Uittreksel uit Rebekka van Kameeldoornplaas deur Irma Joubert

Irma Joubert neem die leser op ’n onweerstaanbare ontdekkingstog – nie net na Engeland en meer as 100 jaar terug in tyd nie, maar ook op Rebekka se reis na jong vrou word.

Hoofstuk 1
Kimberley, Januarie 1913

Sy het kinderwagter geword voordat sy nog meisie geword het. Toe sy elf jaar oud was.
Haar broer Piet het die dag loop suiker leen. Dikbek, want hy was g’n niks lus vir staan loop in die bloedige son nie.
Hy het sonder die suiker teruggekom. “Antie Viljiers sê Ma moet Ma se eige suiker loop koop dit groei g’n niks op haar rug nie en jy Bek moet vroe mooroggend na die opstal loop gaan ma jy moet eers skoon staan was net so sê antie Viljiers.”
Haar ma het haar hande aan haar voorskoot afgevee, gesug en gesê: “Piet, praat starag.”
Daardie nag lê sy op haar matrassie half onder die kombuistafel. Die slaap bly weg. Wat wil antie Viljiers van haar hê? Die antie is so opstêrs, sy praat net met hulle wanneer daar werk is.
Eindelik word dit oggend. Bekkie was haar silwerskoon in die skotteltjie, vleg haar hare en stap opstal toe, agterdeur toe. Dis eintlik ’n skooldag, maar as antie Viljiers praat, luister mens.
By die opstal is sy nie Bekkie nie, sy is Rebecca, so Ingelsrig gesê. Want antie Viljiers is Ingels, Dokter ook. Net met die bywoners praat hy Afrikaans.
En mens mag nie sê antie Viljiers nie. Dis missus De Villiers of Ma’am. Nie Mêm nie. En beslis nie Viljees soos haar pa-hulle sê nie.
“Now this is Rebecca,” stel missus De Villiers haar voor aan ’n vreemde antie. “Rebecca, we want you to look after these two little girls.”
Gelukkig is Bekkie se Ingels goed. Mister Matthews sê self so en hy weet, want hy is hulle teacher en hy is Ingels. Antie Viljiers en die vreemde antie gee vreeslik baie orders van mag nie dit, mag nie dat, kappies op die koppe, nie naby die damme, pasop vir slange . . .
Mense dink baie keer sy is dom oor sy ’n bywoner is, maar sy is nie dom nie.
“Yes, Mêm, yes, Mêm,” sê sy vir die anties.
Net soos altyd sê antie Viljiers: “Ma’am.”
En Bekkie herhaal mooi netjies: “Ma’am.”
Toe loop hulle uit en los haar alleen.
Die twee girls lyk heeltemal verskillend. Die kleiner een, Beverley, het dun, ligte haartjies en kruip half agter haar sussie weg. Sy suig haar duim. Die ouer een, Margaret, lyk van die begin af plein skoorsoekerig en kwaai. Sy het donker oë en wilde hare en ’n regte wipgathouding. Skoon ’n dwars kind, sien Bekkie gou.
“Would you like to play here with your doll?”

Kry jou kopie nou by jou naaste boekwinkel of aanlyn:

