Uittreksel uit Hoe lank is vir altyd? deur Dina Botha

Romanza publiseer liefdesverhale vir lesers wat weet die pad na ware liefde loop nie altyd glad nie, maar is beslis die moeite werd.

“Ek soek ’n vrou. Dis dringend.”
Krista Joubert staan stadig agter haar lessenaar op. Dis bitter selde dat iemand sommer só met die deur in die huis val. Gewoonlik is mans te skaam om openlik te erken dat hulle enigsins so ’n versoek het. Of selfs oorweeg. Met haar oë op die uiters aantreklike vreemdeling se effense blas vel en donker hare gerig, loop sy om haar lessenaar en steek haar hand uit.
“Jy is beslis by die regte plek. Om vir jou ’n maat te vind, is ons besigheid, maar dink jy nie ons moet ons eers aan mekaar voorstel nie?”
Toe die man lank en verlig sug, besef sy sy voortvarendheid spruit uit pure ongemak.
“Ek is jammer. Ek is Andreas Meyer.”
“En ek is Krista Joubert, stigter en bestuurder van Belladonna. Sit gerus.”
Die vreemdeling se oë is ongelooflik blou. En tussen sulke lang donker wimpers is hulle amper te mooi vir ’n man. Sy onderdruk ’n tikkie teleurstelling. Is die aantreklike ou voor haar nog in die kas, dié dat hy so dringend ’n vrou soek? Want met daardie aantreklike bakkies behoort dit glad nie moeilik te wees om een op sy eie te vind nie.
“Kan jy my help en hoe gou?”
Die begeerte om te lag borrel in haar op en dit verg haar uiterste selfbeheersing om kalm voor te kom. “Gewoonlik moet ons eers ’n klompie vorms invul voordat ons so ’n voorspelling kan waag. En dit hang eintlik van verskeie faktore af. ’n Mens vind nie sommer in ’n oogwink jou pasmaat nie. Nie in die regte lewe of in die lewe van ’n dating-agentskap nie.”
“Natuurlik weet ek dit. Waar vul ek die nodige vorms in?”
Sy begin nou suspisieus raak. Só ’n desperate man het nog nie voor haar gesit nie. “Mag ek iets vra? Het jy al buite ’n agentskap iemand probeer vind? Dalk tussen vriende of kollegas gesoek? En . . . wat van kuierplekke?”
“Tot vanoggend toe het ek nie nodig gehad om iemand te soek nie. Ek word nou in ’n ding gedwing. Ek sien jy verstaan nie, Juffrou. Laat ek probeer verduidelik.”

Kry hierdie verhaal en nog vele ander by jou naaste boekwinkel of aanlyn op LAPA se webtuiste:

