Vasgevang en opsoek na verandering

Vasgevang en opsoek na verandering 

Soms voel ons vasgevang in ’n plek of situasie waar ons nie wil wees nie, en ons het geen idee hoe ons dit moet verander nie. 

Vasgevang waar jy nie wil wees nie 

’n Paar jaar gelede het ons een aand pizzas bestel wat by ons huis afgelewer moes word. Met die pizza-man se aankoms kon ek sien hy wou gesels. Alhoewel ek hom nooit uitgevra het of hy voltyds pizzas aflewer en of dit sy droomwerk is nie, was dit asof hy doelbewus die gesprek in daardie rigting gestuur ...

Soms voel ons vasgevang in ’n plek of situasie waar ons nie wil wees nie, en ons het geen idee hoe ons dit moet verander nie. 

Vasgevang waar jy nie wil wees nie 

’n Paar jaar gelede het ons een aand pizzas bestel wat by ons huis afgelewer moes word. Met die pizza-man se aankoms kon ek sien hy wou gesels. Alhoewel ek hom nooit uitgevra het of hy voltyds pizzas aflewer en of dit sy droomwerk is nie, was dit asof hy doelbewus die gesprek in daardie rigting gestuur het. Hy het gesê: “Hierdie is nie my voltydse werk nie. Ek doen dit maar net deeltyds. Ek het aansoek gedoen om ’n ander werk, so ek gaan hopelik binnekort iets anders doen.”

In hierdie kort gesprek met my, ’n totale vreemdeling, het die pizza-man iets van sy diepste wese geopenbaar. Hy was skaam oor waar hy homself in sy lewe bevind. Hy sou waarskynlik enigiets doen om dit te verander. Hy het magteloos gevoel en het heel moontlik geen idee gehad hoe om sy huidige situasie te verander nie.

Ek het nogal gewonder watter tipe gesprekke hy by sy huis voer. Het hy nog by sy ouers gewoon? Het hulle druk op hom geplaas om ’n ander werk te kry? Het hy dalk al ’n werk gehad en dit verloor? Kon sy ouers dalk nooit bekostig dat hy moet gaan studeer nie?

Die feite van die situasie is nie regtig belangrik nie. Wat ek wel weet, is dat daar min van ons is wat nog nie soos hierdie pizza-man gevoel het nie: Vasgevang in ’n plek of situasie waar ons nie wil wees nie, en ons het geen idee hoe ons dit moet verander nie.

Só ’n plek vul ons maklik met vrees, frustrasie, stres en selfs depressie. Dit beroof ons van ons vreugde en vrede, en kan ons selfs voel asof ons lewe in ’n donker gat afspiraal.

Hou vas aan God wanneer jy magteloos voel 

In die Woord is daar mense wat hulleself op hierdie tipe plekke bevind het: Josef in die tronk, Dawid in die grot waar hy vir sy lewe wegkruip, Jona in die vis se maag, Esther in die gang ongenooid op pad na die koning, Abraham op sy bejaarde knieë voor God sonder ’n seun.

In Psalm 40:2-4 lees ons: “Ek het gesmag na die hulp van die Here. Hy het na my toe afgebuig en my hulpgeroep gehoor. Hy het my uitgetrek uit die put van die dood, uit die slymerige modder, my op ’n rots laat staan en my weer op vaste grond laat loop. Hy het my ’n nuwe lied in die mond gelê, ’n loflied vir ons God. Baie sal daarvan hoor en Hom die eer toebring, hulle sal op die Here vertrou!”

Al voel jy soms moeg en afgemat, kan ons vashou aan die woorde in Jesaja 40:28-31: “Weet jy dan nie, het jy nog nie gehoor nie? Die Here is die ewige God, Skepper van die hele aarde. Hy word nie moeg nie, Hy raak nie afgemat nie en sy insig is ondeurgrondelik. Hy gee die vermoeides krag, Hy versterk dié wat nie meer kan nie … Dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie.”

Voel jy vandag soos die pizza-man? Onthou, verlies is die seerste net voordat die genesing begin. God se krag en deurbraak is gewoonlik die duidelikste wanneer ons gestroop is van ons eie krag en planne. En wanneer ons ons lewens aan Hom oorgee, trek Hy ons uit die put en sit ons neer op ’n plek waar ons die dag met nuwe hoop en krag kan aandurf.

Deel die artikel

Méér artikels

Jy droom om iets merkwaardig met jou lewe te doen. CATHERINE VAN HEERDEN help jou bepaal of jou ambisie die tyd werd is wat jy ...

Een van ons grootste struikelblokke in die lewe is konfrontasie, en dit bloot omdat ons “die vrede wil bewaar”. Ons loop op eiers oor kwessies ...

Scroll to Top