“Eensaamheid is ’n aaklige gevoel wat alle mense op die een of ander tyd in hulle lewe ervaar. Dit kan ervaar word wanneer jy alleen is of selfs wanneer jy omring is deur mense,” het die radiopersoonlikheid WANDA BAM tydens ’n #MentorMaandag lewensafrigtingsessie gesê.
Ek het altyd gedink dat eensaamheid eksklusief is vir mense wat alleen woon met niemand anders in die omtrek nie, maar soms is eensaamheid meer akuut wanneer jy in ’n oorvol plek is.
Niemand weet hoe jy binne voel nie en dit is ongelooflik om te sien hoe mense met hulle lewe aangaan. Hulle besef nie dat daar iemand naby aan hulle is nie met ’n onbeskryflike seer wat hulle binne in hulle menswees dra.
Die Bybel is ’n bron van troos vir eensaamheid
Ons ken nie altyd mekaar se pyn nie. Dalk het jy jou ouers of familie verloor. Dalk het jy jou eggenoot verloor, jou maat, iemand saam met wie jy gedink het jy gaan oud word. Dit is ’n eensaamheid wat jy vir niemand kan beskryf nie.
Die Bybel sê daar is baie troos vir eensame mense. Die grootste troos is dat God verstaan.
Ook die Here Jesus het eensaamheid geken. Sy eie volk het Hom verwerp. In Johannes 1:11 lees ons: “Hy het na sy eiendom gekom, en sy eie mense het Hom nie aangeneem nie.” Sy dissipels het Hom in Sy uur van nood in die steek gelaat en Judas het Hom verraai.
Uiteindelik hang Hy alleen aan die kruis, tussen misdadigers. Dan word alles donker om Hom en uit Sy benoude siel word daardie woorde gedruk: “My God, my God, waarom het U My verlaat?”
Jesus het Sy stryd alleen gestry en Sy kruis werklik alleen gedra. Op Golgota was Hy die eensame worstelaar, van God en van mense verlate. Dit is eensaam en alleen.
Dit het Hy gedoen sodat ons kan weet die pyn en eensaamheid wat Hy verduur het, hoef ons nooit weer te ervaar nie. Ook in my eensaamheid kan ek onthou dat Jesus naby is. Hy verstaan en Hy antwoord op my noodgeroep.
Bou ’n verhouding met God en met ander mense
Jy is nie vergete nie, al voel jy dalk só. Hier op aarde is ons nooit alleen nie, ons is nie vergete of verwerp nie. God is by Sy kinders. Hy is by jóú. Jy is in God se oog en hart vir ewig.
Die eerste ding wat ek ervaar het in my eie lewe is ek moet meer aandag aan my verhouding met God gee. Adam en Eva se eensaamheid het gekom toe hulle verhouding met God versteur was.
Dalk het jou verhouding met God so ’n bietjie afgekoel en nou ervaar jy dit, hierdie gevoel van verworpenheid en doelloosheid, juis omdat ons van God begin wegbeweeg het.
Ons raak besig of partykeer is ons kwaad vir mense en dan is dit so moeilik om jou perspektief en ewewig te behou en steeds intiem en naby aan God te bly. Niks gaan jou eensaamheid so wegneem soos jou verhouding met God nie.
Om eensaamheid te oorkom, sal ek ook moet besef dat ek die inisiatief moet neem. Vat jouself aan jou kragie en kry jouself by die volgende verjaarsdaguitnodiging – daar waar die vriendinne saam gaan koffie drink of saam iets doen. Moenie weer die een wees wat sê ek kan nie, ek is nie lus nie of ek weet nie of ek regtig daar moet wees nie.
Gee aan jouself die geleentheid om weer vriendskappe en liefde te kan ervaar.
Wees die oplossing om ander se eensaamheid te verdryf
Jy moet verantwoordelikheid neem vir jou eie situasie. Dit help nie jy blameer iemand anders nie. Dit is jou lewe wat by jou verbystap. Jy moet die seer in die oë kyk, anders gaan dit jou weghou van vriendskappe en om mense naby aan jou toe te laat.
Jy moet ook vergewe wat jy voel die oorsaak van jou eensaamheid is. Dit is hier waar jou genesing begin. Moenie passief sit en wag nie. Moenie wag dat ander mense iets moet doen oor jou eensaamheid nie, jy moet dit self begin doen.
Nadat jy jou hart uitgepraat het met God, kan jy ook jou hart uitpraat teenoor ’n ander persoon. Ons grootste stryd is die houding wat ons teenoor ons eensaamheid het. ’n Groot deel van mense se eensaamheid lê daarin dat hulle nie hulleself kan deel met ander nie.
Jy moet self kies om werklik jouself te wees. Om jou gevoelens, jou probleme en jou vreugdes met ander te begin deel. As jy dit nie gaan doen nie, is die wêreld regtig armer, want God het net één jy gemaak.
Jy word geroep om die verskil te wees daar buite, om jouself bloot te stel sodat iemand anders se eensaamheid verdryf kan word. In die proses vind jy dan dat die lig van God ook oor jou val. Word deel van die groter prentjie van liefde en vriendskap.