Help jou kind om selfvertroue te bou wat nie aan prestasie gekoppel is nie. Wys jou kind hoe om eiewaarde te vind in wie hulle is, nie in wat hulle doen nie.  

Gebruik jou woorde om jou kind se selfvertroue te bou 

Jou kind se prestasies op skool dra meriete. Dit kan dalk vir hom ’n beurs, universiteitstoelating vir ’n sekere studierigting of ’n werk beteken, maar sy hart is belangriker.  

Natuurlik wil ons die beste hê vir ons kinders. In hierdie prestasiegedrewe samelewing is daar egter sekere vaardighede wat kinders moet leer om hulle suksesvolle volwassenes te maak. En dit is baie meer werd as negentig persent op hulle skoolrapport.  

Angs onder kinders is aan die toeneem en word selfs deur sommige kenners as ’n epidemie beskou. Daarom dra dit wat ons sê, baie gewig. Daar is baie boodskappe wat ons daagliks kan oordra wat ’n gesonde selfbeeld en eiewaarde sal versterk.  

Terwyl goeie punte en rugbytrofees die tradisionele manier is om sukses te meet, is dit dalk ’n goeie tyd om te dink oor dit wat mense innerlik motiveer om goed te doen in plaas van om op die resultaat te fokus.  

Sê vir jou kind dat hy uniek is, en dat God alreeds voor sy geboorte presies geweet het hoekom hy op aarde is. Om dié rede is dit belangrik dat ons nooit kinders met mekaar moet vergelyk nie.  

Een manier hoe jy jou kind kan help om goed te vaar op skool is om langs hom te loop en nie alles vir hom te doen nie. Dat hy weet jy is daar vir hom is ’n versekering van jou liefde, respek en aanmoediging. Om dinge vir hom te doen skep die verkeerde idee dat kinders ’n bondel gedrag is wat bestuur, gemanipuleer en opgelos moet word.  

Bevestig dat jou liefde nie van prestasie afhang nie 

Kinders moet aangemoedig word om in hulleself te glo – om self oplossings vir probleme te vind en om karaktereienskappe in te span om doelwitte te bereik. Laat hom weet dat hy besig is om die beste weergawe van homself te word deur jou woorde versigtig te kies.  

Om verbeeldingrykheid en kreatiwiteit aan te moedig, sê: “Dankie dat jy my daaraan herinner hoeveel pret dit is om iets uit niks te maak en om skeppend te wees.” As jy wil hê hy moet weet jy respekteer sy morele kompas en integriteit, sê: “Ek bewonder hoe jy nie stilgebly het toe jou maatjie lelik van iemand anders gepraat het nie.”  

Dit is nodig dat hy weet jy sien die klein bedagsame dinge raak wat hy doen. Dit sal empatie en deernis help kweek. Jy kan hom bedank vir sy vriendelikheid en omgee-hart toe hy die maatjie getroos het wat nie die rugbyspan gehaal het nie.  

“Jy is ’n goeie luisteraar,” is ’n stelling wat jou kind help verstaan hoe belangrik goeie kommunikasievaardighede is. As jy vir hom sê dat jy hom waardeer en liefhet vir wie hy is, en nie vir wat hy bereik nie, oortuig hom dat jou liefde nie afhang van ’n trofee of goeie punte nie. Julle hegte band moet gebou word op die feit dat almal foute maak en dat niemand perfek is nie.  

Onthou ook dat jou kind baie wys word uit dit wat jy doen. Moet daarom nie die drukkies, high fives en die oog- of kopknik hier en daar vergeet nie. Volgende keer as hy huis toe kom met sy skoolrapport sal hy weet dat hy nie gedefinieer word deur dit wat op papier staan nie.