Uittreksel uit In ’n Oomblik deur Elsa Winckler

Kirsten word misgekyk vir ’n bevordering omdat sy glo nie spontaan genoeg is nie. Om haarself te bewys, aanvaar sy ’n uitdaging. Marnus benodig ’n verloofde om ’n hotelgroep oor te neem. Marnus oortuig Kirsten om te maak of hulle verloof is, maar die lyn tussen kamma en rêrig raak vinnig dof.  

Hoofstuk een

Die lawaai is oorverdowend. Kirsten druk haar hande teen haar ore. Al werk dit net vir ’n paar sekondes, is die verligting groot. Hoekom op aarde het sy haar laat inpraat om rugby van alle dinge saam met haar susters te kom kyk? Die wedstryd het nog nie eens begin nie en dis asof almal rondom haar so hard moontlik praat. Half paniekerig kyk sy rond.
Martine gryp haar hand. “O nee, jy gaan nié weghardloop nie. Vir die eerste keer in jou lewe beweeg jy uit jou gemakboksie. Onthou jy hoekom jy nie bevordering gekry het nie? Jou baas dink jy’s te styf en onvriendelik met die kliënte.”
“Gmf,” brom Kirsten, van voor af weer vies oor haar gesprek die vorige dag met Arno Viljoen, die hoof- uitvoerende bestuurder van die maatskappy waar sy as ouditeur werk sedert sy klaar geswot het. “Skynbaar tel dit nie as ek die grootste en meeste kliënte het nie. Volgens hom moet ek minder styf en meer spontaan wees. ’n Mens sal sweer ek werk by ’n nagklub. Dis net ’n verskoning om die werk vir Pieter-Jan, sy pipsqueak van ’n seuntjie te gee. Hy het nog nie eens al sy eksamens deurgekom nie!”
“Wel,” lag Lynn. “Ek stem saam met jou, dis baie onregverdig, jy werk so hard, maar hy het dalk ’n punt beet. Jy ís baie rigied en gedissiplineerd – alles baie goeie eienskappe, toegegee, maar goeiste, af en toe moet jy darem uit jou gemakboksie klim. Ek dink jy steur jou nog al die tyd aan daai simpel eks van jou wat gesê het jy is slim, maar ’n koue vrou en nie troumateriaal nie. Wat was sy naam nou weer?”
“Koen Beukes,” sê Martine.
“O ja,” sê Lynn. “Hy kyk ’n mens nooit in die oë nie; ek het jou gesê ek hou niks van hom nie. Vandag is die dag wat jy iets spontaans doen, Kiki. Ons wat jou ken, weet jy’s warm en funny en lojaal, maar dis asof jy ’n ander masker opsit wanneer jy by die huis uitstap.”
“Watse masker? Ek is spontaan,” brom Kirsten. Koen Beukes se naam jaag net haar bloeddruk verder op. Haar susters is seker reg. Sy venynige woorde nadat sy nie saam met hom in die bed wou spring nie, flits tot haar frustrasie nog steeds tydig en ontydig deur haar gedagtes.
“Noem een ding wat jy al gedoen het wat spontaan is,” daag Martine haar uit. “Jy’t altyd gesê jy wil eendag jou eie besigheid begin, maar jy het nog nie sover gekom nie, want dit gaan ook beteken jy moet uit jou gemaksone beweeg.”
Kirsten hap in die lug. “Ek kan nie nou aan iets dink nie, maar . . .”
“Presies,” sê Lynn en haar glimlag verdwyn. Sy sit ’n hand op Kirsten se arm. “Jy was in graad agt toe kanker vir Mamma weggevat het. Lank voor daardie dag het jy reeds die rol as ma vir ons drie by haar oorgeneem. Jy leef volgens streng reëls en is baie gedissiplineerd, iets wat ons almal bewonder, glo my, maar af en toe kan jy ’n bietjie skietgee. Ons is nou mooi groot, ons is nie meer jou verantwoordelikheid nie. Jy kan gerus die leisels laat los en sommer net die dag geniet. En vandag is ’n goeie dag om iets spontaans te doen.”
“Soos wat nogal?” brom Kirsten vies. Haar sussies sal altyd haar verantwoordelikheid bly; dis tog wat sy haar ma belowe het.

