Daar is sekere basiese behoeftes en beginsels wat ons in plek moet hê in ons lewens om voluit te kan leef. Leer hoe om balans terug te bring in jou bestaan.
Die Amerikaanse sielkundige Abraham Harold Maslow wou verstaan wat mense motiveer.
Hy het geglo dat elke mens ’n stel motiveringsisteme het wat nie verband hou met vergoeding of onbewustelike behoeftes nie. Maslow het toe met sy bekende “hiërargie van behoeftes” vorendag gekom.
Hierdie 5-vlak-model kan verdeel word in basiese en sielkundige behoeftes wat oorlewing verseker en ontwikkelingsbehoeftes wat tot selfaktualisering lei.
Maslow het geredeneer dat basiese behoeftes mense kan motiveer wanneer dit ontbreek. Hy het verder vasgestel dat die begeerte om hierdie behoeftes te vervul, sterker geword het hoe langer dit onvervuld was. Die behoefte aan kos neem byvoorbeeld toe hoe langer jy honger is.
Eers wanneer ’n mens se basiese behoeftes vervul is, kan jy na ’n hoër vlak van vervulling beweeg.
Die vyf vlakke en voorbeelde van elemente in die vlakke kan só ingedeel word:
Basiese behoeftes
Fisiologiese behoeftes: kos, water, warmte en rus
Veiligheidsbehoeftes: algemene sekuriteit en veiligheid
Sielkundige behoeftes
Behoefte aan liefde en om te behoort: intieme verhoudings en vriendskappe
Behoefte aan selfagting: die gevoel van vervulling en dat jy iets bereik
Selfvervullingsbehoeftes
Selfaktualisering: om jou volle potensiaal te bereik
Bring harmonie terug in jou bestaan in
Alle mense is daartoe in staat om van die vervulling van hul basiese behoeftes af te beweeg na ’n vlak van algemene en totale vervulling van hul eie potensiaal. Die vordering hiervan kan egter onderbreek word wanneer iemand vashaak by basiese behoeftes wat nie bevredig word nie.
Maslow was veral geïnteresseerd in menslike potensiaal en hoe ons dit uiteindelik kan verwesenlik. Hy het menslike gedrag bestudeer deur te fokus op dinge wat reg gebeur – en nie soseer op mislukkings nie.
Hoe bring dit ons by balans uit? Net soos in Maslow se “hiërargie van behoeftes” is daar sekere basiese beginsels wat ons in plek moet hê in ons lewens. Dit gaan nie soseer om net te kan oorleef nie, maar ook om voluit te kan leef.
Wanneer jy stilstaan en jou behoeftes volgens Maslow se model prioritiseer, en strewe om tot op die hoogste vlak te groei, bring dit outomaties ’n vorm van balans in jou lewe. Jy sal aan die hand van hierdie model die belangrikheid van jou beroep, verhoudings en toekomsvisies kan opweeg en elkeen se afsonderlike bydrae tot jou lewe kan evalueer.
Dit is soms nodig om voorraad op te neem van die “afskeep”-areas in jou lewe. Sodra jy hieraan begin werk, bring jy balans terug in jou bestaan. Wanneer jy jouself weer hoor sê “ek is te besig”, gaan meet jou vlakke van funksionering aan die hand van Maslow.
Op die ou einde is daar sekere goed waarvoor daar maar net eenvoudig altyd tyd móét wees.