As dominee se kind moes Bennie Fourie leer om sy eie geloof te kies – en om, soos sy pa, die lewe met humor, vryheid en oop oë te benader en voluit te leef.
’n Mens leef maar met oë op jou as jou pa ’n dominee is. Maar ek was baie geseënd om ouers te hê wat my en my broers vlerke gegee het om onsself te wees. Daar was nie druk om ’n spesifieke beeld te handhaaf nie.
Toe ek die pastoriehuis verlaat, was dit vir my ’n groot aanpassing. Ek moes besef dat geloof uiteindelik my eie keuse is. Jou pa kan ’n dominee wees. jou broers en almal om jou kan gelowig wees. maar jy moet self kies wat jy in jou hart glo.
My pa het my ook geleer om die lewe lig te hou. Hy was verskriklik snaaks en het altyd gevra: “Is daar lewe voor die dood?”
Ek dink dit is ’n belangrike vraag. Is ons besig om regtig te lewe? Ek wil wakker wees, geleenthede raaksien en ander help. Dis ook iets wat ek eendag vir my laaitie, Karoo, wil leer.
![[OUDIO] Hy moet meer word en jy minder](https://voelgoed.co.za/wp-content/uploads/2023/05/Karien_Ronde_Gesigfoto-1.webp)