Uittreksel uit My hart klop so deur Rachelle Fourie

My hart klop so is ’n getuienis van moed en deursettingsvermoë om jou ware identiteit te vind, te leef en te vier. Dit is inspirasie vir elke meisie en vrou om ten volle haarself te wees en die Here te ken in alles wat sy doen.

Voorwoord

Die wind waai deur my hare toe ek uit die kar klim en koers kies na die roomyswaentjie. Jy weet, daardie een by Die Punt in Mosselbaai. Daar is min dinge in die lewe wat ’n see-uitsig wat jou asem wegslaan en roomys wat begin drup nog voor jy behoorlik kan besluit watter geur jy wil hê, kan klop. Dit is ook waar van die ritmiese klap van branders wat soos God se eie agtergrondmusiek klink.
Gee my ’n bankie daar en ek kan ure sit en staar na die oopte van die see. Dit is snaaks hoe mense altyd vra: see of Bosveld? Ek weier om te kies. In die Bosveld ervaar ek Jesus se nabyheid soos sagte drukkies. Maar die see … die see wys vir my iets anders: Sy majesteit, Sy grootsheid, Sy eindeloosheid. Dit voel vir my asof Jesus aanhoudend praat – soos ’n fyn briesie. Ek moet net leer om stil te raak en te luister.
Dit is daardie tipe stilraak waar dit voel asof jy aan alles dink, maar eintlik dink jy aan niks. Ek weet nie of dit vir jou sin maak nie, maar dit maak sin vir my. Wanneer hierdie wilde wêreld waarin ek myself bevind my begin oorweldig, verlang ek na die see. My Horeb. My berg. My wegkruipplek.
Horeb is die plek waar Elia homself oornag in ’n grot bevind het. Hy was moeg, moedeloos en op die vlug. In 1 Konings 19 (AFR83) lees ons dat God vir Elia sê: “Kom buitekant toe en gaan staan voor My by die berg.” Elia het verwag dat God sou opdaag in die groot oomblikke: die wind wat berge skeur, die aardbewing wat alles laat bewe, die vuur wat alles verteer. Maar God was nie daarin nie.
En toe … stilte.
’n Fluisterstem. Die oomblik toe Elia die sagte gesuis hoor, het hy sy gesig met sy mantel toegemaak.
Dit was dáár waar God gepraat het. Nie om Elia te berispe nie, maar om sy identiteit en roeping te herstel.
My gedagtes was eerlikwaar stiller vóór my deelname aan Op My Eish! En as ek nou moeg raak, gebeur daardie gevaarlike ding waar jou brein ophou om goeie besluite te neem. Dit is gewoonlik dán wanneer ek op Facebook beland. Ou Facebook. Jy weet daardie platform waar mense hul opinies uitdeel soos gratis Wi-Fi, al het niemand eintlik daarvoor gevra nie.
Scroll. Scroll. En toe … boem! ’n Kommentaar.
En ja, jy raai reg: van ’n tannie. Sy vra hoekom ek nog Rachelle Fourie is, want ek is mos nou getroud. Ek glo sy het dit goed bedoel. Dalk wou sy net seker maak ek het nie my huwelik gemis tussen al die hashtags en filters deur nie. Asof ’n Facebook-van ook sommer outomaties ’n huweliksverbond bekragtig. Klik hier, en voilà! Ewige trou is gesmee.
Die eerlike waarheid, Tannie? Ek het nog nie my van verander nie omdat ek eenvoudig net nie weet hoe nie. Ek het al probeer. Regtig, ek het. Met oorgawe. Maar ek sal weer probeer – miskien kom ek hierdie keer reg. En as jy, liewe leser, toevallig weet hoe Facebook se vanveranderingsproses werk, voel vry om vir my ’n boodskap te stuur. Ek sal dit opreg waardeer ter wille van vrede. En die tannies.
So, waarom is my skrywernaam nog Rachelle Fourie? Ek wás Rachelle Fourie toe ek begin skryf het. Intussen het ek getrou. En dit is hoekom ek besluit het om die naam op die voorblad eenvoudig te hou: Rachelle Fourie. Nie omdat ek nie my man se van aangeneem het nie – ek hou nogal baie van hom, dankie. Rachelle Rousseau has a nice ring to it, maar ek wil nie hê iemand moet hierdie boek optel en wonder wie is Rachelle Rousseau nie.
Die boek begin by wie ek was toe die eerste woorde op papier geval het. Soms is dit belangriker om getrou te bly aan waar ’n storie begin het as om alles onderweg te verander.

