wêreld word deur gesprekke gevorm. Of ons nou oor die gevare van ’n haelstorm of die bedelaar op die straathoek gesels, jou kind se denke en vaardighede, soos empatie en probleemoplossing, ontwikkel. Dit help ook om karakter te bou as julle verskillende waardes en opinies bespreek.

Die soort gesprek wat julle voer, gaan afhang van sy ouderdom, persoonlikheid en in die mate waarin hy byvoorbeeld geraak is deur iets wat gebeur het.

[Mentorklas VIDEO] Maak doelbewus tyd vir praat met jou kinders

Maak doelbewus tyd vir praat al kry jy teenkanting

Wanneer jy jou kind laat verstaan dat jy graag na hom luister, voel hy waardig en sal hy weet dat jy hom belangrik genoeg ag om te luister. Ek is bevrees dat indien ons nie geleenthede skep om te “oefen” hoe om met mekaar te gesels nie, dié belangrike vaardigheid nooit aangeleer gaan word nie.

Wees eerstens beskikbaar. Stop, luister en reageer elke keer as jou kind vir jou iets sê of vra. Sit jou foon neer, draai jou lyf na jou kind, lig jou wenkbroue en wys dat jy werklik belangstel. Dan is dit belangrik om nie te oordeel nie.

Selfs al stem jy nie saam nie, moenie dadelik jou mening lug of interpreteer wat hy sê nie. Daar is niks wat ’n kind so vinnig laat ophou praat soos ’n ma wat altyd reghelp of korrigeer nie.

Prys jou kind omdat hy die moed gehad het om sy gedagtes en sy gevoelens te deel.

Gebruik elke geleentheid as ’n kans vir rigting aanwys

Vra nog ’n vraag, daar is altyd meer waar dit vandaan kom as jy net aanhou luister.

Vra byvoorbeeld vrae soos: “Hoe het jy gevoel toe dit gebeur het?” of: “ Kan jy vir my meer vertel?” of: “Sjoe, hoekom dink jy so?”

Praat wanneer julle in die kar ry, wanneer julle toustaan of wanneer julle in ’n spreekkamer wag. Eet saam, speel saam, maak kos saam, doen inkopies saam, kuier saam en gesels saam. Moet nooit ophou gesels nie. Veral terwyl jy nog die geleentheid het om daardie kosbare stemmetjie en daardie pragtige gedagtes te hoor.

Daar is een ding wat jy het wat jou kinders nog nie het nie, en dit is perspektief. Dit kom net deur jare se ondervinding. Jy is dit aan hulle verskuldig om rigting te gee in ’n verwarrende wêreld. Soos met tennis, vind ’n ritme vir julle moeilike gesprekke. Kry die bal oor die net, al is dit soms net-net.

Lizanne du Plessis, Ouerleiding, kinderontwikkeling en -terapie

Kliek hier vir meer videos en artikels deur Lizanne.

Gebruik die afslagkode LIZANNE om die ouerskappakket SO-O-O OULIK EN SLIM te koop op voelgoedboeke.co.za. R209 R299