SERAHNI SYMINGTON, Voelgoed se ouerskapkenner, se besige skedule kry haar soms onder. Dis belangrik om tyd te maak, asem te skep en jou ewewig te herwin.

Vind ’n balans tussen jou pligte en ontspanning

Die moderne lewe is baie besig en ’n vrou se rol het aansienlik verander. Deesdae is jy nie net ’n ma en huweliksmaat nie, maar ook ’n kollega of selfs ’n besigheidseienaar.

Om al die pligte – wat hierdie onderskeie rolle behels – te balanseer, kan ’n groot uitdaging wees.

Daarom is dit belangrik om tyd te maak vir jouself sodat jy nie jou menswees in die proses verloor nie.

Dit is belangrik om elke dag voluit te leef. Ek glo dat die lewe geleef moet word. As jy vasgevang word in ’n magdom doenlysies, loop jy dit wat die lewe bied heeltemal mis. Dit is hoekom dit belangrik is om die balans reg te kry.

As jy hard werk om jou verpligtinge na te kom en produktief te wees, dan moet jy seker maak dat daar ook tyd is om te ontspan. Dit is hier waar jy nodig het om jouself ook ’n prioriteit te maak.

Moenie ophou soek na die perfekte balans nie. As ek eerlik wil wees, moet ek erken dat ek dit nie altyd regkry om by alles uit te kom nie. Maar ek gee nooit moed op nie, want jy het baie daarvan nodig om jou skedule te laat klop.

Soms moet jy oor en oor beplan, sodat daar tyd is om te stap langs die see, om jou naels te verf of ’n middagslapie te vat. Die groot uitdaging is om te hou by die tyd wat jy vir jouself opsy sit.

Kry ’n roetine wat jou in beheer van jou lewe laat voel. Al die balle wat jy in die lug probeer hou, moet op die een of ander tyd neergesit word sodat jy kan rus, sonder dat jou kaarthuis ineen stort.

Selfsorg help jou om stres beter te hanteer

Roetine is soos grense, dit is bakens wat vir jou sê wanneer aktiwiteite begin en eindig. Dit gee vir ons ’n mate van ritme en daarsonder raak dinge onvoorspelbaar en chaoties.

Moenie bang wees om vir jouself om te gee nie. Wanneer jy jouself as belangrik ag, beteken dit jy heg waarde aan jouself. Baie mense is egter bang hiervoor, want ons is grootgemaak om ander te dien en hulle belange voorop te stel.

Maar selfs in die Bybel sê dit dat jy jou naaste moet liefhê soos jouself.

Tyd vir jouself is dus nie net lekker nie, maar noodsaaklik, want dit laat ons onsself liefhê sodat ons vir ander dieselfde kan gee.

Knyp elke dag ’n tydjie vir jouself af. Ek probeer elke dag “steeloomblikke” inwerk vir selfrefleksie. Dit gebeur so tussendeur kliënte of wanneer ek by die werk kom en ’n lekker beker koffie is altyd byderhand.

Tyd in die buitelug en om fiks te bly, is vir my belangrik; dus probeer ek om elke Saterdagoggend te gaan draf. ’n Luilekker bad, om my naels te verf en om saam met my gesin vakansie te hou, werk ook soos ’n bom.

Selfsorg kan jou help om stres en krisisse beter te hanteer. Wanneer ek nie na myself omsien nie, kry die mense na aan my die swaarste, omdat ek my stres en frustrasie op hulle projekteer.

Deur tyd opsy te sit om na myself om te sien, kry ek kans om deur my emosies te werk om ’n meer geduldige ma en vrou te wees.

Selfs wanneer onvoorsiene krisisse opduik, maak ek ’n punt daarvan om my ek-tyd te herskeduleer om te verseker dat ek in ritme bly en nie moed verloor nie.