https://loom.ly/TH5qq7E

Margaret gryp die mooie pop en smyt dit op die grond neer. “Go away! Go away!”
Bekkie gaan sit plat op die grond en tel die pop op. “Toemaar, Dolly, don’t cry,” sus sy die pop.
“Her name is not Dolly!”
“O? Nou wat is haar naam dan?”
“Princess.” Margaret pluk die pop uit haar hande en gluur haar kwaai aan. Bekkie weet, as sy nou iets verkeerd doen, gooi die kind haar op die grond neer en skree en skop. Sy het dit self ook ’n keer of drie gedoen, maar haar ma vat nie nonsens nie. Dit het elke keer met ’n oorveeg geëindig, die laaste keer met braaiboud.
Daarom ignoreer sy vir Margaret en draai na Beverley: “Sal ons twee buite gaan speel met jou pop?”
Beverley staan net, sy sê niks. Maar sy neem darem Bekkie se hand en stap saam.
Baie gou sluit Margaret by hulle aan, steeds sleepvoet, maar darem.
Dit word ’n lang, lang dag. Baie langer as ’n skooldag.
Eers die aand hoor sy by haar broer Piet die kuiermense is antie Viljiers se jonger suster en haar man, al die pad uit Ingeland, kan jy glo? Hulle van is Wright, soos in reg. Hulle gaan lank kuier, vul haar pa aan, want daai man moet skryfwerk doen. Miskien twee of drie maande lank.
“Moet ek elke dag agter hulle kinners kyk?” waag Bekkie. In hulle huis word kinders gesien, nie gehoor nie.
Haar ma se donker oë lyk streng. “As miesies Viljiers so sê, ja.”
“Maar wat van my skool?”
Toe gee haar ma haar ’n oorveeg, sommer so skuins teen haar kop. Sy het dit te laat gesien om te kan koes. “Rebekka, hou op met jou astrantgeid. Een woord verder en jy kry braaiboud.”
So pas Bekkie dus kinders op. Sy speel met hulle buite in die koelte van die wildevy en as dit te warm word, lees of vertel sy stories in die koel huis.
“Julle kan my Bekkie noem as julle wil,” sê sy sommer die derde dag al.
Margaret frons kwaai. “Hoekom?”
“Almal noem my so, behalwe as hulle kwaad is.”
“Almal is altyd kwaad vir my,” sê Margaret. “Ek wil ook ’n ander naam hê.”
“Goed, hoe klink Maggie vir jou?”
“Maggie?” Die kind proe-proe aan die naam. “Ja, goed, Maggie. En sy?” Sy knik met haar kop na Beverley se kant. “Bevvie?”
Bekkie skud haar kop effe. “Eerder Bunny. Sy lyk vir my bietjie soos ’n hasie, dan nie?”
Van toe af is die girls Maggie en Bunny. Maar net as hulle alleen is. Vir almal anders bly hulle Margaret en Beverley.
Bunny is baie skaam, sy het steeds nie ’n woord gesê nie. Sy kan ook nie, besluit Bekkie stilweg, want haar duim is permanent in haar mond.
Een aand vra Bekkie vir haar ma: “Hoekom suig party kinners hulle duime?”
“Is as hulle te vroeg vannie bors af staan haal is, is dié. Ryk mense is mos te grand om self te sit voed.”
Dag vir dag pas Bekkie kinders op in plaas van skool toe gaan. Elke dag, van die oggend tot die aand.
“Nou is jy ’n skaapwagter,” koggel haar broer Piet.
“Kinderwagter! Lammerwagter!” herhaal Japie, die bywonerskind van langsaan. Dié ding probeer altoos simpel wees.

