“Drie dinge beroof ons meestal van ons vrede en vreugde. Omstandighede raak buite ons beheer, mense verander nie soos ons graag wil hê nie, en probleme word nie genoegsaam verduidelik nie. Dit lei tot uiterste spanning,” sê die leefstylafrigter MICKEY ROOTHMAN.
Ons kan die slegte dinge wat met ons gebeur, dit wat vir ons voel soos iets wat seermaak en iets wat ’n struikelblok is, gebruik om te groei.
Waarom is dit dat wanneer ons deur moeilike situasies gaan, veral situasies wat die hart so ’n bietjie seermaak, ons struikelblokke in ons lewe ervaar?
Ons voel dikwels ons sit vas in ’n situasie of dat daar geen uitkoms is vir die situasie waarin ons is nie. Dit is ’n algemene ding vir baie mense.
Ek is self al deur baie situasies waar dit vir my gevoel het asof hierdie vir ewig gaan hou. Dat daar geen oplossing is nie.
Fokus op vooruitgang eerder as op die probleem
Ons grootste probleem is dat ons vaskyk in die situasie waarin ons ons bevind. Ons kyk vas in die besonderhede van die storie.
Dit wat gebeur het. Dit wat gesê is. Dit wat aangaan. Ons praat met mense daaroor en dink die hele tyd daaroor.
Wat gebeur wanneer ons fokus op die seer, of die pyn, of die hartseer, of op die struikelblok of die probleem? Ons sien slegs dit.
Dit is asof ’n mens tonnelvisie kry. Wanneer jy net na die probleem kyk, is dit baie moeilik om die oplossing te sien. ’n Mens voel vasgevang in die situasie.
Hoe meer ons fokus op ’n spesifieke situasie, hoe meer paniekbevange word ons, want ons brein is so ingestel. Dit wil jou beskerm en probeer voorberei op die ergste wat kan gebeur.
As ons kan verstaan hoe ons dink en wie ons is, begin dit vir ons sin maak dat wanneer iets in ons lewe gebeur wat vir ons moeilik lyk of voel, ons negatief begin voel.
Kies om te groei deur struikelblokke en seerkry
Die Here het jou lewenstorie geskryf nog voordat jy gebore is. Hy weet wat gaan gebeur. Hy het reeds die uitkoms gegee vir alle dinge wat moontlik gaan gebeur en Hy laat dit ten goede meewerk vir ons.
Ons kan eintlik net sê: “Ek verstaan dalk nie nou nie, maar iewers weet ek is daar ’n goeie einde op pad.”
Dit is nie altyd nodig vir ons om deur pyn en moeilike tye te groei nie. Maar wanneer ons deur pyn en struikelblokke gaan, is daar altyd ’n plan. Uiteindelik is daar altyd vooruitgang. Ons moet net kies hoe ons dit ervaar.
Ons kies of ons gaan groei deur ons struikelblokke en of ons gaan vashaak by daardie struikelblok. Of ons voor daardie struikelblok te staan gaan kom in ons lewe – wanneer ons dalk nie gekies het om dit te gebruik as iets wat ons kan help om vorentoe te beweeg en te groei nie.
Daar is ’n paar praktiese stappe wat jy kan doen om enige bestaande situasie, of situasie waardeur jy reeds is, in iets positiefs te verander. Om uiteindelik ’n deurbraak te maak in ’n situasie wat vol pyn of hartseer is, of soos ’n struikelblok voel.
Vind genesing deur te leer uit moeilike situasies
Laat jouself toe om jou gevoelens te voel. Ons het ’n liggaam wat kan voel. Ons kan huil en ons het emosies. Die feit dat ons dit het, beteken dit dien ’n doel.
Van kleins af word ons geleer dat gevoelens iets is waaroor ons skaam moet voel. Dis iets wat ons moet wegsteek of van af moet wegskram.
Ek wil jou aanmoedig om te voel wat jy voel. Laat jouself toe om daardeur te gaan. Om daardeur te werk. Sodat jy dit kan prosesseer.
’n Deel hiervan is om te praat met die Here. Ons is geneig om met ander mense oor ons gevoelens te praat, maar wanneer ons met die Here gaan praat, kan ons voel dat iets van ons afgelig word, want Hy luister.
Haal jou oë van die besonderhede van die storie af. Wanneer ons op die besonderhede van die storie fokus, sukkel ons om te sien hoe ’n situasie ons kan help groei as mens en vooruitgang kan bewerkstellig.
Vra eerder: Wat kan ek uit hierdie situasie leer? Hoe kan ek groei as mens? Waar lê genesing?
Onthou om genade te hê met jouself. Ons almal is net mens, ons almal het gevoelens. Dit is oukei vir jou om partykeer hartseer te voel.