Uittreksel uit In ’n Oomblik deur Elsa Winckler

Kry hierdie verhaal en nog vele ander by jou naaste boekwinkel of aanlyn op LAPA se webtuiste: https://loom.ly/KBzsJ3U

“Doen iets wat heeltemal nie jou karakter is nie,” sê Martine.
“Knoop ’n gesprek aan met ’n wildvreemdeling,” stel Lynn voor.
“Of nog beter,” sê Ella terwyl sy rondkyk, “kies ’n belaglik aantreklike man en flirt ’n bietjie met hom. Jy date nooit.”
“Ek date,” brom Kirsten.
“Ja? Wanneer laas?” lag Ella.
Kirsten frons. Sy kan nie onthou nie.
“Jip,” sê Martine. “Baie lank laas. Niemand sê jy moet met die ou trou nie, maar goeiste jy mag af en toe uitgaan. Dis fun.”
Kirsten snork onvroulik. “Gmf, fun? Mans is gewoon uitputtend. Om hulle te probeer gelukkig hou, is baie harde werk. En ek date inderdaad. Oukei, nie baie nie, maar regtig, ek lees baie eerder ’n boek as om te sit en luister hoe iemand ’n hele aand lank net oor homself praat. Of nog erger, simpel grappies maak wat hy twee, drie keer herhaal.”
“Het jy nog nooit iemand ontmoet wat jou hart net effens vinniger laat klop nie?” vra Ella.
Kirsten skud haar kop beslis. “Dis die twak wat romkomflieks aan ons opdis. As jou hart vinniger klop, het jy heel waarskynlik een of ander hartprobleem, wat beteken jy moet by ’n dokter uitkom. Jy dink dalk jy’s verlief, maar dis bloot biologie. Lees ’n liefdesverhaal as jy moet. Navorsing bewys dieselfde goedvoelhormone wat afgeskei word wanneer jy jou verbeel jy’s verlief, word ook afgeskei wanneer jy ’n liefdesverhaal lees. Om ’n boek te lees is net baie minder gekompliseerd.”
“Goeiste, maar jy’s sinies. Kry jy ook nie skoenlappers op jou maag nie?” hou Ella aan.
Kirsten sug. “Drink iets as daar ’n vreemde beweging in jou maag is. Ek kan jou belowe dis nie skoenlappers nie. Absolute onsin.”
“Aarde, maar jy is skepties,” lag Martine.
“Nie skepties nie,” sê Kirsten. “Nugter. Realisties.”
“Dit behoort jou dan mos nie te pla om met ’n vreemde man te gesels nie,” sê Lynn terwyl sy rondkyk. “Van wat ek so vinnig kan sien, is hier heelparty mooi manne, ek dink nie jy gaan sukkel om een te kry nie.”
“Moenie laf wees nie,” brom Kirsten, hartlik keelvol vir haar susters.
“Jy is een van die mooiste vrouens wat ek ken,” sê Ella en draai na Kirsten. “As jy net . . .”
Voor Kirsten besef wat Ella se plan is, pluk sy die haarnaalde uit Kirsten se hare en dit val los oor haar skouers.
Kirsten probeer die naalde terugvat uit Ella se hande, maar haar suster druk dit in haar baadjiesak. “Jy’s gorgeous, ek weet nie hoekom jy alewig jou hare so styf agtertoe in ’n bolla vasmaak en sulke formele klere dra nie. Kyk hoe mooi lyk jy in jou jeans. Ek gaan al jou knippies en haarnaalde weggooi.”
“Ek stem saam,” knipoog Martine. “Jy lyk sommer klaar spontaan.”
“Ek het nie tyd vir spontaan wees nie,” brom Kirsten. “Ek het ’n plan vir my lewe . . . oukei, ek het ’n plan gehad . . .”
“Presies,” sê Ella. “Life happens, Ousus. Jy kan beplan tot jy blou in die gesig is, maar dinge gebeur waaroor jy geen beheer het nie. Ek weet dis moeilik vir ’n beheervraat soos jy.”
“Ek is nié ’n beheervraat nie.” Kirsten is sommer ergerlik. Wat krap haar susters vandag so aan haar? Sy hou van netjiese kolomme, somme wat klop – dit maak haar nie ’n beheervraat nie. “’n Mens noem dit verantwoordelik wees.”
“Ja,” sug Lynn, “maar jy’s té.”
“Té wat?” Geïrriteerd vee Kirsten haar hare uit haar gesig.
“Alles!” Ella gooi haar hande in die lug. “Laat los die leisels, go with the flow en moenie vergeet om die lewe te geniet nie.”
Kirsten snork onvroulik. Ella, die perdeterapeut sal altyd ’n manier vind om na haar passie te verwys. Laat los die leisels – en dan? Leef in chaos? Reageer op elke impuls? “Dis omdat almal go with the flow wat die wêreld lyk soos dit lyk.”
“Oukei, julle, die game begin,” sê Martine. “Fokus.”
