Die O’Connor-broers loop hulle vas in vier omgewingsbewuste vroue van Fynbosbaai. ’n Groter gevaar bedreig hulle almal …
Sullivan
Hy was al bekommerd hy’t die hele toneel gedroom, maar hy’t reg onthou. Die weer speel gelukkig ook saam. Dis die einde van Maart, die dae al korter, die nagte effens koeler. Hulle is in die mis weg uit Bettysbaai, maar die son breek net mooi op die regte oomblik deur.
Sullivan se oë gly oor die uitstulpings ver onderkant hom, die klip-boë, die een opgestapelde stuk rots in die see, die beskutte strand, verskeie inhamme en die lieflike kranse. Hy kon net sowel aan die kus van Ierland gewees het.
Dis die plek. Hy wink sy drie broers wat aangedraf kom, nader en beduie na die toneel voor hom. “Sien julle wat ek sien?”
Liam, Rooney en Declan leun hygend vorentoe.
Sullivan lag. “Wanneer het julle so sleg geraak? Dis minder as tien kilometer tot hier. Vir manne wat al die Comrades gehardloop het, is julle seriously onfiks.”
Liam kry eerste sy asem terug. “Wat de hel, man? Jy’t gesê ons gaan ’n entjie draf, as ek reg onthou.”
“Jy kon ons gewaarsku het.” Declan kam sy kuif uit sy oë.
Rooney sluit by Sullivan aan waar hy op die rand van die hoë afgrond staan. Sy jongste broer praat nie baie nie.
Declan en Liam kom ook nader.
“Dit kon net sowel Clocherstrand aan die Ierse suidweskus gewees het,” sê Declan. “Pa se geboorteplek.”
Sullivan beduie na ’n stuk grond wat ver onderkant hulle tot teenaan die klein strandjie strek. “Vir ons volgende ontwikkeling, of wat dink julle?
Met sy hande in sy sye knik Liam. “Rooney?”
Rooney beweeg verder weg. “Is dit Fynbosbaai se huise wat agter daai rots uitsteek?”
“Jip,” knik Sullivan en wag.
Rooney, die argitek van hulle maatskappy, is nog ’n rukkie stil voor hy praat. “Dis juis die soort plek waar jy die omgewing so min as moontlik wil versteur. Die manier waarop ons ontwikkelings bioklimatiese argitektuur en volhoubare argitektoniese konsepte integreer, is ideaal vir ’n behuisingskompleks hier.”
“Ek sal navraag doen oor die grond.” Liam is die maatskappy se regsgeleerde.
Declan stap nog nader aan die rand. “Hoekom het ons nog nooit dié baai gesien nie?”
“Wel,” sê Sullivan, “van hierdie kant af is nie ’n pad nie. En hier is tekens dat die indringerplante en -bome wat die uitsig belemmer het, onlangs verwyder is. Van Fynbosbaai se kant af sien ’n mens nie sommer hierdie baai as jy nie daarvan weet nie.”
“Wat gaan daar aan?” Rooney beduie na ’n boot onder in die see wat in die rigting van die rotse vaar.
“Stropers as jy my vra. Dis ’n groot probleem aan hierdie deel van die kus.” Liam beweeg ’n ent weg. “Ek het ’n idee ons word dopgehou.”
“Die stropers?” vra Rooney.
“Nope, heel onder op die klein strandjie.” Liam beduie na onder.
Nóú beskikbaar – ’n Ierse knoop
’n Ierse knoop is beskikbaar by jou naaste boekwinkel en aanlyn: https://loom.ly/Ww5_ZPo
Sullivan stap ook nader aan die rand. Van hier kan hulle vier figure op die strand uitmaak, vrouens te oordeel na die swemklere wat hulle aanhet. Een het ’n verkyker voor haar oë. Met ’n grinnik waai hy.
Sy draai weg, maar die ander drie kyk nog op teen die hoë krans na waar hulle staan.
“Dis langnaweek, seker vakansiegangers,” sê Liam. “Is Fynbosbaai nie maar ’n aftreeplek nie?”
“Heel waarskynlik.” Terwyl hulle nog afkyk na die strand, vra Sullivan die vraag wat hulle al vier eerder vermy. “Enige een van julle onlangs kontak met Ma gehad?”
Almal skud kop. Vir ’n rukkie is dit stil.
“Hoekom sy en Pa ooit getroud is, sal ek graag wil weet.” Rooney skud sy kop. “Ek dink nie ek het hulle ooit aan mekaar sien raak nie. Daar is ook nie ’n enkele foto van hulle jong dae in die huis of êrens in ’n kas nie, ek het al gesoek.”