https://loom.ly/KhFximE

“Asseblief, ek wil graag verstaan.”
“My pa het vanoggend vir my gesê dat indien ek nie binne twee maande getroud is nie, hy nie my erfporsie aan my kan afteken nie. Dit was die enigste voorwaarde in my oorlede oupa se testament; dat ek teen agt en twintig getroud moet wees indien ek my erfporsie wil ontvang. As die boedel se registrateur, is my pa verplig om die voorwaardes en vereistes af te dwing. Daarom is dit belangrik dat ek ’n vrou voor my agt-en-twintigste verjaardag kry.”
Sy het al baie redes aangehoor, maar hierdie een is verreweg die interessantste. “Ek haat dit om te vra, maar wat van ’n gerieflikheidshuwelik? Moontlik met ’n goeie vriendin? Een wat jy kan vertrou.”
“Buite die kwessie. Ek gaan beslis nie so iets van ’n vroulike kennis vra nie.”
“Wanneer word jy agt en twintig?”
“Oor presies agt weke.”
“Jy sit behoorlik in ’n verknorsing.”
“Dit hoef jy my nie te vertel nie.”
Hy kyk haar afwagtend aan, kompleet asof sy sommer daar op die plek ’n haas uit ’n hoed moet pluk.
“Hoe lank wil jy getroud wees? Ek bedoel . . . jy dink tog nie daaraan om dadelik weer te skei nie, of hoe?”
“Nee, seker nie, maar die meisie moet van die begin af weet dat dit nie vir altyd gaan wees nie.”
Sy begin liggies frons en kan dit nie verhelp nie. “Laat ek dit net mooi opsom: Die meisie moet van die begin af weet dat jy so gou moontlik weer van haar gaan skei?”
“Hoekom lyk jy skielik so onseker? Het enige vrou ooit ’n waarborg dat haar huwelik gaan uitwerk?”
“Ek gaan nie doekies omdraai nie. Ek hét skielik my bedenkinge. Die idee agter ons, Belladonna, se dating-agentskap is om uiteindelik elke kliënt se forever maat op te spoor, maar voor jy tot so ’n stap oorgaan, moet jy ’n paar mense ontmoet, uitgaan . . . dalk selfs soen. Hoe weet jy ’n paar nuwe skoene gaan jou pas indien jy dit nie aanpas en daarmee loop nie? Die doelwit is selde om oor alle protokolle te spring en dadelik tot trou te kom. En om spoedig te wil skei is . . . is eintlik vergesog.”
“Ek dog die meeste meisies het net een ding op die brein en dis om getroud te kom? Hoe moeilik kan dit wees om só ’n meisie te vind?”
Haar wenkbroue boog vanself. Sy is nie seker sy het hom reg gehoor nie. Dis nié alle meisies se droom in die lewe om so gou moontlik ’n man te vang nie. Hoe meer sy na die ou voor haar luister, hoe meer kry sy die idee van ’n manlike chauvinis. En dis ligtelik gestel. Gelukkig is daar ’n klousule in elke kontrak wat sê sy is onder geen verpligting om iemand te help nie. Sy hoef nie ’n voornemende kliënt met al sy geite te akkommodeer nie. Miskien is hierdie Andreas Meyer een van daardie gevalle waar sy haar regte sommer van die begin af moet uitoefen. En sommer ook haar instinkte vertrou. Andreas gaan ’n moeilike kliënt wees en sy is nie seker hulle kan hom hanteer nie.
“Ek is nie so seker ons is die regte agentskap vir jou nie. Jy verwag ’n . . . e . . . tref-en-trap-situasie, terwyl ons meer op die lang termyn en volhoubaarheid konsentreer.”
“H’mm, ek het natuurlik so ’n houding voorsien. Wat daarvan as ek jou dié vir jou dienste aanbied, mét die belofte van ’n bonus – ekwivalent aan die bedrag? Sal dit jou dalk oortuig om my versoek in ’n ander lig te sien?”
Hy haal ’n stukkie papier uit sy baadjiesak en stoot dit oor die tafel. Haar oë rek en sy is eers nie seker hoeveel nulle sy agter die eerste een sien nie. Sy fokus egter en onderdruk haar impulsiwiteit om sommer dadelik ja te sê. Sy pen hom met ’n koel en reguit blik vas in sy stoel en stoot die stukkie papier terug oor die tafel. “Iets wat jy sommer uit die staanspoor omtrent Belladonna moet verstaan, meneer Meyer, is: Ons bou ons besigheid op eerlikheid, deursigtigheid en integriteit. Geld is nie ons grootste dryfveer nie. Maar ek is bereid om jou geval en jou aanbod met my vennote te bespreek. Net dan sal ek jou sê wat ek besluit het.”
Is dit ’n tikkie bewondering wat sy vlugtig in sy oë gesien het? Dit maak eintlik nie saak wat sy sien nie, vir Andreas Meyer gaan sy in elk geval met handskoene hanteer. Sy staan op, loop om die tafel en steek haar hand uit.
Hy wil groet, maar sy sê: “Jou visitekaartjie, asseblief.”
“O, ek het een byderhand.” Hy haal een uit ’n plat goue houertjie. Sy hande en naels is amper beter as hare versorg, wat haar dadelik weer op haar hoede stel. Wat gaan regtig hier aan?
“Wat van die vorms wat ingevul moet word?”
“Dis onnodig in dié stadium. Ná my gesprek met my vennote sal ek jou laat weet of jou registrasie aanvaar gaan word of nie. En nee, moet jou nie bekommer nie. Ons sal nie tyd mors nie. Jy behoort voor die einde van die dag ’n antwoord te ontvang.” Sy steek haar hand ’n tweede keer uit en hulle skud kort en saaklik blad.
Andreas knik, draai om en verlaat haar kantoor.
Sy het nog nooit ’n kliënt met soveel gemengde gevoelens agternagekyk nie. Hy kan hulle maatskappy miskien ’n goeie finansiële hupstoot gee, maar sy voel in haar beenmurg hy bring ook moeilikheid. Dis nog net nie duidelik hoe nie.

Kry hierdie verhaal en nog vele ander by jou naaste boekwinkel of aanlyn op LAPA se webtuiste: https://loom.ly/KhFximE

Deel die artikel

Méér artikels

Irma Joubert neem die leser op ’n onweerstaanbare ontdekkingstog – nie net na Engeland en meer as 100 jaar terug in tyd nie, maar ook ...

Vier uiteenlopende vroue, elkeen in ’n ander lewensfase, elkeen met haar eie geite en ’n verlede. Maanschijnbaai bied dalk net die uitkoms wat hulle nodig ...

Scroll to Top