Uittreksel uit My hart klop so deur Rachelle Fourie

Kry jou kopie nou by jou naaste boekwinkel of aanlyn: https://loom.ly/FoAR940

Die lekker ding is: Jy hoef nie nou al alles te weet nie. Hierdie boek vat jou saam van waar ek begin het tot waar ek vandag staan. Ek neem jou saam op my lewensreis, want ek is nie nét die meisie van Op My Eish! nie.
Soos Edith Eger dit in The Choice doen, wil ek jou vir ’n oomblik laat stilstaan en vra: Hoekom hierdie boek? Hoekom juis nou? Is jy bloot nuuskierig of is jy bereid om saam met my ’n pad van roeping, geloof en identiteit te stap?
Die tyd ná my verskyning op TV was nie altyd maanskyn, son en rose nie. Party dae het dit eerlikwaar gevoel soos ’n doring in my vlees – iets wat pla, wat seermaak, wat jou net ongemaklik genoeg hou om nie te vergeet jy is net mens nie. Dit het my aan Paulus laat dink.
In 2 Korintiërs skryf hy van sy eie doring, iets wat hy drie keer vir die Here gevra het om weg te neem. Ons weet nie wat dit was nie. En dalk is dit presies die punt. Want elkeen van ons het ’n doring wat anders lyk. God se antwoord was nie verlossing daarvan nie, maar ’n belofte: “My genade is vir jou genoeg, want My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” (12:9b, AFR83)
Dit het my laat besef: Dalk is my doring, hierdie roeping, nie daar om my te breek nie, maar om my nader te trek. Dalk is dit nie ’n straf nie, maar ’n uitnodiging om minder op myself staat te maak en meer op Hom.
Die wêreld het my vir ’n rukkie leer ken deur ’n skerm, ’n storie wat ek nie geskryf het nie. Maar die stories wat in my leef, wat my gevorm, gebreek, genees en nader aan God gebring het – dít is my ware verhaal.
My hart klop so is my manier om my storie terug te neem en dit met jou te deel in die hoop dat iets daarvan ook in jou sal resoneer. Dat God die middelpunt van alles sal wees, en dat my getuienis vir jou hoop kan bring wanneer moedhou té moeilik raak en die wêreld net ’n bietjie té swaar druk. En dalk is dit waar alles vir my die sirkel voltooi – by Horeb.
Nie by die geraas nie.
Nie by die menings, die kommentare of die applous nie. Maar by die stilte.
Daar by die ingang van die grot waar Elia weer in nederigheid voor God gaan staan. Waar hy nie meer wegkruip nie, maar ontvanklik, beskikbaar en gereed is om te luister.
Soos Elia raak ek ook soms moeg. Nie altyd fisies nie, maar diep binne-in my. Moeg vir teleurstelling. Moeg vir wanhoop. Moeg vir al die verwagtinge en alleenstaan.
En tog leer God my keer op keer:
Hy is nie altyd in die wind nie.
Hy is nie altyd in die aardbewing nie. Hy is nie altyd in die vuur nie.
Soms is Hy net hier – in die liefdevolle fluistering, in die stilte wat jou nooi om weer jou hart oop te maak.
Die see is vir my daardie plek. My Horeb. Die ruimte waar ek weer hoor wie God is, en wie Hy sê ek is, sonder filters, sonder geraas. En dalk is hierdie boek ook só ’n ruimte. Nie ’n antwoord op alles nie. Nie ’n groot verklaring nie. Maar ’n uitnodiging om weer stil te raak.
So, liewe leser, as jy hier lees, glo ek nie dit is toevallig nie. Welkom by my Horeb. Ek is Rachelle Rousseau. Ek wens ek kan jou eendag in persoon ontmoet.
Mag jy soos Elia nie vir God mis omdat jy Hom in die geraas soek nie, maar ontmoet Hom in die stilte.
Welkom by My hart klop so.