“Ek het tog ’n prentjie in my kop van hulle verlief en gelukkig.” Sullivan haal sy skouers op. “Kan ook wees dat ek iets onthou wat nooit daar was nie.”
“Jy’s die oudste,” sê Declan. “Dalk was daar aanvanklik iets, hoe sal ons weet? Hulle was altyd daar vir ons, maar vandat ek kan onthou – en ek is vier jaar jonger as jy, Sullivan – het hulle elkeen hulle eie kamer gehad. Ek het gedink dit werk so as jy getroud is, totdat ek soms by pelle oorgeslaap het.”
“Ek het ook herinneringe aan gelukkiger tye,” sê Liam. “Presies wanneer dit verander het, weet ek nie, ek weet net hulle was albei later baie ongelukkig. Dalk het iets gebeur, dalk het hulle agtergekom hulle is nie meer lief vir mekaar nie. Ons moet hulle tog eendag vra.”
Sullivan snork. “Laat weet my net wanneer jy dit doen. Ma sal weer ontplof. Ek wil nie naby wees nie.”
“Ek is jammer vir Pa,” sê Declan.
“Pa het al ’n jaar gelede by haar uitgetrek,” sê Rooney. “Ek weet nie hoekom hulle nie lankal die besluit geneem het nie.”
“Ek het al vir hom gevra wat gebeur het,” sê Sullivan. “Hy’t net ver gekyk en gesê dis sy skuld.”
Dis weer stil.
“Is hulle die rede hoekom nog nie een van ons getroud is nie?” Liam kyk na Sullivan. “Is dit nie tyd dat jy ’n move maak nie?”
Met ’n lag klop Sullivan sy broer op die skouer. “Julle sal lank wag. Hoekom een vrou trou as daar so baie is?”
Liam skud sy kop. “Ek sien ook nie kans om soos jy kort-kort iemand anders te date nie. Raak jy nie deurmekaar nie?”
Sullivan grinnik. “Dit gebeur soms.”
“Die laaste vrou wat ek huis toe gebring het, het my huis so omgekrap, ek soek nou nog na goed. Ek hou nie van vreemde mense in my huis nie.”
Almal lag. Declan, ’n geoktrooieerde rekenmeester en die wêreld se introvertste introvert, hou van dinge in rytjies en op hulle plek. Hy verkies sy twee honde bo mense.
Declan trek net sy skouers op. “Wat van jou, Rooney? Date jy nog daai model?”
Rooney kyk weg. “Sy’s weg. Soos al die ander voor haar.” Sy glimlag is wrang. “As jou eie ma vir jou gereeld vertel jy was ’n verrassing wat sy nie wou hê nie, verwag jy nie iemand wil bly nie. Ierse stories, soos ons weet, het selde ’n happy ending.”
Liam frons. “Presies. Hoekom moeilikheid gaan soek as jy weet hoe dit gaan eindig.”
Sullivan draai weg. “Kom, Pa wonder seker al waar is ons. Sal julle ou manne dit maak?”
Steun-steun volg hulle hom.
Terwyl hulle weer begin draf, kyk Sullivan na Rooney. Sy jongste broer is ongelukkig reg. Hulle ma raak maklik geïrriteerd met hom. Hulle pa en hy en Liam en Declan probeer opmaak daarvoor, maar niks vervang ’n ma se liefde nie.
Net nog ’n bewys hoe ingewikkeld verhoudings kan raak, beslis nie iets waarin hy belang stel nie.
***
Lika
Lika kyk weer op teen die krans. Die mans wat nog minute gelede daar gestaan het, is weg. “Wat dink julle soek vier mans op ’n Saterdagoggend juis aan die bokant van daardie krans?”
“Solank hulle net nie ook planne het om ’n swanky hotel hier te bou soos wat Dawid Jonker wil doen nie,” brom Eden.
“Ek kan nou nog nie glo hy dink eers aan so iets nie.” Anke is sommer opgewerk. “Hy bly tog al jare op Fynbosbaai en behoort te weet hoe almal wat hier woon oor die area voel. Gaan bou jou hotel op Hermanus of selfs Kleinmond, los ons baai uit.”
Miné gaan sit weer op haar handdoek. “Wel, jy kan maar net na die huis kyk wat Dawid en sy Lindi laat bou het, om te weet hoe ’n hotel gaan lyk waarby hy betrokke is. Die ene pilare en krulle – dis die grillerigste plek. Ek sidder as ek dink watse soort hotel hulle wil bou.”
“Ek sal baie graag wil weet waar hy aan sy geld kom. Hy was in die polisie sover ek weet. Nou nie exactly ’n high paying job nie, of hoe?”