Kirsten sluk die kreun in wat wil uitglip. Daar is so baie ander dinge wat sy vandag wil doen, en om rugby te kyk is beslis nie een van haar prioriteite nie. Hulle al vier het as kinders gereeld saam met hulle pa rugby gekyk, maar dis nie asof dit haar ooit opgewonde gemaak het nie. ’n Spul swetende mans wat ’n bal rondskop, het regtig nog nooit iets vir haar gedoen nie.
“Wie speel nou weer?” vra sy. Haar sussies hoef dit nie te weet nie, maar dis nogal ’n verligting om nié haar hare so styf op haar kop vasgemaak te hê nie.
Lynn glimlag. “Die Stormers en die All Blacks.” Sy sit regop. “Oe, kyk daai vleuel se mooi boudjies!”
Dié slag probeer Kirsten nie eens die kreun inhou nie en laat val haar kop in haar hande. Dis een van die ander redes hoekom sy dit vermy om saam met haar susters na enige sport te kyk. Hulle maak meer op- en aanmerkings oor die manne se bene of boude of skouers as oor die wedstryd waarna hulle kyk.
’n Krieweling gly langs haar ruggraat af. Hou iemand haar dop? Met groot moeite weerhou sy haarself om agter haar te kyk. Sy is heeltemal laf. Haar susters laat draai altyd die koppe, nie sy nie.
Teen die einde van die wedstryd het sy sowaar ontspan. Opgewonde spring sy saam met haar sus­ters op en af. Wie’t gesê sy kan nie spontaan wees nie? Hulle span het gewen. Sy kan nie onthou wan­neer laas sy op ’n Saterdag iets anders gedoen het as om te werk nie.
Martine se woorde van vroeër klink weer in haar ore op.
“Jy praat al so lank daarvan om jou eie be­sigheid te begin . . .” Dit was aanvanklik haar droom, maar iewers oor die jare het dit makliker geword om te bly waar sy is en die leer voor haar te klim as om weer van voor af te begin. Is dit nie nou die tyd om wel so iets te doen nie?
Die boys’ club het haar weer netjies van die leer afgestamp. Natuurlik sal dit heerlik wees om vir haar­self te werk, maar daarmee saam kom ook ’n klomp ander probleme en verantwoordelikhede. Sien sy regtig daarvoor kans?
Lynn se lag bring haar terug na die hede. Sy ge­niet dit tog om saam met haar susters te kuier; sy moet dit meermale doen.
Al geselsend stap hulle saam met die ander toeskouers uit die groot stadion. Buite drom die mense hier en daar in groepies saam, ander loop met doel­gerigte treë in die rigting waar motors parkeer is.
“Oe, gepraat van boudjies,” fluister Lynn, “die blonde adonis op twaalfuur is nogal sag op die oog.”
“Wow,” sê Ella, “en kyk daai breë skouers.”
Martine wikkel haar wenkbroue. “Wat wed ek julle hy het blou oë?”
“Hoe kan ons uitvind?” Ella sug kamma drama­ties, haar oë op Kirsten.
“Kiki, hoe lyk dit?” lag Martine. “Ek dare jou om aan sy hand te vat en te kyk watter kleur oë hy het.”
Kirsten druk haar sonbril stewig op haar oë. Haar susters weet baie goed hoe sy reageer wanneer hulle haar uitdaag, maar Martine se voorstel is darem net té belaglik. “Julle is heeltemal laf. Wie op aarde doen so iets?”
“Iemand wat wil bewys sy kan ook spontaan wees.” Lynn se glimlag is breed. “Toe? Wat is die erg­ste wat kan gebeur? Of is jy chicken?”
Kirsten trek haar skouers terug. Dis ’n fout, ’n groot fout, sy weet sommer net, maar sy is nié chick­en nie. Buitendien, wat is die ergste wat kan gebeur? Dis in die oopte tussen baie ander mense. Dis nie asof hy haar kan ontvoer of iets nie.
Sy sal aan die adonis se hand vat, vra hy moet saamspeel en haar daarná so vinnig moontlik uit die voete maak.
Wat kan verkeerd gaan?

Kry hierdie verhaal en nog vele ander by jou naaste boekwinkel of aanlyn op LAPA se webtuiste: https://loom.ly/KBzsJ3U

Deel die artikel

Méér artikels

My hart klop so is ’n getuienis van moed en deursettingsvermoë om jou ware identiteit te vind, te leef en te vier. Dit is inspirasie ...

Die O’Connor-broers loop hulle vas in vier omgewingsbewuste vroue van Fynbosbaai. ’n Groter gevaar bedreig hulle almal … SullivanHy was al bekommerd hy’t die hele ...

Scroll to Top