Die Here is in sy heilige tempel: almal op aarde moet in sy teenwoordigheid stil wees! (Habakkuk 2:20)
Die wêreld om ons is boordensvol geraas. Stilte het feitlik ’n onbekombare luukse geword. Tog het elke mens ’n behoefte aan stilte; aan die kalmte en rustigheid wat net in God se teenwoordigheid ervaar kan word.
“Ons het oomblikke van stilte, afsondering en oordenking bitter nodig om orde, heling, rustigheid en perspektief in ons lewe te bring. Ongelukkig weet die meeste moderne mense nie meer regtig wat stilte beteken nie. Ons besef ook nie die noodsaak daarvan om op ’n daaglikse basis tye van stilte in ons lewe te skep nie. Maar as ons gebalanseerd wil lewe, sal ons moet tyd maak om stil te word,” skryf Braam Hanekom.
Dit is dus noodsaaklik vir jou eie sieleheil dat jy, ten spyte van jou druk program, tyd sal máák om stil te word in God se teenwoordigheid. Wanneer dinge vir jou te veel word, is die beste ding wat jy kan doen om voor God stil te wees.
Neem gerus Jesus se uitnodiging in Matteus 11:28-30 aan: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en my las is lig.”
By Hom sal jy die stilte en krag kry wat jy nodig het. God sal jou deur sy Gees wys hoe jy moet leef. Die Heilige Gees sluit die Woord vir jou oop en wys jou hoe om volgens God se wil te bid.
Mag jy ook stil word en rus vind in God se teenwoordigheid wanneer jóú lewenslaste jou wil onderkry.