Miné lag. “Jou krimiskrywersverbeelding is weer op loop, Lika. Hy’t dalk by iemand geërf, hoe sal ons weet?”
“Wel, ek is reg vir enigiemand wat die vrede en die natuur hier wil versteur. Maak nie saak hoe baie keer hulle dreigbriewe voor my deur los nie.”
Lika sit haar hand op Anke se arm. “Die berig in die koerant oor jou artikel oor die Kogelbergarea het beslis iémand ongelukkig gemaak.”
Anke knik. “Dit gaan mos maar oor my eie geleefde werklikheid, my persoonlike maar ook die publieke perspektief van sosio-omgewingskwessies in die Kogelberg-biosfeer. Ek het gewaag om ook oor die stropers te skryf. Hulle hou nie daarvan nie.”
“Wat sê die polisie oor die dreigemente?” vra Eden.
Anke klik haar tong vies. “Wat dink jy? Sal kamma daarna kyk, maar ek hou nie my asem op nie. Dawid Jonker is natuurlik ook lekker opgewerk oor my besware oor die beoogde bou van ’n hotel. Dit sal my nie verbaas as hy die een is wat die dreigemente voor my deur los nie. Ek dink ons moet ons huiswerk doen sodat ons gereed is vir enige voorstelle van watter tipe ontwikkeling ook al oor gepraat word.”
Miné knik. “Ek het juis weer verlede week tydens die staptog op die mikropaddatjie afgekom en kon die mooiste foto’s neem. Dis so ’n skaars spesie en ’n mens kry dit nog net op ’n paar plekke in Suid-Afrika.”
“En onthou van die Satyrium hallackii Bolus,” sê Eden.
Anke lag. “Dis ook net jy wat ’n Latynse naam met ’n straight face kan sê.”
Eden glimlag. “Dis van die fynbos wat ek graag skilder. Dis baie skaars en kom voor in die nat sandgebiede. Dis juis bedreig as gevolg van al die indringerplante wat nie verwyder word nie.”
“Wel, maak lysies, ons moet ons skietgoed regkry vir wie ook al ons vrede wil kom versteur.” Soos gewoonlik, beplan Anke weer alles haarfyn. “Miné, kan jy nie met ’n veldtog op sosiale media begin nie? Vertel jou duisende volgelinge van die bedreiging wat enige tipe ontwikkeling vir die mikropaddatjie en vir sommige fynbos inhou.”
Miné is dadelik opgewonde. “Ek sal sommer vanaand begin.”
“Ek het die mooi foto’s gesien wat jy van jou Viëtnam-trip gedeel het.”
Miné lag en die string armbande wat sy gewoonlik dra, klingel vrolik saam. “Wie’t nou gedink ’n mens kan ’n bestaan maak deur te reis en foto’s op sosiale media te deel? Eden, as jy vir my inligting het oor daai plant, kan ek beslis met ’n veldtog vir die plant en die mikropaddatjie begin.”
Lika hou die bottel in die lug. “Nog vonkelwyn vir iemand?” Almal hou hulle glase uit.
Met ’n laaste kyk na die bokant van die krans skink Lika vonkelwyn vir haar vriendinne. Dalk was die mans heel toevallig bokant die kranse. Die probleem is net, sy het nog nooit in toeval geglo nie.
Sy lig die verkyker na die boot wat nie ver van hulle af nie teen die rotse lê. “Flippen stropers.”
“Moenie na hulle kyk nie,” fluister Eden dringend. “Daai ouens het geen respek vir lewe nie.”
Brom-brom gaan sit Lika. “Ek kan nie verstaan hoekom niémand iets aan die stropery kan doen nie.”
“Ek lees die een vrag wat nou die aand voorgekeer is, het glo ’n waarde van vyfhonderdduisend rand,” sê Anke. “Hulle het ook beslag gelê op vrieskaste, skale, selfone, rekenaars en ’n voertuig. En nie watse voertuig nie, een van daai duur, moewiese grotes. Ek het al met die owerhede probeer praat, ek sien die stropers elke aand op ’n voetpad agter my huis verbyloop. Hulle luister kamma aandagtig, maar niemand doen iets daaraan nie. Ek dink die korrupsie lê diep en wyd.”
Miné kreun en lig haar glas. “Nee, ons gaan nie die mooi dag bederf met praatjies oor stropers en korrupsie nie. Op die lewe!”
Lika lig haar glas en glimlag, maar sy kyk weer oor haar skouer na waar die stropers helder oordag, sonder enige hindernis, die seebodem stroop van perlemoen.
’n Ierse knoop is beskikbaar by jou naaste boekwinkel en aanlyn: https://loom.ly/Ww5_ZPo