Daar was baie mense wat gedurig gekom en gegaan het, sodat Jesus en sy dissipels selfs nie kans gehad het om iets te eet nie. Hy sê toe vir hulle: “Kom julle alleen saam na ’n stil plek toe en rus ’n bietjie.” (Markus 6:31)
Ons almal het ’n sekere boek in ons besit. Dit is veronderstel om ons lewe makliker te maak, meer georganiseerd. Elke jaar met die vrystelling van hierdie boek se nuwe druk, belowe ek my plegtig dat vanjaar anders gaan wees! Voor op die buiteblad staan die woorde: “My Dagboek”…
Sommer al vroeg in die jaar word al my goeie voornemens gekaap deur ander verantwoordelikhede, afsprake en funksies – om nie eens te praat van al die kerk- en skoolaktiwiteite nie! Daar is soveel dinge wat gedoen moet word, soveel mense wat jou aandag verg, so min tyd om by alles uit te kom.
Jy hardloop so rond om almal om jou gelukkig te hou, te pamperlang en te bemoedig, te verpleeg en te verbind, dat jy nie eens agterkom dat jou eie pleisters ’n slegte reukie ontwikkel nie.
Eers wanneer jy tyd maak om die gesig in die spieël mooi te bekyk, sal jy sien haar gesig lyk soos iemand wat ’n slegte reuk in die neus gekry het … En dan wonder ’n mens: Wat het van die “my” in “My Dagboek” geword?
Voel dit ook soms vir jou asof jy, soos Jesus en die dissipels in Markus 6, baie dae net nie rustigheid kan vind nie? Jy sit self met seer wonde wat kan doen met ’n bietjie pamperlang en nuwe skoon verbande, maar daar is eenvoudig nie tyd vir jouself nie.
Moenie skuldig voel omdat jy begeer om uit die gewoel te ontsnap nie. Kom skep vir jou verkwikking by Jesus se voete. Hy ken jou hart en weet elke taak in jou dag is belangrik. Kom kry krag vir hierdie dag by Hom. Kom rus ’n bietjie …