Die klop van genade

Dit was ’n lang dag by die skool. ’n Hoërskool vir meisies in Potchefstroom is al sedert 2019 my tuiste as wiskundeonderwyser vir die graadagts. Ek het begin skoolgee tydens een van die mees uitdagende tye – Covid-19. Toe ek hier begin het, was ek nog ’n finalejaarstudent. Aan die einde van die eerste semester, toe die pandemie die wêreld op sy kop draai, het ek dringend na werk gesoek en by dié skool beland. Die manier waarop ek hier beland het, is op sigself ’n storie wat ek later sal deel.
Onderwys was nooit heel bo aan my lysie van beroepe wat ek wou studeer nie, maar ek kan nou sien hoe dit deel gevorm het van God se plan. Hy het my hier geplaas met ’n doel, en ek sien dit elke dag in die klein dinge – in hoe ek ’n kind help om ’n som te verstaan of ’n jong meisie aanmoedig om haar potensiaal raak te sien.
Normaalweg is ek mal oor die kinders se energie – daardie lewendige gees en lawwe grappies maak elke dag spesiaal. Maar vandag? Vandag was vir my ’n uitdaging. My fisiese welstand het ’n bietjie teen my gewerk, en ek het elke stukkie energie wat ek kon bymekaarskraap nodig gehad om deur die dag te kom. Selfs die kinders se gewoonlik aansteeklike gees het my laat voel asof ek ’n berg uitklim.
Ek sukkel steeds om my voete te vind met die gejaag van die nuwe kwartaal wat begin het. Ek raak vinnig moeg en is al te gewoond aan lê. Die dokters het my gewaarsku dat dit ’n tydjie gaan neem voor ek weer normaal sal voel. Die derde kwartaal is gelukkig ’n bietjie rustiger, maar die lang ure van klasgee vat aan my. Ek moet amper ná elke sin diep asemhaal, en té lank staan op my voete is net nie ’n opsie nie.
Die kinders het begin oplet dat ek swaartrek, en dit raak my diep. Dit is vir my moeilik om nie my beste vir hulle te kan gee nie. Een van hulle het eendag vir my gesê: “Juffrou, ons verstaan. Sit ’n bietjie.” Die liefde en begrip in daardie eenvoudige woorde was hartroerend, maar hier diep binne het ek gevoel dat ek ’n mislukking is. Ek wou sterk wees vir hulle, maar my liggaam het nie altyd saamgewerk nie.
Ek het met ’n groot skok aan die einde van die eerste kwartaal uitgevind dat ek ’n hartoperasie moet ondergaan. Hardkoppigheid is beslis ’n woord waarmee ’n mens my kan beskryf. Ek het sowat ’n jaar vantevore een middag dokter toe gegaan om ’n voorskrif te kry vir ’n gewone verkoue. Niks ongewoon vir ’n onderwyser nie.
Die dokter het sy roetine gevolg: in my ore geloer, my keel bekyk en natuurlik na my hartklop geluister. Maar toe hy by my hart kom, het hy skielik stil geraak … en weer geluister. Hy het gesê hy hoor ’n geruis – iets wat moontlik op ’n lekkende hartklep kan dui. Hy het aanbeveel dat ek ’n hartsonar laat doen.
Maar in my agterkop het ek gedink: “Ek het nie nou tyd vir sulke nonsens nie. Dit is kwartaal een. Die skool is dol besig.”
Ek het dit vir ’n hele jaar uitgestel.
En toe, ’n jaar later, met nóg ’n gewone kwartaal-een-verkoue, bevind ek myself weer in daardie selfde dokter se spreekkamer. Toe hy my dié keer sien, het hy gevra: “Is jy nie die jong dame wat ek laas gevra het om ’n sonar te laat doen nie?” Skuldig, maar met ’n onskuldige stem, het ek geantwoord: “Ja, dit is ek, maar ek het net nooit daarby uitgekom nie.” Die dokter het ernstig geraak en dit baie duidelik aan my gestel hoekom ’n mens nie met jou hart moet speel nie.
Dit was eers in die eenvoud van die dokter se woorde dat ek werklik begin besef het hoe belangrik ’n mens se hart is. Tot op daardie oomblik het ek my hart as vanselfsprekend aanvaar as net nóg ’n deel van my liggaam wat sy werk doen sonder dat ek te veel aandag daaraan hoef te gee. Maar toe hy met soveel erns sê dat ’n mens nie met jou hart moet speel nie, het iets in my stil geword. Dit was asof sy woorde direk verby al die geraas gegaan het – reguit na die plek waar ek nog nooit rêrig geluister het nie. Ironies, nè? ’n Mens moenie met jou hart speel nie, verál nie omdat dit die bron is wat jou aan die lewe hou nie. En tog, hoe maklik gee ons dit weg. Hoe vinnig maak ons dit oop, deel ons dit uit asof dit onuitputlik is. Ons gee – soms selfs onbewustelik – vir mense toestemming om daarin rond te trap. Waarom?
