Dit is nie aan die mens self te danke dat hy kan eet en drink en onder al sy arbeid nog die goeie kan geniet nie. Ek het ingesien dat dit ’n gawe uit die hand van God is.
(Prediker 2:24)
Al die goeie dinge wat deel van jou lewe uitmaak, is alles gawes uit God se hand. Jy het niks self verdien nie. Dit is Hy wat toelaat dat jy jou lewe kan geniet. Dit is ook Hy wat vir jou die geestelike én finansiële vermoëns gee om dit te kan doen.
Wie maak jou so belangrik? En wat besit jy wat jy nie ontvang het nie? As jy dit dan ontvang het, waarop stel jy jou so aan asof jy dit nie ontvang het nie? So vra Paulus vir die gemeente in Korinte.
Juis omdat jy alles wat jy het van God ontvang het (en dit sluit jou verstand, voorkoms, gewildheid én besittings in), mag jy nooit grootkop raak oor hierdie vermoëns nie. Alles is bloot presente wat jy uit God se hand kry.
Dit is dus nodig dat jy afhanklik van God sal leef en altyd die erkenning aan Hom sal gee vir alle dinge wat jy van Hom ontvang het. Waak daarteen dat jy hoogmoedig sal word as jy rykdom of besondere gawes van God gekry het. Gebruik eerder jou geld en goed (wat eintlik tog maar God s’n is) om sy koninkryk uit te brei en Hom te eer.
God gee verlossing gratis vir jou. Maar as jy nie daarna jou geloof met jou dade bewys uit dankbaarheid dat Hy jou gered het nie, is daar groot fout met jou. Juis omdat God jou uit die dood gered het, behoort jy nou vir Hom te leef en die dinge te doen wat Hy van sy kinders verwag.
Mag jy elke dag opnuut besef dat alles wat jy het én is ’n geskenk uit God se hand is.