**

Bekkie-hulle is nege kinders. Herklaas is die oudste, hy werk in Johannesburg op die myne. Daar kry hy baie geld, maar hy kan nie vir hulle daarvan stuur nie, want in Johannesburg is alles baie duur. So sê Herklaas. Pa sê dis twak en as Herklaas hier opdaag, trek hy sy velle van sy lyf af. Pa gebruik eintlik ’n ander woord, ’n mond-met-seep-uitwas-woord.
Sy is seker Herklaas kan baie vinniger as Pa hardloop, oor Pa se knieg mos. Buitendien, vir wat sal Herklaas nou huis toe kom as hy heeltyd moet hol dat dit bars en dan vat Pa nog sy geld ook? Herklaas is miskien stupid, maar nie dom nie.
Dan volg Trien. Trien sit by die huis, want sy is klaar met standerd ses. Sy het eers antie Viljiers se wasgoed gewas, maar toe sê die antie no thank you, this girl makes a mess of everything. Nou sit Trien en wag vir ’n man.
Ná ’n week vra Bekkie: “Kan Trien nou die twee Ingelse kinners gaan oppas? Sy doen buitendien niks en dan kan ek skool toe gaan.”
Haar ma sug; sy lyk vanoggend moeg. “Trien kan g’n niks staan Ingels praat nie. En moenie jy nou weer met jou astrantgeid staan begin nie.”
Trien frons kwaai. “En ek kyk agter Ma se kleintjies, hoor?”
Om Ma se kleintjies op te pas, is seker erger as die twee Ingelse kinners. Die Ingelse is net twee, haar ma het nog vyf. Twee is darem al in die skool, maar die ander drie is nog te klein. En Baby is nog in die doeke, so, dis regtig nie lekker werk nie.
Ná Trien kom Piet, dan Bekkie en dan die kleintjies. Baby se naam is Baby want sy is die baby. As Ma miskien nog ’n baby kry, sal hierdie Baby seker ook ’n naam kry. Bekkie hoop regtig nie dit gebeur gou nie.
Piet is drie jaar ouer as Bekkie, maar nie vir lank nie, want sy verjaar een van die dae. Toe Piet standerd vier dop, sê Pa Piet kan net so wel by die huis bly en hom help. Nou doen Piet omtrent al Pa se werk op Dokter se plaas. Die plaas se naam is Kameeldoornplaas, want daar is twee groot kameeldoornbome voor die opstal. Dokter boer nie eintlik nie, hy maak al Kimberley se mense gesond. Maar Pa kry steeds die geld by Dokter.
Ná Herklaas, Trien, Piet en Bekkie kom nog vyf kleintjies.
“Nou hoeveel kinders het jou ma?” het mister Matthews gevra toe nog ’n klein Barnard by die skool opdaag. Hy het effe moedeloos geklink.
“Nege, Sir. Ons sou elf gewees het, maar twee is afgesterwe. So, tot nou toe is ons net nege.”
Mister Matthews het sy kop geskud.

**

Naweke kom Dawie huis toe van die groot skool af op Kimberley. Hy is Dokter en antie Viljiers se kind en bietjie ouer as Piet. En naweke dink Piet hy is wie en wat oor hy Dawie se maat is. Hulle twee en Japie, die stupid bywonerseun van langsaan, is ’n bende en hulle het baie pret.
Dawie is eintlik David en sy ma kan vreeslik oor hom piep. Hy is baie slimmer as Piet en Japie saam, maar hulle is sterker, seker oor Dawie kleintyd so sieklik was.
Vandat Bekkie kan onthou, tou sy agter die bende aan.
As ’n mens met die ouer seuns maats wil wees, moet jy alles kan doen wat hulle doen en soms beter wees as hulle. Só kry hulle respekte vir jou, anders bly jy sommer net ’n meisiekind. Skoolwerk tel vir seuns niks nie. Sy kan nie so vinnig hardloop of so ver piepie soos hulle nie, maar sy kan by verre die hoogste in ’n boom klim en sy kan van die hoogste wal af afspring. Natuurlik net as die spruit genoeg water in het, anders val mens jou te pletter vrek.
Antie Viljiers hou niks daarvan dat Dawie met die bywonerskinders speel nie. Daaraan steur Dawie hom min. Hy sê self naweke is vir hom die lekkerste tyd in sy lewe.

Kry jou kopie nou by jou naaste boekwinkel of aanlyn:
https://loom.ly/TH5qq7E

Deel die artikel

Méér artikels

Romanza publiseer liefdesverhale vir lesers wat weet die pad na ware liefde loop nie altyd glad nie, maar is beslis die moeite werd. “Ek soek ...

Vier uiteenlopende vroue, elkeen in ’n ander lewensfase, elkeen met haar eie geite en ’n verlede. Maanschijnbaai bied dalk net die uitkoms wat hulle nodig ...

Scroll to Top