Dalk is dit omdat ons so desperaat daarna verlang om gesien, geken en bemin te word dat ons vergeet die hart is nie net die plek van gevoel nie; dis ook ons bron van lewe. Miskien glo ons liefde beteken dat ons hart onvoorwaardelik oop moet wees, selfs wanneer ander nie verantwoordelik daarmee omgaan nie. Maar selfs onvoorwaardelike liefde verg wysheid. Selfs ’n hart vol genade verdien beskerming.
Spreuke 4:23 (AFR83) waarsku ons: “Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe.”
Ek het nooit regtig oor my hart omgegee nie – nie vir wie ek dit gee, wat ek daarin toelaat of hoe ek dit moet bewaar nie. Tot daardie dag toe die dokter, met ’n stem wat nie ruimte vir uitstel gelos het nie, seker gemaak het dat ek onmiddellik ’n afspraak vir die sonar maak.
En daar lê ek toe met ’n wit laken oor my lyf en my hart ontbloot – meer as ooit vantevore. Koue gel word op my bors gesmeer, ’n verrassing wat my aan oggenddou herinner. Die instrument word teen my ribbes gedruk … soekend, luisterend … asof iemand probeer hoor wat my lewe aan die gang hou.
Dit voel na die begin van iets bonatuurliks, iets wat nie net met ’n mediese ondersoek te doen het nie, maar met betekenis. Asof die Here, deur die rooi vlekke wat ek op die skerm sien, my fluisterend waarsku: “Tot hiertoe en nie verder nie.
Meer openlik en eerlik as wat ek nog ooit in enige verhouding, gesprek of gebed was, wys God vir my my hart. ’n Hart wat ek so lank sonder grense uitgedeel het. En in daardie oomblik besef ek: Hierdie hart verdien beskerming. Dit is tyd. Tyd dat Hy dit omvou met genade, genees met waarheid en herstel in liefde.
Vir die eerste keer sien ék dit ook.
En net so, met hierdie openbaring, sê die vrou wat die sonar doen rustig vir my dat op grond van wat sy sien ek ’n opehartoperasie sal moet ondergaan.
My hart het letterlik en figuurlik amper gaan staan … amper was daar geen operasie meer nodig nie.
’n Week later kry ek ’n tweede opinie van ’n kardioloog wat ek en my ma in Pretoria gaan sien. Hy bevestig dat ek gebore is met ’n ASD – ’n atriale septumdefek oftewel ’n gaatjie in die hart, wat hulle nou eers by my op die ouderdom van drie en twintig ontdek het.
Die vraag wat ek myself humoristies afvra, is hoe baie die manne in die verlede al my hart gebreek het, want die grootte van die gaatjie sal bepaal hoe ernstig die operasie gaan wees. Ek het gehoop dit is net ’n klein gaatjie, iets wat maklik met ’n stent reggemaak kon word. Dit het my laat wonder: Is dit nie maar presies hoe ons dikwels met seerkry, pyn en trauma omgaan nie? Ons hoop dit is net iets kleins, iets wat vinnig en stil reggemaak kan word. Maar ons besef nie altyd hoe diep dit werklik sny nie, hoe dit ons denke vorm, ons verhoudings beïnvloed en selfs die manier waarop ons liefhet verander nie.
Ek het ongelukkig ná die angiogram slegte nuus gekry: Die gat was te groot. My hart was al klaar verswak; ek sou ’n opehartoperasie nodig hê. As jy dalk meer wil weet oor hoe hierdie prosedure werk, kan jy gerus vir meneer Google vra. Ek gee jou gou ’n kansie terwyl ek vir my ’n koffie maak.

Kry jou kopie nou by jou naaste boekwinkel of aanlyn: https://loom.ly/FoAR940

Deel die artikel

Méér artikels

Die O’Connor-broers loop hulle vas in vier omgewingsbewuste vroue van Fynbosbaai. ’n Groter gevaar bedreig hulle almal … SullivanHy was al bekommerd hy’t die hele ...

Irma Joubert neem die leser op ’n onweerstaanbare ontdekkingstog – nie net na Engeland en meer as 100 jaar terug in tyd nie, maar ook ...

Scroll to Top